ADVERTISEMENT:

 

 
 

Joubert Fourie (links) ontvang die toekenning as nasionale Meester Suiwelboer van die Jaar vir 2013 van Mike Mouton van DeLaval (borg). Regs op die foto is Willa Vorster, die kuddebestuurder van Limpopo Melkery. Die toekenning is verlede week in Pretoria gedoen. Foto verskaf.

Limpopo Melkery is beste in Suid-Afrika

Date: 28 March 2014 By: Nic Hoffmann

Limpopo Melkery van Makhado (Louis Trichardt) het verlede Woensdag, 19 Maart, ‘n besondere prestasie behaal en is aangewys as die Nasionale Meester Suiwelboer van die Jaar.

Joubert Fourie, een van die direkteure van dié bekende plaaslike besigheid, het trots vertel dat dit die hoogste toekenning is wat enige suiwelboer in die land kan ontvang. Die beoordeling word gedoen deur die Meester Suiwelboer Organisasie, wat spesiaal gestig is om die kwaliteit van alle suiwelboere se produkte op beide streekvlak en nasionaal te beoordeel. Suiwelboere – die wat met melkbeeste boer en die diere melk – stuur elke vyf weke melkmonsters en die gepaardgaande syfers aan die organisasie, wat dit dan ontleed en ‘n verslag terugstuur aan die boere. Die melk word getoets in terme van bottervet, proteïne, melk-urium-stikstof inhoud en somatiese seltellings.

‘n Aantal finaliste word in elke streek aangewys. Dié finaliste word dan besoek deur ‘n hele span spesialiste wat verskillende aspekte van die boerdery kom ondersoek. Die span kom kyk na faktore soos teling, higiëne, finansiële sake, voeding en kudde-instandhouding, asook ‘n oorkoepelende, algemene indruk. Elkeen skryf ‘n verslag en ken punte toe na afloop van die daglange besoek.

Op grond van dié verslae word daar ‘n wenner aangewys wat deurgaan na die nasionale kompetisie. Daar ding die vyf streekwenners dan onderling mee en ‘n nasionale wenner word aangewys deur ‘n komitee wat spesiaal saamgestel is. Hierdie jaar het Limpopo Melkery die Noordstreek (Noordwes, Gauteng, Mpumalanga en Limpopo Provinsie) op nasionale vlak verteenwoordig en met die louere weggestap.

Volgens Joubert is dié toekenning net genade wat hy en sy uiters bekwame en toegewyde bestuurspan ontvang het. Saam met hom aan die stuur van sake is Willa Vorster, die kuddebestuurder, en dié se vrou, Petro, wat soos ‘n “ma” vir die koeie is. Adel Smit, met haar belangrike werk om al die data te versamel en op datum te hou, verdien ook groot lof. Die ander toesighouers, Alina Kwinda, Phineas Marubini, Solomon Ndou, Ronnie Mudzanani en Liebram Makoena, lewer ook elkeen ‘n besondere bydrae om sake glad te laat verloop.

Dié span doen bepaald iets reg, want hulle produk het nie net aan hulle die gesogte nasionale toekenning besorg nie, maar verskeie instansies wat landbou- en aanverwante navorsing doen, wil hulle gebruik om proewe te doen om hierdie hoogs-gespesialiseerde en wetenskaplike bedryf nog verder uit te bou. Dit is alleen moontlik as die bedryf hulle metodes en syfers vertrou.

Tans is Limpopo Melkery besig om ‘n nuwe melkstal op te rig, wat beteken dat hulle nog beter sal kan presteer. Waar die huidige melkstal 18 uur per dag funksioneer, met 700 Holstein koeie wat by 26 punte driekeer per dag gemelk kan word (sowat 120 per uur), sal die nuwe stal voorsiening maak vir 64 punte, wat produksie sal opstoot tot 380 koeie per uur. Elke koei sal outomaties geweeg en haar voerinname gereguleer word volgens haar behoeftes. Daar kan dus baie gouer bepaal word of ‘n koei siek is indien haar voerinname en melkproduksie afneem – alles deel van die proses.

 
 
 

Viewed: 377

 

 
 

Nic Hoffmann

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT