ADVERTISEMENT:

 

 
 

Huise onder Rissikstraat blyk of hulle in die algemeen te hoog gewaardeer is. Normaalweg is die munisipale waardasie onder die markwaardasie. Hierdie eindom is vir R1.1 miljoen deur die munisipaliteit waardeer.

Waardasieskokke wag

Date: 28 February 2014 By: Linda van der Westhuizen

Die Makhado Munisipaliteit se nuwe waardasierol sorg reeds vir heelwat skokke.

“Die munisipaliteit het ons huis vir R3.6 miljoen gewaardeer,” was die skok wat een inwoner met ‘n huis vlak bo die onderdorp van Makhado (Louis Trichardt) ontvang het.

“Die mense van die dorp moet asseblief wakkerskrik en na hulle waardasies gaan kyk,” sê mnr. Frans Bezuidenhout. Hy het die R3.6 miljoen skok gekry vir ‘n huis net bo Rissikstraat. Bertus, Bezuidenhout se seun, woon ook daar en is al die afgelope 12 jaar in die eiendomsbedryf. “Huise in hierdie area verkoop vir onder R1 miljoen en normaalweg is die munisipale waardasie laer as die markwaardasie,” het Bertus gesê. Hy het darem die humor daarin gesien en gewonder of hulle nie nou maar die huis vir R3.6 miljoen moet verkoop nie.

Die nuwe waardasie beteken dat die Bezuidenhouts maandeliks ‘n eiendomsbelasting van R1 800 moet betaal, want die eiendomsbelasting werk uit op sowat R500 vir elke R1 000 000. Voeg daarby die reuse maandelikse bedrag vir elektrisiteit en die kleiner bedrag vir water en dit beloop al ‘n aardige sommetjie uit die belastingbetaler se sak.

Frans het onmiddellik ná hy die skokkende waardasie gesien het, ‘n beswaarvorm ingevul en by die munisipaliteit ingehandig.

Nog een van talle inwoners wat gaan beswaar aanteken, is me. Anne-Marie Khune. Sy voel dat R1.38 miljoen heeltemal te veel is vir haar beskeie twee slaapkamerhuisie onder Rissikstraat. Anne-Marie vertel dat ‘n praghuis in haar omgewing pas vir R2.6miljoen verkoop is. Dié betrokke huis se munisipale waardasie is egter R1.3 miljoen en die huis het vyf of meer slaapkamers en die erf is meer as twee maal so groot soos Kuhne s’n.

“Dit maak nie sin nie!” is die gewaarwording wat opkom wanneer vlugtig na die waardasierol gekyk word. Dit wil voorkom of die onderdorp groot skokke gaan kry, huiseienaars na aan skuldbult ook aan die pen gaan ry, terwyl skuldbult self meestal tegemoetgekom is. Die nuwe uitbreiding se skuldbult loop ook nie regtig deur nie.

In die algemeen is huise volgens die nuwe waardasies onder R1 miljoen so skaars soos hoendertande.

‘n Voorbeeld van die eienaardige nuwe waardasies, is Schimpersingel in skuldbult. Van die 20 beboude residensiële erwe daar, is 14 eiendomme onder R2 miljoen gewaardeer, vier vir R2 miljoen en twee vir R3 miljoen. Die gemiddeld vir die hele singel is R1.56 miljoen. Die 14 wat onder R2 miljoen gewaardeer is, se waardasiegemiddeld is R1.23 miljoen, met die kleinste waardasie ‘n uitsonderlike R250 000 vir ‘n eiendom op ‘n erf van amper 3000m². Laasgenoemde is bes moontlik ‘n fout, maar daarmee saam kan gevra word hoeveel sulke foute ingesluip het waar mense te min of te veel moet betaal?

Ruhstraat se gemiddelde waardasie is R1.35 miljoen. Ook hier skyn ‘n uitval te wees van een eiendom wat vir R250 000 gewaardeer is.

Daar is gekyk na die huise wat tussen Rissik-, Jeppe- en Vorsterstraat in Andersonstraat geleë is. Hierdie erwe is meestal 2 855m2 groot. In daardie twee blokke van Andersonstraat is 15 huise bestudeer. Al hierdie huise, behalwe een, is vir meer as ‘n R1 miljoen gewaardeer. Die gemiddelde waardasie is R1.2 miljoen.

Die nuwe uitbreiding  se skuldbult het lig daarvan afgekom. Daar is na 16 huise in Luiperdsingel gekyk. Twee van die huise was bo R2 miljoen. Die gemiddelde waardasie van die 16 huise was R1.67 miljoen.

Laer af in Mimosastraat is daar na 11 huise, waarvan die waardasies gevind kon word, gekyk. Die gemiddelde waardasie van dié 11 huise is R1.15 miljoen.

Die Makhado Munisipaliteit het gesê dat inwoners na hulle waardasies kan kom kyk. Verder is daar gesê dat die waardasierol op die webwerf van die munisipaliteit verskyn. Dit is egter baie ontoeganklik. Daar kan tot 31 Maart gekyk word en beswaar aangeteken word. Die beswaarvorm kan maklik van die webwerf afgelaai word. Indien daar meer as 30 besware is, kan die provinsiale tribunaal moontlik optree.

 
 
 

Viewed: 370

 

 
 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 
 

More photos... 

'n Spoghuis in die gedeelte van die dorp wes van die N1 wat vir R3 miljoen gewaardeer is. Sommige inwoners sê dat die pryse op die waardasierol nie altyd sin maak nie. 'n Ander prageiendom in skuldbult op ‘n erf van amper 3000 m2 is gewaardeer vir slegs R250 000. Laasgenoemde is bes moontlik ‘n fout, maar daarmee saam kan gevra word hoeveel sulke foute ingesluip het waar mense te min of te veel moet betaal?

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT