ADVERTISEMENT:

 

 
 

Koerant beloon met drie top toekennings

Date: 26 September 2003 By: 

Die Zoutpansberger se strewe na 'n kwaliteitproduk is die afgelope naweek beloon toe die koerant twee eerste plekke verower het tydens die jaarlikse Sanlam-toekennings vir gemeenskapspers. Die koerant is ook aangewys as naaswenner in die Nissan/Capro-kompetisie vir gemeenskapskoerante met 'n sirkulasie van onder 10 000.

Die toekennings is Vrydag- en Saterdagaand gedoen tydens funksies by die Birchwood Hotel en Konferensiesentrum in Boksburg. Die funksies is bygewoon deur verteenwoordigers van gemeenskapskoerante regdeur die land, asook Botswana, Namibia en Swaziland.

Die Sanlam-toekennings word allerweë beskou as die mees gesogte pryse onder joernaliste in die gemeenskapspers. Vanjaar het 147 koerante daaraan deelgeneem, wat van die grootste groepe tot die kleinste plattelandse dorpskoerante insluit.

Soos 'n jaar tevore, het die Zoutpansberger die prys ontvang vir die klein dorpskoerant met die beste voorblad. Die Kwêvoël van Thabazimbi was tweede met Die Pos van Bela-Bela (Warmbad) derde.

Die Zoutpansberger se beste prestasie was egter in die uiters kompeterende kategorie vir promosiebladsye van vier bladsye of meer. Die eerste plek is gedeel met Gold-Net News van Welkom. Die bylae wat die beoordelaars beïndruk het, het voor verlede jaar se sonsverduistering verskyn. Die beoordelaars se kommentaar was veral vleiend:

"Die onlangse sonsverduistering was manna uit die hemel vir die Zoutpansberger. Hulle het behoorlik 'n fees gehad met 'n los invoegsel wat volgeprop is met nuus, inligting, prettige feite, gedigte, 'n gratis eklipskyker, strokiesprente en leersame goed vir kleingoed … Die beoordelaars het so verdiep geraak in dié bylae dat die hele toekenningsproses eers tot stilstand gekom het."

Die Zoutpansberger se nuusredakteur, Andries van Zyl het ook erkenning gekry vir sy bydraes die afgelope jaar. In die afdeling vir kontreinuus het Andries sewende geëindig. Daar was slegs sewe persentasiepunte verskil tussen die eerste sewe posisies in dié kategorie.

Vanjaar se Sanlam-kompetisie het 1 475 individuele inskrywings gelok van 444 joernaliste. Altesaam 2 502 advertensies en 885 foto's is ingeskryf. Die jaarlikse Nissan/Capro-toekennings is Saterdagaand tydens nog 'n glansgeleentheid in Boksburg gedoen. Dié toekennings gaan aan publikasies wat deur Capro verteenwoordig word in soverre dit nasionale advertensies betref. Capro verteenwoordig bykans 150 publikasies, waaronder die meeste van die Caxton koerantgroep tel, wat die grootste hoeveelheid gemeenskapskoerante in die land besit.

Die trofee vir die beste koerant met 'n sirkulasie van 10 000 en minder, het gegaan aan Die Pos van Bela-Bela (Warmbad). Die Zoutpansberger was tweede, met Die Kwêvoël van Thabazimbi derde. Die Zoutpansberger se susterskoerant, die Limpopo Mirror was vierde en het spesiale vermelding gekry van die beoordelaars vir hul kwaliteit inskrywings.

Wat opvallend is, is dat die onafhanklike kleiner koerante in die Limpopo provinsie besonder goed presteer het in beide kompetisies. In die Sanlam-kompetisie het Nicola Diener en Jo-Anne Strydom van Die Pos onderskeidelik tweede en derde geëindig in die afdeling vir kontreinuus. Die Pos se redakteur, Keina Swart het die afdeling vir koppe gewen en dié koerant het ook die Advertensie van die Jaar-kategorie gewen. Een van Die Pos se verslaggewers, Annatjie Blignaut het sewende geëindig in die Joernalis van die Jaar-kategorie

 
 
 

Viewed: 1141

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT