ADVERTISEMENT:

 

 
 

Verdagte aangekeer na twee dogters verkrag word

Date: 25 July 2003 By: 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die verkragting van twee van die dorp se tienderjarige dogters, het die afgelope week skokgolwe deur die plaaslike gemeenskap gestuur.

Die twee dogters was Vrydagmiddag, omstreeks 16:00, te voet op pad na die een dogter se ouma, toe hulle deur twee mans by die veilingskrale in Industriastraat oorrompel is. Die mans het die dogters die bosse ingesleep en verkrag. Hulle het minute later op die vlug geslaan. Intussen het die twee dogters die hulp van 'n verbygaande verkeersbeampte ingeroep, wat tevergeefs probeer het om die verdagtes agterna te sit. 'n Selfoon is ondermeer ook van een van die dogters geroof. Beide dogters is kort na die voorval opgeneem vir mediese behandeling en berading.

Sondagoggend vroeg het die polisie 'n deurbraak gemaak in die soektog na die verdagtes, toe hulle 'n 23-jarige inwoner van Mpheni, Mbengeni Emmanuel Munyai, in verband met 'n klag van huisbraak aangekeer het. Die arrestasie is aanvanklik uitgevoer deur lede van Soutpansberg Sektor Polisiëring. Volgens mnr. Fanie Geyer van Soutpansberg Sektor Polisiëring, het hy besef dat Munyai se kleredrag ooreenstem met die beskrywing wat deur die dogters aan hom gegee is die vorige dag. Munyai is opgesluit en het na bewering in die selle gespog met die feit dat hy die twee dogters verkrag het. Dié inligting is aan die polisie oorgedra via 'n polisie-informant.

Munyai het Woensdag in die plaaslike landdroshof verskyn op klagte van huisbraak. Hy is direk na sy verskyning aangekla van verkragting en sal vandag (Donderdag, 24 Julie) weer in die hof verskyn op genoemde klag.

Gerugte het Woensdag die rondte gedoen dat 'n tweede verdagte in die saak Dinsdagaand aangekeer is. Die ondersoekbeampte in die saak het egter bevestig dat dit bloot gerugte is en dat nog niemand anders in verband met die saak aangekeer is nie. Hy het wel genoem dat hulle besig is om baie sterk inligting op te volg oor die identiteit van die tweede verdagte en dat 'n arrestasie binnekort gemaak sal word. Intussen is 'n dagvaardiging uitgereik, waarin die diensverskaffer van die selfoon wat gesteel is, gelas word om alle rekords beskikbaar te stel van oproepe wat vanaf 18 Junie na en van die selfoon gemaak is. Die vermoede bestaan dat dié inligting die polisie behulpsaam kan wees in hul ondersoek, aangesien die twee verdagtes die selfoon gebruik het na die voorval. Boodskappe van vertroosting en ondersteuning het sedert die voorval van alle oorde ingestroom. Volgens 'n ouer van een van die dogters, hanteer beide dogters die situasie onder omstandighede goed en sal hulle binnekort weer terugkeer skool toe. Sy het almal bedank vir hul belangstelling in die welvaart van die twee dogters.

 
 
 

Viewed: 1313

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT