ADVERTISEMENT:

 

 
 

Stryd teen tolhekke "nog lank nie verby"

Date: 25 July 2003 By: Frans van der Merwe

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die moontlikheid van 'n gesamentlike protesoptog, om openbare verset teen die huidige tolpadbedeling te betoon, word nou ondersoek.

Die ondersoek kom na skokkende gegewens oor die wanaanwending van brandstofheffings vir pad instandhouding, die oneweredige tolgeldlas in die land en die totale gebrek aan eenvormige standaarde vir tolpaaie.

Die Tshipise Tollgate Concern Group (TTCG), wat aan die spits staan van weerstand teen onbillike tolpadpraktyke, het op sy jongste vergadering vandeesweek besluit om die moontlikheid te ondersoek van 'n openbare protesaksie, waaraan alle instansies en lede van die publiek kan deelneem. Die TTCG beywer hulself vir gemeenskappe se reg tot toegang tot alle paaie, goeie gehalte alternatiewe paaie, geteerde ompaaie tydens onderhoudkonstruksie of bou van paaie, 'n paaiefonds wat uitsluitlik vir die onderhoud en instandhouding van paaie benut sal word en duidelike, eenvormige kriteria vir tolpaaie.

Weerstand teen die huidige tolpadbeleid is besig om landwyd uit te kring. Die TTCG het besluit om hom te beywer vir samewerking met instansies in ander provinsies wat ook weerstand bied teen onbillike en onaanvaarbare tolpadpraktyke.

Op 'n vergadering op Mopane het dit amptelik aan die lig gekom dat die regering nie die brandstofheffing, wat spesifiek vir die instandhouding van paaie bedoel is, vir dié doel benut nie. Die feit dat dié geld vir ander, ongespesifiseerde doeleindes gebruik word, is grotendeels verantwoordelik vir die gebrek aan geld, wat as die vernaamste motivering vir die bou van tolpaaie gebruik word.

Landwye weerstand teen hierdie bedenklike benadering het stewige momentum gekry, nadat die voortydige opening van die Kremetart Tolplaza op die noordelike N1, aanleiding gegee het tot die opening van 'n alternatiewe tolhek op 'n naasliggende plaas. Die optrede het nasionaal opspraak verwek en is prominent in die media aandag geniet. Die alternatiewe hek is geesdriftig deur lede van die publiek, en ook deur lede van die polisiediens en ander nooddienste, benut. Die TTCG het ernstige kommer uitgespreek oor die situasie op die noordelike N1 en het verontwaardiging uitgespreek oor die feit dat motoriste tolgeld moet betaal vir 'n onvoltooide en gevaarlike pad, waarop motoriste ernstig verontrief word deur onaanvaarbare vertragings en kunsmatig- geskepte, lewensgevaarlike krisissituasies. Die feit dat die betrokke owerhede swaar vragmotors steeds verplig om die onvoltooide pad-in-aanbou oor die berg te gebruik, ses maande nadat die onaanvaarbaarheid van hierdie lewensgevaarlike opdrag aan al die betrokkenes uitgewys is, word deur die TTCG as roekeloos onverantwoordelik beskryf.

In 'n media verklaring sê die TTCG: "Dit wil voorkom asof daar weinig erkenning of begrip by plaaslike, sowel as provinsiale owerhede is vir die massiewe ongerief waaraan hulle lede van die publiek onnodig onderwerp." Die blote feit dat 'n nasionale pad, waarvoor die belastingbetalers betaal het, sito-sito omskep word in 'n tolpad, word as onaanvaarbaar verwerp.

Die vergadering het kennis geneem dat die gedeelte van die pad 20km suid van Musina in 'n uiterse swak toestand is. Die pad is smal en gevaarlik. Die pad vanaf Makhado (Louis Trichardt) tot by die tonnels is ook in 'n swak toestand, met talle gedwonge stilhouplekke, waarop bouwerk aan die gang is en waar duur en gevaarlike opeenhopings voortdurend veroorsaak word. Net sowat 20% van die pad is in 'n goeie toestand sonder konstruksiewerk.

Op die voltooide pad wat nou as tolpad moet dien, is die verbysteek-lane gekritiseer as onvoldoende, omdat hulle te kort is. Die komitee sê dit is onaanvaarbaar dat dubbele standaarde op verskillende tolpaaie gebruik word en dring daarop aan dat spesifieke standaarde daargestel moet word vir alle tolpaaie. In 'n opname wat die afgelope maand gemaak is van tolplazas op die roete tussen Makhado (Louis Trichardt) en Kaapstad, het dit aan die lig gekom dat motoriste in die armste provinsie verplig word om die meeste tolgeld te betaal. Van hier tot in Pretoria (380km) moet motoriste in 'n gewone sedanvoertuig altesaam R91.20, by vyf tolplazas betaal. Op die roete vanaf Pretoria tot in Kaapstad (1 400km) beloop die tolgeld slegs R52.20. Die komitee neem kennis dat daar geen tolplazas in die voormalige Transkei en Ciskei (Oos-Kaap) is nie.

Die komitee sê dit is heeltemal onaanvaarbaar dat dieselfde tolgeld betaal moet word op paaie van drasties verskil in gehalte. Die tolgeld by Kranskop, Capricorn en Kremetart is R19, maar die pad deur Kranskop is 'n dubbellaanpad in beide rigtings, met geen snelheidsperk laer as 120km/h nie en met 'n pad wat uit die staanspoor as 'n alternatief vir die tolpad gebou is. Tolgeld op paaie van laer gehalte en mindere gerief, behoort vanselfsprekend laer toltariewe te hef.

Die komitee het ook kommer uitgespreek oor die gesindheid waarmee die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap sy sake bedryf. Die agentskap se goeietrou word in twyfel getrek weens die feit dat die Baobab tolplaza net 'n paar meter suid van die Mopane en die Tshipise paaie opgerig is teenoor die Capricorn tolplaza wat suid van die Tzaneen afdraai en noord van Matoks opgerig is. Motoriste wat reis na Tshipise en Mopane, het nou geen alternatiewe roete nie, terwyl motoriste wat die N1 suid van Makhado (Louis Trichardt) gebruik die Tzaneen /Ramokgopa pad as alternatiewe roete kan gebruik. Dit wil voorkom asof motoriste in Matoks voorkeurbehandeling ontvang. Die komitee sê die agentskap sou selfs met die afslag vir plaaslike gebruikers, miljoene rande aan tolgeld kon insamel as die Capricorn tolhek suid van Matoks geplaas was.

'n Ondersoek is nou aan die gang om al hierdie misstande met gesamentlike optrede teen te staan. Lede van die publiek word deur die groep versoek om versetoptredes teen onaanvaarbare owerheidsoptrede daadwerklik te steun in die belang van 'n gesonde demokraties bestel.

 
 
 

Viewed: 837

 

 
 

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT