ADVERTISEMENT:

 

 
 

Streek se howe bring hul kant om misdaad te beveg

Date: 25 July 2003 By: 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Ten spyte van toenemende ongelukkigheid oor die polisie se skynbare onvermoë om effektiewe polisiëring toe te pas, is dit duidelik dat plaaslike howe nie oor dieselfde kam geskeer kan word nie.

Volgens onlangse statistieke, word howe in die Thohoyandou-distrik bestempel as die enigste howe in die land met geen agterstand ten opsigte van uitstaande sake nie. Die Thohoyandou-distrik bestaan uit tien landdroskantore, veertien distrikshowe en elf periodieke howe. Distrikshowe is gesetel te Musina (1), Mutale (1), Thohoyandou (4), Tshilwavhusiku (1), Dzanani (1), Makhado/Louis Trichardt (1), Malamulele (1), Tshitale (1), Vuwani (1) en Waterval (1). Die elf periodieke howe is geleë te Mara, Waterpoort, Alldays, Bandelierkop, Levubu, Soekmekaar, Saselemani, Masisi, Tshaule, Makuya en Tiyane. Buiten vir die distriks- en periodieke howe, is daar ook twee hoërhowe en 'n hof vir Seksuele Misdrywe in Thohoyandou.

In Januarie vanjaar was die hoeveelheid onafgehandelde sake op die hofrol vir distriks- en periodieke howe in die streek 2 269 sake. Teen Junie vanjaar het dié syfer dramaties gedaal na slegs 1 500 onafgehandelde sake. Dit wil sê dat howe in die distrik daarin kon slaag om meer as 700 sake af te handel in slegs ses maande.

Wat die hoofhof op Makhado (Louis Trichardt) betref, is 'n gemiddeld van 52 sake per maand verlede jaar afgehandel. Dié syfer was reeds ver bo die nasionale gemiddeld. Vanaf Januarie tot Junie spog dieselfde hof met 'n gemiddeld van 65 afgehandelde sake per maand, wat weereens die nasionale gemiddeld oorskry. Die teiken ten opsigte van skuldigbevindings is nasionaal vasgestel op 85% en selfs dié teiken is gedurende Junie in die Thohoyandou-distrik gehaal.

Buiten vir genoemde howe, word die hof vir Seksuele Misdrywe ook tans gereken as die hof met die hoogste suksessyfer, ten opsigte van afgehandelde sake, in die land. Die hof, wat as projek ingestel is deur die Departement van Justisie en die Direkteur van Nasionale Vervolging, het in Junie 39 verhore afgehandel. Intussen is daar ook 'n senior onderhoudsaanklaer by dié hof in Thohoyandou aangestel met die idee om die projek uit te brei na ander distrikshowe.

 
 
 

Viewed: 337

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT