ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die Makhado Polisie het Maandag, tydens 'n lokval, hierdie man gearresteer nadat hy bande by Tyre Rack gaan afhaal het wat Koos Bergman met 'n vervalste betalingsbewys "betaal" het.

Pasop vir Oom Koos

Date: 24 July 2014 By: Isabel Venter

Danksy Camp World, wat verlede week besighede gewaarsku het, is die gladdebek “oom Koos Bergman” se slimpraatjies hier in Makhado (Louis Trichardt) lelik in die wiele gery.

Die Zoutpansberger het verlede week berig oor ‘n middeljarige oom wat hom aan plaaslike besighede as Koos Bergman voorstel en hulle dan telefonies met slimpraatjies van duisende rande besteel. Camp World het die koerant genader nadat Bergman ongeveer R50 000 se 4x4-toerusting laat haal het en hulle met ‘n vervalste Internet-betalingsbewys gelos het.

Maandag het ‘n middeljarige man, wat homself as die einste Koos Bergman voorgestel het, vir Barry van Burick, ‘n verkoopsman by Tyre Rack op die dorp, geskakel. (Kyk gerus na die videogreep) Hy het ‘n bestelling vir agt vragmotorbande geplaas. Volgens Barry het “Bergman” glo die bande nodig vir ‘n sleepwa wat hy gekoop het en moes verskuif, voordat hy stoorgeld daarvoor moes begin betaal het.

Barry se opgewondenheid oor sy groot transaksie was van korte duur. Sy kollega, tannie Elsie van den Heever, het dadelik Bergman se naam erken. “Lees in die koerant, daai Bergman is ‘n groot skelm,” het Elsie vir Barry gesê.

Teen daardie tyd het Barry al ‘n betalingsbewys ontvang van Bergman ten bedrae van R32 800. Bergman sou binne ‘n uur die bande glo self kom afhaal, maar nadat Barry Camp World se storie gelees het, het hy dadelik begin rondskakel vir hulp, waarna die Makhado Polisie in kennis gestel is.

Daar is vinnig ‘n polisie taakspan bymekaar gekry om vir Bergman by Tyre Rack te gaan voorlê. Die Zoutpansberger was gelukkig genoeg om in die kantoor, by die sekuriteitskamera se skerm, te kon wag om die aksie te sien.

Intussen het Bergman nog wielhake probeer bestel by Barry, en belowe om dit die volgende dag dan te kom haal. (Lesers kan na ‘n opname hiervan gaan luister op www.zoutpansberger.co.za).

Bergman se uur het egter vinnig uitgeloop, waarin die bande nog nie afgehaal is nie. Op versoek van die polisie het Barry vir Bergman geskakel en hom gevra of hy die bande voor etenstyd kan kom haal, omdat Tyre Track vir middagete sluit.

Binne minute het ‘n vragmotortjie met ‘n GP-registrasienommer voor Tyre Rack stilgehou. Die polisie was dadelik op gereedheidsvlak, terwyl die bestuurder uitgeklim het en met Barry begin gesels het. Die vragmotorbestuurder het bevestig dat hy daar was om die bande vir Bergman op te laai.

Nadat die man dié inligting bevestig het, het Barry na die stoor geloop, waarop die polisie se taakspan blitsig op die bestuurder toegesak het. Die polisie het die man ondervra en moes sy telefoon konfiskeer toe hy vir Bergman wou bel. Hy het ontken dat hy Bergman ken. Sy storie was dat sy werknemer die bande by Bergman gekoop het, en dat hy net die bande kom oplaai het.

Die man is net daar in hegtenis geneem op die vermoede dat hy betrokke mag wees by ‘n onwettige aktiwiteit. Daar is later dieselfde dag ook beslag gelê op sy vragmotor.

Die bestuurder van die vragmotor is Dinsdag egter op waarskuwing vrygelaat. Dit nadat daar klaarblyklik nie genoeg bewyse gevind kon word om hom direk met die saak te verbind nie. Intussen was die polisie teen druktyd steeds besig om leidrade op te volg om Bergman te probeer vastrek.

Camp World het ná hul ervaring met Bergman ‘n privaatspeurder aangestel om die saak te ondersoek. Dit het toe aan die lig gekom dat Bergman nie net hier in Makhado (Louis Trichardt) mense ingeloop het nie. Hy het al mense so ver as Bronkhorstspruit, Tzaneen en Middelburg bedrieg. Daar mag dalk ook meer slagoffers wees wat nie die saak by die polisie aangemeld het nie.

Tot Bergman vasgetrek word, word inwoners steeds gewaarsku om versigtig te wees. Daar word vermoed dat Bergman ‘n ou hand in die bedryf is, en moontlik deel kan wees van ‘n landswye sindikaat wat mense so oor die telefoon besteel. Hy gebruik ook partykeer die naam Gert, en sy modus operandi is altyd dieselfde. Hy plaas glo in elke dorp wat hy teiken ‘n informant. Dié informant sal, soos in Camp World se geval, verkenningswerk gaan doen by ‘n maatskappy en alle moontlike kontakbesonderhede bekom vir Bergman.

Bergman sal dan telefonies ‘n bestelling plaas by die maatskappy, en reël dat sy “drywer” of “werknemer” die goedere gaan afhaal nadat hy ‘n vervalste betalingsbewys deurgestuur het. Bergman maak gebruik van ‘n Pretoriase telefoonnommer (012 771 3656) om vanaf te skakel. Sy informant se selfoonnommer is 072 023 5070. Barry het Maandag bevestig dat Bergman hom van selfoonnommer 072 023 4090 geskakel het.

Na aanleiding van die Koos Bergman-sage, waar inwoners bedrieg word met ‘n vervalste Internet betalingsbewysstaat, het die Zoutpansberger dit goed gedink om die verskille tussen ‘n egte en vervalste staat uit te lig. (Sien die foto)

 
 
 

Viewed: 3249

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Die Zoutpansberger moes in Tyre Rack se kantoor wag terwyl die plaaslike polisie 'n vermeende handlanger van Koos Bergman omsingel en ondervra.

Na aanleiding van die Koos Bergman-sage, waar inwoners bedrieg word met ‘n vervalste Internet betalingsbewysstaat, het die Zoutpansberger dit goed gedink om die verskille tussen ‘n egte en vervalste staat uit te lig. Die vervalste staat (links) is gebruik met die vergunning van Tyre Track op Makhado (Louis Trichardt) wat so amper die volgende slagoffer geword het van “Koos Bergman”. Die regterkantste staat is ‘n egte dokument, en van die verskille kan met die blote oog gesien word. Byvoorbeeld die banklogo (1) is ‘n lae resolusie prentjie, (2) die lettertipe is anders en groter, (3) die begunstigde se naam is nie ingevul nie, (4) die lettertipe is verkeerd gespasieer en die bank se naam is verkeerd, (5) die Barclays-logo is verouderd en op die verkeerde kant van die staat, en (6) 13 van die direkteure is nie meer werksaam by Absa nie. Die goeie reël bly egter, met ‘n elektroniese oorbetaling, om te wag totdat die kontant op jou bankrekening reflekteer voordat jy goedere oorhandig aan die kliënt. Jy kan ook per SMS of per e-pos in kennis gestel word van ‘n betaling, maar dit sal gedoen word deur die betaler se bank, nie deur die betaler self nie.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT