ADVERTISEMENT:

 

 
 

Mens moet mooi konsentreer as jy bestuur, en voor jy jou kom kry, word die tweerigting verkeer skielik eenrigting verkeer, spesifiek waar ‘n gedeelte van die pad naby Schoemansdal heeltemal weggespoel het. Foto verskaf.

Vivo-pad gaan sorg vir “tragedie op tragedie”

Date: 24 February 2014 By: Andries van Zyl

“Sê vir hulle, hulle moet uit hulle gemakstoele opstaan en self kom kyk hoe die pad lyk!” Dit is raad van tannie Nellie Glade (73) aan die provinsiale Departement van Vervoer wat betref die haglike toestand van die R522 pad.

"Haglik" is egter om dit sagkens te stel, en "lewensgevaarlik" blyk ‘n meer realistiese opsomming te wees van dié pad tussen Makhado (Louis Trichardt) en Vivo se toestand.

“Ek voorspel tragedie op tragedie op die pad. Nee, man! Ons kinders en kleinkinders ry elke dag per bus die pad skool toe. Wat van die mense van Kutama en Indermark wat ook daagliks die pad gebruik?” wil tannie Nellie, ‘n inwoner van Buysdorp, weet.

Die R522 is reeds berug vir sy slaggate, oorgroeide padreserwe en rondloperdiere. Die onlangse swaar reën het ook niks gedoen om hierdie situasie te verbeter nie. Mens moet mooi konsentreer as jy bestuur, en voor jy jou kom kry, word die tweerigting verkeer skielik eenrigting verkeer, spesifiek waar ‘n gedeelte van die pad naby Schoemansdal heeltemal weggespoel het.

“My ou man wil nie eers alleen meer bestuur nie, want hy kan nie meer al die slaggate sien nie,” sê tannie Nellie.

Die haglike toestand van die pad is die afgelope paar jaar herhaaldelik deur onder meer die Soutpansberg Distrikslandbou-unie (SDLU) onder die aandag van die Departement van Vervoer gebring, telkens sonder enige reaksie of andersins bloot leë beloftes. Verlede jaar is die pad herdoop na die “Pad van die Dood” ná ‘n string noodlottige ongelukke.

Op 13 Junie 2013 is die terreinbestuurder van die Soutpan Solar Park by Vivo, mnr. Marco Powroznik (24), op die spesifieke roete oorlede na ‘n grusame ongeluk.  Slegs twee dae later is die kleindogter van mnr. Gert Pretorius, me. Marida Pretorius (21), ook op die roete oorlede in ‘n ongeluk. Ná Pretorius se dood het die Departement van Vervoer ‘n span werkers ingestuur om die padreserwe oop te kap. Ná ‘n week se gekap het die span ‘n skrale ses meter skoongekap gekry. Hulle het nie weer verder gewerk nie, nadat die vragmotor wat hulle moes vervoer blykbaar gebreek het. Met genoemde sterftes nog vars in die geheue was daar op 26 Augustus 2013 nog ‘n gru-ongeluk op hierdie pad waarin mnre. Gilbert Gerhardt (43), Rick Coetzee (64) en Innocent Hove oorlede is. Na aanleiding van laasgenoemde ongeluk het die SDLU gesê hulle ondersoek die moontlikheid dat die LUR van Vervoer persoonlik verantwoordelik gehou moet word vir lewensverlies op hierdie roete.

Die toestand van die pad het ‘n paar inwoners aan die begin van Februarie en te midde van die hewige reën genoop om self te probeer om gedeeltes van die pad te herstel.

“Ons bedryf ‘n Eko-toerisme gastehuis vir ‘n groot getal internasionale en plaaslike toeriste. Ek ry daagliks hierdie roete … en daar is ‘n groot hoeveelheid slaggate oor die 36km seksie van die pad wat ek ry. Sommige van hierdie slaggate is so wyd dat motoriste in die aankomende verkeer se baan moet inry om dit te probeer vermy,” vertel me. Kathryn Straughan, algemene bestuurder van Leshiba Wilderness. Sy sê ‘n paar inwoners het op 2 Februarie besluit om van die slaggate in die pad self te probeer regmaak. “Maar hulle is deur die polisie gedreig, aangesê om te stop en die area te verlaat,” sê Straughan. Haar grootste vrees is die swak publisiteit wat die streek sal ontvang, sou daar dalk internasionale gaste in ‘n ongeluk op die pad sterf.

Die Zoutpansberger het voorverlede week ‘n media navraag aan die Departement van Vervoer gerig waarin die swak toestand van die pad aan hulle uitgewys is. Die navraag is vergesel van onder meer meegaande foto’s en daar is vir hulle gevra of die departement, gesien in die lig van die gevaarlike toestand van die pad, die roete as ‘n prioriteit sal beskou en immers vir die interim die slaggate sal herstel. Uit hul reaksie is dit duidelik dat hulle geensins bewus is van die werklike toestand van die pad nie. ‘n Week later het die departement se provinsiale woordvoerder, mnr. Jimmy Machaka, geantwoord. “Daar is twee EPWP (Expanded Public Works Programme) projekte in die Vivo/Makhado area. Die een is vir roetine instandhouding en slaggat herstel en die ander een is ‘n roetine instandhouding huishou projek. Die roetine instandhouding huishou projek is oorgegee aan die kontrakteur op 21 Junie 2013. Hierdie kontrak sal fokus op funksies soos grassny, ontbossing, herstel van die heining, skoonmaak van dreineringstrukture, ensovoorts,” was Machaka se totale antwoord.

“Ek sien niks instandhouding op die pad nie. Ja, 2013 is verby en daar was bietjie instandhouding, maar dit was van uiters swak gehalte,” was tannie Nellie se reaksie op Machaka se kommentaar.

 
 
 

Viewed: 478

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT