ADVERTISEMENT:

 

 
 

Johan van Wyk van die Blouberg Natuurreservaat naby Vivo laat die luislang versigtig los. Foto verskaf.

Meneer luislang vind ‘n nuwe tuiste

Date: 21 March 2014 By: Isabel Venter

Só groot was ‘n luislang wat hier in die Soutpansberge gevang is dat dié meneer, opgekrul in sy krat, sommer soos twee slange gelyk het.

Danksy twee boesemvriende se spanwerk het die slang ‘n nuwe tuiste gekry by die Blouberg Natuurreservaat naby Vivo. Johan van Wyk, die bestuurder  van Blouberg, se hulp is ingeroep nadat die slang, van bykans vyf meter, vroeg in Maart ‘n boer van Makhado (Louis Trichardt) se boerbok doodgedruk het.

Die slang het nie die bok ingesluk nie, maar daar is besluit om dit eerder te verskuif as van kant te maak.

Synde die Blouberg Reservaat onder die staat se beheer val, moes die sente maar tweekeer omgedraai word, en Johan het sy vriend, Barry Fourie, gevra om die slang te gaan haal. So gesê, so gedaan, maar toe Barry sien presies hoe groot die slang is, het hy net daar op die plek besluit om eerder maar self die slang deur te ry Blouberg toe.

“Nee heng, ek het vir die ou gesê ek soek nie so ‘n groot slang op my plaas nie,” het Barry, wat self in die Witvlag-omgewing boer, vandeesweek aan die Zoutpansberger gesê.

Met sy aankoms by Blouberg het die sekuriteitswag vir Barry gevra of hy dan nou twéé slange gebring het. “Nee, net een slang ... een groot slang,” was die antwoord.

Op die reservaat het Johan en Barry ‘n plekkie gekry waar hulle die slang veilig kon vrylaat. Die fisiese loslaatwerk het Barry vir Johan gelos, sodat daar ‘n foto geneem kon word van die heuglike gebeurtenis. Ook maar goed so, vertel Johan, want toe die slang besef dat hy vry is om te gaan, was hy soos blits weg. “Daar was nie toe nog tyd gewees vir foto’s nie,” het Johan Dinsdag telefonies aan die koerant gesê.

Intussen het die slang se verhuising vir ‘n interessante debat gesorg onder plaaslike natuurliefhebbers wat lede is van die Blouberg Natuurreservaat se Facebook-blad.

Die Suider-Afrikaanse luislang, of te wel Phython natalensis, is tans gelys as ‘n beskermde spesies in die Limpopo Omgewingsbestuur Wet (Wet 7 van 2003).

Dit is juis hierdie status wat die debat aangevuur het.

Daar is party soos Annette Kennealy, ‘n boorling van die Soutpansberge, wat voel dat die luislang se populasie dramaties toegeneem het weens sy beskermde status. Sy voel daar moet ‘n balans gehandhaaf word, anders kan te veel luislange ander beskermde diere soos die rooiduiker uitroei. “Deur ‘n luislang wat gered is te verskuif, kan mens die balans van die nuwe habitat versteur,” het Annette gesê. Na haar mening moet die luislang se status dalk eerder hersien word.

Ander natuurliefhebbers voel weer dat die luislang beskerm moet word, al is dit ten koste van ander beskermde diere. Vaughan Jessnitz meen dat die luislang beslis uitgeroei sal word as dit van die beskermde lys van diere afgehaal word, en dat daar vrylik in hulle handel gedryf sal word.

Daar is, volgens Johan, glo ‘n mark vir luislange op die onwettige muti-mark. Sotho en Pedi mense glo as jy ‘n dooie luislang naby jou beeskraal begrawe jou beeste net so vet sal word soos die luislang.

Mense is ook lief daarvoor om luislange aan te hou as troeteldiere, sê Johan. Hy het egter gewaarsku dat strawwe boetes opgelê kan word indien jy nie die nodige permitte van die Departement Omgewingsake bekom om die slang aan te hou  nie.

 
 
 

Viewed: 472

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT