ADVERTISEMENT:

 

 
 

Sekuriteit bly altyd 'n knelpunt. Daar was 'n mislukte poging om 'n katrol deur die nou openinkie tussen die muur en die dak van die stewige nuwe pomphuis uit te trek en te steel. 'n Telemetriese sekuriteitsisteem word in die vooruitsig gestel, asook sekuriteitswagte. Foto verskaf.

Reën kortwiek werk aan dorp se boorgate

Date: 20 March 2014 By: Linda van der Westhuizen

Die boorgate suidwes van Makhado (Louis Trichardt) wat ‘n groot gedeelte van die ou dorp en Tshikota se water voorsien, word weer oorgedoen en opgeknap.

Dié boorgate se toerusting is in Desember 2011 splinternuut oorgedoen teen ‘n koste van R2.4m, net  om ‘n maand later vernietig te word deur koperkabeldiewe en vandaliste.

Die jongste herstelkontrak se voltooidatum was in Desember verlede jaar, maar weens ‘n laat aanstellingsbrief en die reën wat hulle gekortwiek het, sê die kontrakteurs dat die verwagte voltooidatum nou skuif na die einde van Maart. “Dan moet ons vir seker klaar wees,” het mnr. Liano Viviers, in vennootskap met mnr. Michael Sambo van Solidarity Developers, wat die kontrak gekry het, verlede week gesê. Viviers is van Polokwane en Solidarity se hoofkantoor is in Tzaneen. Die voltooidatum is steeds onderhewig aan die reën. Die sement kan nie op nat grond gegooi word nie.

Viviers en die sub-kontrakteur vir die pompe, mnr. Johan Kotze, het gesê dat hulle ‘n brug moet herstel en paaie moet bou om by sekere van die boorgate uit te kom. “Ons was al in November laasjaar hier en sou in Desember klaargemaak het, maar die aanstellingsbrief het weke gevat. Daarna het die reën ons gekortwiek, maar ons het al goed gevorder,” het Viviers gesê.

Hulle het reeds die vier nuwe boorgate in die dorp reggemaak. “Al vier pomp deur die dag in die sisteem in. Die vier boorgate is in Presidentstraat, President Steynstraat, by die toetsstasie in Kortstraat en in die karavaanpark. Die een in Presidentstraat wil hulle reguit met die reservoir verbind, maar dit is nie deel van Solidarity se kontrak nie,” het Viviers gesê.

Dan is daar nog 10 boorgate waaraan hulle werk. Die een is by die treinspoor, nog een is oos van Kortstraat en agt is buite by die Rietvley plotte, op die Sinthumulepad. Die kontrakteurs bou nuwe pompkamers, installeer nuwe motors, nuwe pompe, nuwe bedrading en kragbokse (starter boxes). Vyf pomphuisvloere is klaar gegooi en een pomphuisie, aan die noordekant van die Sinthumulepad, is klaar gebou. “Hulle het probeer om my katrol deur die nou openinkie tussen die muur en die dak uit te trek en te steel, maar hulle kon dit nie regkry nie,” het Kotze gesê en bygevoeg dat hulle as ekstra maatreëls teen diefstal staalpype en monopompe gebruik. “Als is nou toe onder sement. Dit sal nie meer so maklik wees om te steel nie,” het Kotze gesê. 

Plaaslike Afriforum-voorsitter mnr. Wally Schultz het hierdie week die vordering by die boorgate gaan inspekteer. “Mens kan nie met ‘n voertuig daar inkom nie, en ons moes enkeldiep en partyplekke kniediep deur die modder tot by die boorgate stap. Daarom aanvaar ek dat hulle voltooidatum aanskuif,” het Schultz gesê.

Sekuriteit by die boorgate bly seker steeds een van die grootste knelpunte. Die Solidarity kontrakteurs het aan die Zoutpansberger gesê dat die telemetriese sisteem nie onder hulle kontrak val nie. Die Vhembe Distriksmunisipaliteit se bestuurder van tegniese dienste, mnr. Ratidzai Madimutsa, het op 13 Maart bevestig dat Vhembe definitief die telemetriese sisteem gaan installeer en dat ‘n ander kontrakteur, Belta, daarvoor aangestel is. “Sodra Solidarity klaarmaak, sal Belta inbeweeg,” het Madimutsa gesê.

Buiten die telemetriese sisteem, waarvolgens persone op hulle selfone kennis kry as daar aan die pompe gepeuter word, sal sekuriteitswagte ook ontplooi word. Daar word asem opgehou dat daar nie voordat al die sisteme in plek is, weer groot skade deur diewe aangerig word nie. Die kontrakteurs het vertel dat hulle in Desember verlede jaar daar gekom het en gevind het dat, binne die bestek van een week, al wat ‘n kabel is aan die vorige sisteem uitgesteel is en groot vernietiging aangerig is.

 
 
 

Viewed: 235

 

 
 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT