ADVERTISEMENT:

 

 
 

Plaaslike landboukonsultant spreek wêreld se makadamiaboere toe

Date: 19 September 2003 By: 

LEVUBU – Dries Alberts, plaaslike landboukonsultant, is genooi om 'n voordrag te lewer tydens die Tweede Internasionale Makadamiasimposium in Australië. Die Australiese Makadamiavereniging is die gasheer vir die Tweede Internasionale Makadamiasimposium, wat vanaf 29 September tot 4 Oktober 2003 in Tweed Heads in Nieu- Suid Wallis in Australië gehou word. Die tema van die simposium is: "Building Global Strength". Suid Afrika het die eer gehad om in 1999 die Eerste Internasionale Makadamiasimposium in Nelspruit aan te bied.

Die makadamiabedryf in Suid-Afrika het besluit om, net soos die Suid- Afrikaanse uitvoerwynbedryf, 'n volledige sertifiseringstelsel in plek te hê, wat strek vanaf die kwekery tot by die verbruiker. Dries Alberts is genooi om hierdie stelsel tydens die simposium in Australië bekend te stel.

Die makadamiaprodusente van Suid-Afrika het besluit om makadamias in te sluit in die bekende Eurepgap-sertifiseringskema vir goeie boerderypraktyke. Daar word gepoog om alle makadamiaboere onder hierdie skema gesertifiseer te kry teen die einde van 2004. SAMAC het reeds 'n voorgestelde kwekerystandaard in plek en meeste neutverwerkingsaanlegte het ISO9001 en/of HACCP vir gehaltesertifisering.

Dries Alberts is ook die koördineerder van die geïntegreerde plaagbeheerprojek vir SAMAC op nasionale basis. Plaagbeheer by makadamias is van die allergrootste belang. Die Suid-Afrikaanse makadamiabedryf, wat tans sowat 3 000 ton kerns per jaar uitvoer na onder andere Europa, die VSA, Suid-Oos Asië en Japan, is die derde grootste rolspeler in die bedryf. Makadamias is 'n hoë-waarde produk en uitskotverliese moet sover moontlik verminder of selfs heeltemal beperk word. Die bedryf rapporteer jaarliks sowat 5% uitskot, waarvan stinkbesieskade die grootste deel uitmaak. Indien die potensiële skade van blaaspootjies en motboorders bygetel word, kan dit die bedryf 'n astronomiese R24 miljoen per jaar kos. Royal Macadamia in die Levubu omgewing het die inisiatief geneem om geïntegreerde plaagbeheer te doen. Die Suid-Afrikaanse Makadamiakwekersvereniging (SAMAC) het hierdie inisiatief vir die afgelope twee jaar in die Soutpansbergdistrik gekoördineer. Die projek het goeie resultate behaal en 'n groot bewussyn ten opsigte van omgewingsvriendelike, geïntegreerde plaagbeheer onder produsente gebring. SAMAC het besluit om die projek verder uit te brei na al die ander produksiestreke in Suid-Afrika.

 
 
 

Viewed: 1135

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT