ADVERTISEMENT:

 

 
 

Ons is g'n vuisvoos, sê Levubu boere

Date: 19 September 2003 By: Andries van Zyl

LEVUBU - Die verhouding tussen die boeregemeenskap van Levubu en die Suid-Afrikaanse Polisiediens is tans besig om ernstig skipbreuk te ly, vanweë die polisie se volgehoue onvermoë om misdaad effektief in dié area te bekamp.

Dit is die algemene opvatting van boere na aanleiding van die jongste voorval, waarin 'n 48-jarige boer, mnr. Johan de Wilde, en sy gesin vroeg Sondagoggend (14de) in hul plaaswoning deur twee gewapende mans oorval is. Mnr. De Wilde is byna 'n noodlottige kopskoot toegedien. Die koeël het hom rakelings gemis en skrapnelwonde aan sy gesig is stille getuienis van hoe amper dit 'n doodskoot was. Sewe vuurwapens, vier selfone, R25 000 in kontant en die familie se voertuig is in die voorval geroof. Die voertuig en drie jaggewere is later Sondagoggend weer teruggevind. Een verdagte is aangekeer, nadat mnr. De Wilde hom aan sy stem herken het as 'n kliënt van hom by sy besigheid, Skananda Mark. Die mans was tydens die aanval gemasker.

Dat boere se geduld besig is om vinnig op te raak, is duidelik. Mnr. De Wilde, soos baie ander boere, meen dat misdaad besig is om te floreer, aangesien die polisie op hul agterstewe sit en toekyk wat gebeur. Sowat twee maande gelede is daar 'n indringende vergadering met die polisie op Levubu belê, waarin boere hul misnoeë uitgespreek het oor die polisie se onbevoegdheid. Dit het gevolg na twee gewapende aanvalle op onderskeidelik mnr. Flip Botha en die 72-jarige mnr. Fritz Wagner. Mnr. Wagner is ernstig gewond. In 'n stadium is daar in die bestek van 96 uur, 15 inbrake op Levubu aangemeld.

"Die polisie het baie beloftes gemaak tydens die vergadering twee maande gelede, maar tot op hede het daar nog niks van gekom nie. Ek gaan nie weer in die loop van 'n 9mm afkyk nie," sê mnr. De Wilde.

Mnr. De Wilde sê dat, alhoewel die polisie dit nooit openlik sal erken nie, die ander aanvaller in sy saak, wat steeds teen druktyd op vrye voet was, dieselfde persoon is wat verantwoordelik was vir die aanvalle op mnre. Botha en Wagner. Dit is juis dié onbereidwilligheid van die polisie om openlik met mense te praat oor die ware stand van misdaad, wat mnr. De Wilde Sondag tot breekpunt gebring het. "Tydens die SABC se onderhoud met die skakelbeampte van die SAPD in Thohoyandou, ene kapt. Mushavhanamadi, het ek gehoor hy praat van 'n reaksiemag wat al twee weke werksaam is op Levubu. Ek het ook gehoor hy praat van plaasbesoeke, waartydens boere op 'n weeklikse basis in 'n boek teken dat hulle tevrede is met die polisie se optrede. Dit was toe dat ek opspring en vir die kaptein sê dat hy besig is om te lieg. Ek bly al veertien jaar op Levubu en het nog nooit so 'n boek gesien nie. Ek sal ook graag wil weet waar dié reaksiemag is waarvan hy praat?"

Mnr. De Wilde het daarop aangedring dat hulle die gedeelte moet uitsaai waarin hy die kaptein aanval oor sy leuens. Dit is egter nie uitgesaai nie. "Ek weet nie wat die SABC se verhouding met die SAPD is nie, maar die leuens wat hulle versprei ten opsigte van die ware stand van misdaad moet ophou. Alhoewel die SABC dit nie uitgesaai het nie, sal die gesprek tussen my en die kaptein in 'n verslag saamgevat word."

Mnr. De Wilde sê dat die inwoners van Levubu die afgelope week 'n kommissie van ondersoek geloods het na die werksaamhede van die polisie. Die kommissie bestaan onder meer uit inwoners, plaaslike kerke en lede van landbou-unies en boereverenigings.

"Ons het 'n vergadering belê vir Vrydag (19de) om 14:00 in die Gemeenskapsaal. Tydens dié vergadering sal alle klagtes en griewe geboekstaaf word en opgestuur word na die kabinet. Dinge kan nie so aangaan nie." Mnr. De Wilde het ter afsluiting gesê dat hulle eksepsie neem dat daar na hulle in die SABC-berig verwys word as die "vuisvoos" Levubu-gemeenskap. "Ons is g'n vuisvoos nie, ons is lus om te baklei!"

(Buiten vir die aanval op mnr. De Wilde en sy gesin Sondag, het die familie Maandag weer deurgeloop. Inbrekers het by mnr. De Wilde se besigheid ingebreek en duisende rande se skade en verlies aan goedere aangerig)

 
 
 

Viewed: 944

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT