ADVERTISEMENT:

 

 
 

Herskikking in onderwys nie noodwendig negatief

Date: 19 September 2003 By: 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – "Die onderwys in Staatskole sal binne die afsienbare toekoms weer normaliseer. Een van die dae sal onderwysers weer soos vroeër kan aansoek doen vir permanente poste of promosieposte." Dit is die woorde van mnr. Henry Denner, hoof van Hoërskool Louis Trichardt. Mnr. Denner is lid van die taakspan wat gemoeid is met die herstrukturering in die onderwys.

Die afgelope week het hy 'n verduidelikende brief vrygestel om ouers en onderwyspersoneel te maan om die huidige golf van absorpsie van oortollige personeel uit te ry.

"Die wenprys aan die einde van die proses, naamlik 'n genormaliseerde onderwys, maak dit uit en uit die moeite werd," sê mnr. Denner. "Die doel met die proses is om onderwysers wat met die afskaling van poste oortollig verklaar is, permanent in vakante poste te absorbeer. Alhoewel die proses ontwrigtend kan wees en onsekerheid tot gevolg het, is dit van die grootste belang dat alle rolspelers sal saamwerk dat die proses so vinnig moontlik binne die raamwerk van die toepaslike wetgewing en resolusies afgehandel word," lui mnr. Denner se brief. In terme van die toepaslike resolusie moet die proses teen 30 September, 2003 afgehandel wees.

Die onderwys as staatsdepartement, en ook skole in Louis Trichardt, het nie die herstruktureringsproses wat in die hele staatsdiens aan die gang is, vrygespring nie. Hierdie proses het groot onsekerheid by ouers tot gevolg gehad. Die brief spreek die kommer van ouers aan, deur te verduidelik dat die proses van herstrukturering nie eensydig deur die Departement van Onderwys op skole afgedwing kan word nie. Die beheerliggaam behou alle magte deur die Suid-Afrikaanse Skolewet aan hulle toegeken tydens die afhandeling van die proses. Die proses word ook gestuur deur resolusies wat tussen die onderwysdepartement as werkgewer, en die vakbonde as verteenwoordigers van die georganiseerde professie gesluit word.

Die proses verloop volgens bepaalde riglyne. Wanneer 'n vakature by 'n skool ontstaan, is dit die skool wat die kurrikulumvereistes vir dié vakature bepaal. Daarna "pas" 'n plaaslike taakspan (DTT) 'n geskikte kandidaat uit die lys van oortollige onderwysers in die betrokke pos. Die taakspan bestaan uit kringkoördineerders van die Departement, die kringbestuurders en twee lede van elke onderwysvakbond.

Alle poste by skole wat deur dié proses permanent gevul behoort te word, is reeds gedurende die tweede kwartaal geïdentifiseer en onderwysers is reeds geplaas. So 'n onderwyser het die reg om, met die nodige motivering, nie die plasing te aanvaar nie. Die beheerliggaam kan ook, met goeie motivering, besluit dat die plasing nie geskik is vir die behoeftes van die betrokke skool nie. Griewe rakende dié fase word tans hanteer. Sou die kandidaat egter geskik wees, is die absorpsie permanent. Daar is reeds 160 onderwysers in die streek van Matoks tot Musina, wat Nzhelele en Sinthumule insluit, geabsorbeer. In dié streek is daar 240 onderwysers wat nie in die vakante poste pas nie. Daardie poste sal in 'n oop vakaturelys gepubliseer word. Onderwysers wat tans oortollig is, verteenwoordig al die kulturele groepe in Limpopo.

 
 
 

Viewed: 1090

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT