ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle mev. Elaine Hoffmann. Foto verskaf.

Nuus van tannie Elaine se skielike dood skok

Date: 19 March 2014 By: Linda van der Westhuizen

Talle inwoners van die Soutpansberg het met hartseer en skok verneem van die afsterwe van mev. Elaine Hoffmann (70) op 11 Maart na ‘n kort siekbed.

“Net ses weke en sy was weg,” het haar dogter, mev. Heidi Janse van Rensburg, gesê en vertel dat hul geliefde moeder kort tevore met pankreas-, limf- en klierkanker gediagnoseer is. "Ons mis haar so; sy het elke oggend om tienuur by die winkel ingekom en kom kuier." 

Elaine se eggenoot, mnr. Martin Hoffmann van Matman, is 'n ou bekende in die  besigheidswêreld en in die dorp.  Die Hoffmanns het hulle sowat 40 jaar gelede (in Desember 1973) in Louis Trichardt kom vestig.

“Elaine was altyd vriendelik en het as huisvrou kwaliteit-tyd aan ons kinders gegee. Die mense in die dorp het haar geken as iemand wat baie lief was vir mooi aantrek en mooi juwele – jy kon haar altyd deur ‘n ring trek. Sy was ‘n rolmodel vir baie van die dorp se vrouens, wat gesê het dat hulle wens hulle kon soos sy lyk. Sy was goed vir almal en het geleef vir haar kleinkinders en hondjies. Die drie Yorkies slaap nou by my op die bed,” het ‘n bedroefde oom Martin gesê.

Elaine (Danelia Johanna) was ‘n nooi De Beer wat op 13 Maart 1943 in die destydse Pietersburg gebore is en ook daar skoolgegaan het. Martin en Elaine het drie kinders, Cindy, Mark en Heidi. “Ons is so hartseer dat sy haar kleinseun, Jonathan, se troue in April gaan mis,” het oom Martin gesê.

Martin en Elaine was beide lede van die dorp se tennisklub. Elaine se pragtige pryswenner-tuin in Bredastraat is deur menige inwoner bewonder en baie het van haar “sonbed” gebruik kom maak. “Sy was lief vir plante, blomme en die natuur. Sy het in Pietersburg tuine uitgelê,” het Heidi gesê .

“Sy was ‘n vrou, mamma en ouma duisend,” het haar dogter, Cindy Strydom, gesê. Cindy se dogter, Lucinda, het gesê dat haar Oumie vir haar in elke opsig perfek was en haar seun Armand was dankbaar vir al die aanmoediging wat hy van sy ouma gekry het.

“Ons gaan jou regtig mis, maar Mamma is in onse Vader se huis waar elkeen van ons gaan volg om Mamma weer te ontmoet,” het Mark gesê.

Wyle Elaine Hoffmann se gedenkdiens is op 15 Maart deur ds. Dick Mahné in die Metodiste Kerk waargeneem. Sy word oorleef deur haar man, dogter Cindy en Theunis Strydom (met Lucinda en Armand), dogter Heidi en Tommy Janse van Rensburg (met Jonathan en Charlene) en seun Mark en Mariëtte Hoffmann. 

Die familie bedank graag dr. Emile Gaigher en die verpleegpersoneel van die Zoutpansberg Privaathospitaal, ds. Mahné, Marinda van Marinda Haarsalon, asook die gemeenskap vir al die blomme en oproepe om medelye te betoon.

 
 
 

Viewed: 484

 

 
 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT