ADVERTISEMENT:

 

 
 

'n Munisipale voertuig is afgeneem tydens onwettige rommelstorting. Verder is die rommel ook gestort op ‘n Eskom servituutgebied onder hoogspanningkragdrade. Foto verskaf.

Munisipale “oplossing” nou ‘n groter probleem

Date: 14 March 2014 By: Linda van der Westhuizen

‘n Nuwe, “onwettige” stortingsterrein het agter die munisipale stortingsterrein op die Vondelingpad ontstaan, met munisipale voertuie wat lustig meedoen aan die onwettige stortings.

Dat die ou terrein oorvol is en  lankal gesluit moes gewees het, is reeds ‘n bekende feit.  Die nuutste “probleemoplossing”, wat nog meer probleme skep, is die skraap van ‘n munisipale pad deur die munisipaliteit by die suid-oostelike hoek aan die agterkant van die stortingsterrein. Hierdie gedeelte het in ‘n nuwe vullisterrein ontaard. Met die onlangse groot reëns was dié nuutgeskraapte pad net een groot pappery en vullis is bloot op die ryvlak gegooi, ‘n toegangspad na omliggende wonings.

Hierdie pad verleen ook toegang tot die perseel waar die Bergcare kommune bejaardes huisves. Mnr. Andries Smal van die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente is baie betrokke by Bergcare en gebruik dié pad elke paar dae. Hy was geskok toe hy die omvang van die situasie besef en het op 5 Maart foto’s geneem van ‘n munisipale voertuig wat “sommer rommel in die pad stort”. Die bestaande pad wat na Bergcare en ander huise lei, word stukkend gery deur die groot vragmotors.

Dit het Smal verder gepla dat ‘n munisipale voertuig rommel stort op ‘n Eskom serwituutgebied onder hoogspanningkragdrade en hy het mnr. Louis van der Walt, plaaslike Eskom sektorbestuurder, laat weet. Van der Walt het die plek ‘n paar maal besoek en met ‘n munisipale amptenaar in gesprek getree. “Hy het sekere verduidelikings gegee en genoem dat dit eintlik ‘n toegangsroete is na die oorspronklike stortingsterrein, maar van die agterkant af. Daar moes geen rommel daar gestrooi geword het nie. Die masjien wat die rommel skuif sit tans vas in die modder en sal alles so gou as moontlik skuif en verwyder… Alle risiko’s is aan hom verduidelik, soos die rommel op Eskom se serwituutgebied wat dadelik verwyder moet word, die vragmotors wat naby die lyn kom en die ‘safe working clearance encroach',” het Van der Walt in ‘n e-pos geskryf. Daar is ook aan Van der Walt gesê dat die plek toegespan sal word, moontlik binne ‘n week.

Later was dit nie net meer  munisipale voertuie wat vullis agter die huidige vullisterrein gestrooi het nie, maar inwoners het dié voorbeeld gevolg. Ook langs die hoofroete na die stortingsterrein word rommel gestort. “Die hele dorp gaan gooi nou omtrent hulle goed daar. Ek moes in die pad wag tot twee groot vragmotors uit die modderpad kom sodat twee ander weer daar kon ingaan. Een was ‘n munisipale voertuig. Rommel word op die kante van die pad gestrooi,” het Smal gesê. Hy het op 7 Maart ‘n skrywe gerig aan die departement van omgewingsake se Groen Skerpioene en Maandag terugvoer gekry dat hulle die gegewens vir ‘n ondersoekbeampte aangestuur het. “Ek het ook met mnr. Phineas Nndwakulu van die stortingsterrein afdeling van die Makhado Munisipaliteit gepraat en gesê dat die plaaslike mense ook nou rommel daar stort. Hy het gesê dat hy dit aan die betrokke amptenaar sal deurgee om mense uit te stuur om dit te verhoed,” het Smal gesê.

Mnr. Johnny Welman, die eienaar van die perseel waar die Bergcare kommune is, het gesê dat hulle voertuie se bande moet vervang weens die spykers en skerp voorwerpe in die pad. “Ons wil ook nie hê dat die oumense met hierdie gemors naby hul blyplek moet sit nie,” het Welman gesê.

Die munisipaliteit het teen druktyd nog geen navrae oor die aangeleentheid beantwoord nie. Mnr. Julius Kleynhans, AfriForum se hoof van omgewingsake, het gesê dat dit onwettig is om rommel buite die stortingsterrein te stort. “Die reën sou gesien kon word as 'n versagtende omstandigheid, maar as die situasie vererger nadat die reën opgehou het, kan AfriForum ‘n regsproses aan die gang sit deur ‘n vermaningsbrief aan die munisipaliteit te stuur,” het Kleynhans gesê.

 
 
 

Viewed: 287

 

 
 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 
 

More photos... 

‘n Nuwe “onwettige” stortingsterrein het agter die munisipale stortingsterrein op die Vondelingpad ontstaan en rommel word ook op ‘n pad gegooi wat toegang verleen na inwoners se woonhuise.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT