ADVERTISEMENT:

 

 
 

Volgens AfriForum se onafhanklike blou- en groendruppelverslag se uitslae wat op 27 Maart bekendgemaak is, voldoen beide Makhado (Louis Trichardt) se drinkwater en die gesuiwerde rioolwater aan die vereiste standaarde.

AfriForum tevrede met kwaliteit van drinkwater

Date: 11 April 2014 By: Linda van der Westhuizen

Burgerregte-organisasie AfriForum se onafhanklike blou- en groendruppelverslag se uitslae vir Limpopo is op 27 Maart bekendgemaak.

Daarvolgens voldoen beide Makhado (Louis Trichardt) se drinkwater, sowel as die gesuiwerde rioolwater, aan die vereiste standaarde. Drinkwater mag geen E.coli bevat nie, terwyl gesuiwerde rioolwater minder as 1000 eenhede E.coli moet bevat om veilig te wees.

Mnr. Morné Mostert, AfriForum se gemeenskapskoördineerder vir Limpopo, het gesê dat hulle spesifiek vir waterkwaliteit toets, terwyl Waterwese se blou- en groendruppelverslae slegs ‘n sekere persentasie van hul metings aan waterkwaliteit wy. 

Makhado (Louis Trichardt) se vorige E.coli-telling van meer as 40 000 eenhede het veroorsaak dat die dorp nie die vorige groendruppel toets van AfriForum geslaag het nie, maar die dorp se waterkwaliteit het sodanig verbeter dat beide die groen-en bloudruppeltoets hierdie keer geslaag is. AfriForum het die toetse gedoen by dorpe waar daar ‘n AfriForum-tak bestaan. Onder hierdie dorpe was Groblersdal en Marble Hall die enigste ander twee dorpe wat ook die bou- en die groendruppeltoets geslaag het.

Polokwane se drinkwater is nou skoon nadat die vorige uitslae getoon het dat die dorp se water met E.coli besmet was. Polokwane het egter nog steeds nie die groendruppeltoets geslaag nie. Mookgopong, Modimolle, Mokopane, Bela-Bela en Phalaborwa het nie een hul groendruppeltoets geslaag nie, hoewel die drinkwater se gehalte volgens die bloudruppeltoets op standaard was. Mookgopong en Bela-Bela se E.coli-telling in die gesuiwerde rioolwater was op meer as 1 000 000 die hoogste in die land. Landswyd is 76 munisipaliteite se watergehalte getoets. Die drinkwater van 11 munisipaliteite was nie op standaard nie en die voorkoms van E.coli in die gesuiwerde rioolwater was te hoog in die geval van 33 munisipaliteite.

Volgens mnr. Julius Kleynhans, AfriForum se hoof van omgewingsake, word probleme met drinkwater in die algemeen vinnig reggestel. “Rioolwater hou egter gesondheidsrisiko’s vir gemeenskappe regoor Suid-Afrika in. Nalatigheid by beplanning en gebrek aan instandhouding van infrastruktuur kan lei tot ‘n grootskaalse besoedeling van ons waterbronne. Dit kan ‘n beduidende risiko vir die gesondheid van gemeenskappe inhou,” het Kleynhans gesê.

Waar munisipaliteite nie aan die regulasies voldoen nie, stuur AfriForum aanmaningsbriewe aan die munisipaliteit om hul gesuiwerde rioolwater op standaard te kry. “Daarna word die water weer getoets om die vordering te monitor,” het Kleynhans gesê.

Met hul eerste rondte blou- en groendruppeltoetse is AfriForum skerp gekritiseer deur die waterwese departement omdat hulle ‘n onafhanklike “misleidende” toetsing uitvoer. AfriForum sê dat water as kosbare hulpbron bewaar en beskerm moet word en dat hulle met alles tot hulle beskikking sal optree om te verseker dat  munisipaliteite hulle probleme rondom watergehalte dadelik oplos.

 
 
 

Viewed: 564

 

 
 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT