ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic image

SBBV waarsku teen “tenderpreneurs”

Date: 10 July 2014 By: Linda van der Westhuizen

In reaksie op die Makhado Munisipaliteit se begrotingsrede het die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) gesê hulle sien uit na die implementering van die toerismeplan, maar dat hulle bekommerd is omdat gewetenlose “tenderpreneurs” die dorp laat agteruitgaan.

Die burgemeester, Raadslid David Mutavhatsindi, het op 27 Junie tydens sy begrotingsrede op Dzanani gesê dat ‘n toerisme-ontwikkelingsplan in vennootskap met ander toerisme rolspelers en –instellings aangepak sal word. “Dit sluit in om ons toerisme produk-eienaars te bevorder, sodat hulle aan plaaslike en internasionale toerismegeleenthede kan deelneem. So sal ons Makhado (Louis Trichardt) as ‘n gewilde toeristebestemming kan bevorder,” het Mutavhatsindi gesê. Die SBBV stem daarmee saam. “Die implementering en suksesvolle bestuur van ‘n toerismeplan sal baie bydra daartoe om toerisme te bevorder,” het me. Inga Gilfillan, voorsitter van die SBBV, gesê. Toerisme word pertinent genoem in die nuwe visie van die munisipaliteit, wat lui dat dit beoog “om die effektiewe gebruik van ekonomiese bronne te verseker om sodoende sosio-ekonomiese noodsaaklikhede aan te spreek deur die mynbedryf, toerisme en landbou.”

Mutavhatsindi het ook gesê dat die munisipaliteit kwaliteit dienste lewer en die SBBV daarvoor geloof dat hulle “agtergekom het dat die weerhouding van dienstegelde … nie die dienste kan verskaf waarvoor hulle reeds veg nie ... Hulle kan getuig dat daar ‘n groot verbetering in dienstelewering is…” het Mutavhatsindi gesê. Die SBBV stem egter nie heeltemal hiermee saam nie. “Die SBBV besef steeds dat die dienste uiters gebrekkig is en die geld wat weerhou is, is as ‘n samewerkingsgebaar oorbetaal. Dienste soos paaie, water en elektrisiteit is steeds ‘n probleem, asook die baie rekeningprobleme wat ons lede ervaar, soos laat en verkeerde en ongespesifiseerde rekeninge,” het Gilfillan gesê.

Mutavhatsindi het melding gemaak daarvan dat die munisipaliteit vir die eerste keer in jare ‘n ouditverslag met ‘n gekwalifiseerde opinie vanaf die ouditeur-generaal gekry het en dat hulle nou werk vir ‘n ongekwalifiseerde opinie (die sogenaamde “skoon” oudit). Die SBBV het die munisipaliteit daaraan herinner dat dieselfde OG-verslag ook melding gemaak het van vrugtelose en verkwistende uitgawes. “Die munisipaliteit behoort dringend hierna te kyk, aangesien dit ‘n kriminele oortreding is,” het Gilfillan gesê.

Hoewel die SBBV hulle dank uitspreek vir die gedeeltes waar die strate herstel is, is baie strate steeds besaai met slaggate en gebreekte randstene en hope vullis wat agterbly waar kontrakteurs gewerk het. “Die munisipaliteit se onderhoud van die sentrale dorp laat veel te wense oor. Dit is onnet werk en gewetenlose tenderpreneurs laat ons dorp agteruitgaan en swak vertoon,” het Gilfillan gesê. Die SBBV het hul kommer uitgespreek omdat daar soveel onbeantwoorde vrae hang rondom tenders en kontrakteurs, soos die tender vir die dorp se nuwe waardasierol en die tenders vir die herstel van strate.

 
 
 

Viewed: 114

 

 
 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT