ADVERTISEMENT:

 

 
 

generic image

Hierdie kinders se regte is nie geskend nie, sê polisie

Date: 08 August 2014 By: Isabel Venter

Die Makhado Polisie het sterk gereageer op bewerings dat hulle hulself skuldig gemaak het aan die skending van Hoërskool Louis Trichardt se leerlinge se menseregte.

‘n Storm het losgebars nadat die polisie op 25 Julie ‘n blitsklopjag by die skool uitgevoer het en leerlinge getoets het vir dwelms of ander verbode middels. Die Zoutpansberger het verlede week berig oor die klopjag en hoe 14 leerlinge gearresteer is nadat hulle positief getoets het vir verskeie verbode middels.

Daar was egter ontstoke ouers wat ná die klopjag gekla het dat die polisie inbreuk gemaak het op hulle kinders se regte. Van die klagte was dat die polisie die klopjag in die openbaar uitgevoer het. Leerlinge wat getoets is vir dwelms is glo ten aanskoue van medeleerlinge en personeel uit die saal geneem vir die toets. Verder word beweer leerlinge se toetsresultate is nie privaat gehou nie en die aangeklaagdes is glo aangehou sonder dat hul regte aan hul voorgelees is. Verder is hulle in ‘n gemerkte polisievoertuig vervoer.

Die polisie het in ‘n verklaring dit duidelik gestel dat hulle uit hul pad gegaan het om te verseker dat die kinders se regte nie geskend word nie. “Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het hulle huiswerk deeglik gedoen, voordat hulle die klopjag uitgevoer het,” het plaaslike polisiewoordvoerder A/O Takalani Madzhigili gesê.

Madzhigili het bevestig dat die polisie net betrokke geraak het op versoek en uitnodiging van die skool en die skoolbeheerraad. “Dit is aan die SAPD verduidelik dat daar ‘n dwelmprobleem is by die skool en dat die polisie se hulp nodig is,” het Madzhigili verduidelik.

Madzhigili het beaam dat die polisie vooraf ‘n ondersoek geloods het om te bepaal of daar redelike gronde is vir so ‘n klopjag. Die koerant kon vasstel dat die dwelmprobleem reeds in 2013 onder die polisie se aandag gebring is. Daarom, sê Madzhigili, het die skool die ouers in ‘n omsendskrywe gewaarsku dat so ‘n klopjag beplan word vir 2014. Die polisie het ook, in samewerking met plaaslike staatsaanklaers, eers ‘n dwelmbewustheidsprogram by die skool gehou vóór die klopjag.

Madzhigili het ook die ouers se klagte aangespreek, veral in terme van hul kinders se reg op privaatheid en waardigheid. “Alle dwelmtoetse was steriel, en die fabriekseël is in die teenwoordigheid van elke getoetste student en ‘n onafhanklike getuie gebreek. Die toetse is gedoen in ‘n private omgewing, in die teenwoordigheid van ‘n polisiebeampte en onderwyser wat dieselfde geslag as die leerling is. Alle lede van die polisie wat die urinetoets uitgevoer het, het Latex handskoene gedra en forensiese polisielede was ook teenwoordig om die verrigtinge te fotografeer,” het Madzhigili gesê.

Madzhigili het verder verduidelik dat die leerlinge wat positief getoets is en in aanhouding geplaas is, se grondwetlike regte op privaatheid ingeperk is. Dit het beteken dat die leerlinge na die hof vervoer moes word, en later na die staatshospitaal vir verdere bloedtoetse. “Die rede hiervoor is dat ‘n bloedtoets meer akkuraat is. ‘n Bloedtoets kan bepaal hoeveel narkotiese stowwe in iemand se stelsel is, en ook onderskei tussen medisinale en onwettige misbruik,” het Madzhigili gesê. 

Madzhigili het bevestig dat die aangehoude leerlinge in ‘n gemerkte polisiebus, met getinte vensters, van die skool na die hof vervoer is. Volgens Madzhigili was dit die gemaklikste voertuig tot hulle beskikking. In terme van wetgewing rus daar nie ‘n verpligting op die polisie om ‘n ongemerkte voertuig te gebruik as minderjariges vervoer word nie, maar wel een wat so min as moontlik inbreuk sal maak op sy of haar reg op privaatheid; derhalwe die getinte vensters.

Madzhigili het gesê dit is nie waar dat gearresteerde leerlinge se ouers nie in kennis gestel is nie, of dat leerlinge se regte nie aan hulle verduidelik is nie. “Toe die kinders by die hof aangekom het, is hul ouers onmiddellik in kennis gestel. Indien ‘n ouer nie opgespoor kon word nie, is ‘n ander familielid of voog in kennis gestel. Sosiale werkers is ook in kennis gestel om te konsulteer met die leerlinge en hul ouers. Toe die ouers geskakel is, is hulle ook ingelig dat die kinders honger en dors is, en die ouers het saam met die staatsaanklaers verseker dat hulle gevoed word.”

Madzhigili het bevestig dat die leerlinge nooit saam met volwassenes in aanhouding geplaas is nie. “Tensy die ouers wil argumenteer dat die vier leerlinge wat oor die ouderdom van 18 is, geklassifiseer word as volwassenes – dit is egter, op ‘n meer ernstige noot, ‘n belaglike argument,” het Madzhigili gesê. Hy het bygevoeg dat dit nie die laaste klopjag is wat by die skool gedoen sal word nie.

 

 
 
 

Viewed: 369

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT