ADVERTISEMENT:

 

 
 

Mev. Petro Weyers (66) het weer teruggetrek na haar woonstel waar sy en haar kleindogter, Chaney (6), op 6 Februarie wreedaardig aangeval is tydens 'n geweldadige huisroof. Die twee se uiterlike beserings het intussen genees, maar innerlik is die trauma en vrees van dié aanval nog vars in die geheue.

Uiterlike beserings genees, maar innerlike wonde bly rou...

Date: 07 March 2014 By: Andries van Zyl

Uiterlik het hul beserings bykans genees, maar innerlik is die trauma, hartseer en vrees nog so vars in hul geheue soos die aand wat hulle aangeval en vir dood agtergelaat is.

Die wreedaardige aanval op mev. Petro Weyers (66) en haar kleindogter Chaney (6) van Makhado (Louis Trichardt) het plaaslik, sowel as nasionaal, media-opslae gemaak.

Die twee is gedurende die vroeë oggendure van 6 Februarie, terwyl hulle geslaap het, deur twee mans oorval tydens ‘n gewelddadige huisroof. Een van die mans het vir klein Chaney gewurg totdat sy haar bewussyn verloor het. Hy het haar, skynbaar onder die indruk dat sy dood is, opgetel en op die vloer gegooi, voor haar angsbevange ouma. Daarna het die twee mans vir bykans twee ure vir Petro gemartel deur haar te slaan en ses keer te wurg. Die aanvallers het ook vir Petro vir dood agtergelaat. Wonderbaarlik het beide Petro en Chaney die aanval oorleef. 

Bykans ‘n maand na die aanval het die Zoutpansberger Dinsdag weer by Petro gaan inloer. Sy en Chaney het intussen weer teruggetrek na die woonstel waar die aanval plaasgevind het. Ná die aanval het hulle vir twee weke by Petro se broer, mnr. Johnny Gouws, gebly.

“Chaney kry nagmerries. Ek moet haar twee keer ‘n nag wakker maak. Ek slaap natuurlik glad nie. In die dag probeer ek so 'n bietjie slaap ... dit is net, daardie vrees is in jou!” sê Petro en veg moedig om die vlak trane weg te steek. “Iemand wat nie self deur so iets is nie ... kan nie verstaan nie ... Hulle sê ‘Kry jou kop reg’ Hoe doen jy dit?!” voeg sy by.

Van Petro en Chaney se uiterlike beserings is daar min te sien, maar innerlik is dit ‘n ander storie. “Sy [Chaney] het regtig ‘n vrees. Haar arms en goed, haar nek, lyk beter, maar dit is binnekant ... dit is binnekant wat nie reg is nie,” sê Petro.

Petro, wat ‘n diabeet is, se eie gesondheid het ook dramaties agteruit gegaan na die aanval. Voorheen het sy gesukkel met sig in haar een oog. “Hulle het my baie hard geslaan op my oë en nou is altwee die oë swak. Ek kry verskriklike hoofpyne. My liggaam pyn, my bene waar hulle my vasgemaak het, het definitief binne seergekry. Ek kan nie lekker opstaan en loop nie. Die ergste is die kop wat nie wil ophou dink nie ... ek bly daardie gesigte, die toneel, voor my sien ... en daardie stem in my oor ... ek sal dit nooit vergeet nie ...”

Beide Petro en Chaney het kort na die aanval vir berading gegaan. Oor die sessie by die sielkundige sê Petro: “Ek praat, maar Chaney nie ... die sielkundige het nou gesê ek moet probeer dat sy oor die aanval praat, maar sy maak toe ..."

Wat Petro steeds erg ontstel, is Chaney se hulpkrete die nag.

“Weet jy, sy spring so met die handjies saam onder haar ken. Dan vra ek vir haar ‘Wat maak jy nou?’ Dan sê sy ‘Ouma, hulle het jou so vasgemaak’ ... Sy het drie keer mos vir my geroep ‘Ouma!, Ouma! Ouma!’ en dan slaan hy haar en hy wurg haar. Later wou sy weet ‘Hoekom het hulle dit aan ons gedoen?’ en dan antwoord ek ‘Ek weet nie my kind’.  Dan wil sy weet ‘Hoekom het ouma nie net my hand gevat nie?’”

Dan loop die trane as sy haar antwoord aan Chaney onthou: “Jy moenie dink ek wou jou nie help nie ... ek kon nie ... ek was vas ...”

Weldoeners wat gelees het van Petro en Chaney se wrede aanval het ingespring om te help om hulle woonstel bietjie veiliger te maak. Johnny self het diefwering aan die kamervensters aangebring. Mnr. Fanie Geyer van Big 5 Sekuriteit het op sy beurt ‘n alarmstelsel kom installeer. “Dit is ‘n baie groot geskenk van Big 5. Mens voel bietjie veiliger ... dit gaan maar seker bietjie tyd vat vir my kop om reg te kom. Die pastoor het my besoek, toe sê hy ‘Petro, maak jou klaar vir ‘n jaar wat jy gaan sukkel’. Hulle het vir ons kom bid, maar Chaney het definitief nog hulp en gebede nodig,” sê Petro.

Dit is duidelik dat Petro en Chaney nog baie berading en ondersteuning nodig het, veral Chaney. “Ek het nie geld om weer te gaan nie. Ons was net een keer daar, wat Johnny betaal het ... R700 ‘n uur. Ek kan dit nie bekostig nie ...”

Intussen slaap Petro en Chaney elke aand met die ligte aan. “As ek weet hulle het iemand gevang, sal ek beter voel ... Hulle [die polisie] het tog goeie afdrukke gekry...” sê Petro.

 
 
 

Viewed: 522

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Petro en klein Chaney afgeneem ure na die wrede aanval.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT