ADVERTISEMENT:

 

 
 

Waterbeperkings is steeds van krag

Date: 03 October 2003 By: Linda van der Westhuizen

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Aan die einde van Septembermaand word teruggekyk oor nog 'n uiters droë maand in die streek, met implikasies vir beide landbou- en dorpsgebied.

Volgens die weerkantoor in Polokwane het die weerstasies vir September maar min reën aangemeld, met Mara 1,9mm, Bandelierkop 23,5mm, Louis Trichardt 19,6mm, Soekmekaar 10,8mm, Levubu 28,2mm, Waterpoort 2,4mm en geen reënval vir Tshipise en Pontdrift. Die Albasinidam het intussen verder gesak met 'n damvlak van 52,4% op 30 September, volgens die gegewens van die Makhado Munisipaliteit.

Die feit dat dele van die Limpopo as droogtegeteisterde gebiede verklaar is, het ook nog geen hulp vir die boere meegebring nie. Volgens die LUK vir Landbou, mnr. Aaron Motsoaledi, is sewe landdrosdistrikte in die provinsie teen die einde Julie tot rampgebiede verklaar weens die droogte. Motsoaledi sê dat ses miljoen rand bewillig is vir noodleniging aan die landbousektor.

"Voer is vanaf April/Mei tot nou met 75% gesubsidieer," het mnr. Motsoaledi gesê. "Van die ses miljoen rand vir droogtehulp het ons nie 'n sent gekry nie," het mnr. Gideon Meiring, ondervoorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie vandeesweek gesê. Die sewe gebiede wat tot rampgebiede verklaar is, is Musina, Muthale, Makhado, Blouberg, Mogolakwena, Lepalale (Ellisras) en Thabazimbi. Boere agter die Soutpansberg is veral swaar getref deur die droogte. Wildboere voer hul wild al 'n geruime tyd en daar is nog net op enkele plekke gras te siene. Mnr. Eben de Bruyn van die Soutpansberg DLU wat 'n landbouvoorligter in verband met die droogtehulp gaan spreek het, het die DLU meegedeel dat daar onomwonde aan hom gesê is dat die "hulp vir die opkomende boere is". Mnr. Meiring het bygevoeg dat die wildboerdery blykbaar nie as boerdery gesien word nie. Swak pryse by wildveilings toon steeds hoe ernstig die droogte die wildboerdery tref.

Intussen is waterbeperkings in die Makhado Munisipaliteit steeds van krag. Daar mag slegs met 'n tuinslang in die hand natgelei word en geen sproeiers mag gebruik word nie. Bewoners van huise met gelyke straatnommers kan op Maandae, Woensdae en Vrydae tuin natmaak, terwyl dié met ongelyke straatnommers op Dinsdae, Donderdae en Saterdae hul beurt kry. Inwoners kry nog steeds die eerste ses kiloliters water gratis, waarna daar volgens 'n glyskaal betaal word. Die tarief is R3,32 per kiloliter, maar bo 25 kiloliter styg die tarief na R3,50 per kiloliter. Volgens mnr. Dopper Kruger van die Makhado Munisipaliteit kom 'n normale huishouding gewoonlik klaar met 25 kiloliter of 4 000 gallon in die ou terme.

 
 
 

Viewed: 890

 

 
 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT