ADVERTISEMENT:

 

 
 

Provinsiale regering beskuldig van godslastering

Date: 03 October 2003 By: 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Geestelike leiers en verskeie politieke partye het met verontwaardiging gereageer op 'n parodie op die Onse Vader in die September uitgawe van Great North News, die amptelike nuusblad van die Limpopo Provinsiale Regering.

Die publikasie van 'n "gedig", wat 'n parodie is op die Onse Vader-gebed, word verwerp as godslastering, 'n belediging vir Christene, 'n toonbeeld van ongevoeligheid en uiterste swak smaak.

Die gedig is aan premier Ramatlhodi opgedra met die viering van sy verjaardag en is na bewering geskryf deur 'n skoolkind.

Die gedig word verwerp as godslasterlik en as poging tot vergoddeliking van die premier en sy regering. Christen geestelike leiers het dit eenparig verwerp as 'n bespotting wat erg aanstootlik is vir Christene se sin vir fatsoenlikheid. Een geestelike het gesê dit is hartseer dat 'n Christen gebed, wat bedoel is om mense te verenig, in die regeringspublikasie gebruik word om mense te verdeel en vra die vraag of die premier en sy gesin hulle die lofprysing laat welgeval? Dr. Phillip Venter, van die Nederduits Gereformeerde Kerk Soutpansberg Gemeente, sê die gedig spot met Christelike waardes en maak 'n bespotting van 'n baie bekende Christelike gebed.

Vader Stephan van die Roomse Katolieke Sendinggemeente sê hy voel hartseer vir die betrokke publikasie en wou weet waarom 'n koerant so iets sou publiseer. Die kind se onderwyser behoort met hom te praat en aan hom en sy hele klas te verduidelik waaroor dit werklik gaan.

Pastoor Gert Schoeman van die Lede in Christus gemeente sê die Bybel waarsku uitdruklik dat mense wat uit die Bybel wil weglaat of daaraan wil toevoeg, met vuur speel.

Dr. C.J. Roelofse van die African Christian Democratic Party (ACDP) sê dit is duidelik dat die leerder reeds 'n slagoffer is van die regering se poging om 'n sisteem te skep waarin die regering die voorsiener van mense se behoeftes is, tot by die punt van totale afhanklikheid. Dit is niks anders nie as verslawing van die kiesers deur die regering, wat gratis woonhuise, mediese sorg, voedingskemas, kinderonderhoudtoelaes, water en pensioene uitdeel.

Die Vryheidsfront beskou die gedig as verwerplik en sê dit is nie net godslastering nie, maar het ook 'n sterk negatiewe rassistiese inslag wat nie in die huidige politieke bestel geduld mag word nie. Die party voel dat die premier moet kennis neem dat sulke uitsprake onaanvaarbaar is en dat dit 'n ongevraagde klap is in Afrikaners se gesig.

Die Demokratiese Alliansie beskryf die publikasie as 'n buitengewone gebrek aan gesonde oordeel aan die kant van die Limpopo Provinsiale Regering. Die DA spreek sy skok en verbasing uit oor wat beskryf word as uiterse swak smaak in 'n amptelike regeringspublikasie en sê dit weerspieël 'n kommerwekkende gebrek aan respek vir die Christelike godsdiens. Die gewraakte parodie begin met die woorde: "Our premier who art in parliament. Hallowed be thy government …" en bevat ook verwysings na "boers" wat met "apartheid" gelykgestel word.

 
 
 

Viewed: 771

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT