ADVERTISEMENT:

 

 
 

generiese foto

Skelms se kennis van besigheid onstellend

Date: 03 July 2014 By: Isabel Venter

Die Zoutpansberger se berig in voorverlede week se uitgawe oor die selfoonlugtyd-swendelaars wat inwoners om die bos lei, het nog slagoffers in Makhado (Louis Trichardt) aan die lig gebring.

Alma Meyer, wat die bestuurder is van die Safari Caltex Petrolhawe en Fresh Stop winkel, het ook in die swendelaars se web beland. Net soos die sakeman waaroor die koerant eerste berig het, is Alma ook gekontak deur ‘n man wat homself voorgedoen het as ‘n verkoopspersoon. Hierdie keer van GloCell.

Die boef was glo kniediep in die moeilikheid – hy is gevang vir ‘n spoedoortreding naby Pretoria, en het gevra dat Alma asseblief lugtyd by die GloCell terminaal in die winkel moet aflaai en die kodes vir hom deurstuur as ‘n omkoopmiddel. Die man het by Alma gepleit, en gesê sy hoef nie bekommerd te wees nie, hy sal self die papierwerk uitsorteer met GloCell se hoofkantoor.

Só het die bedrag, in lugtyd, 'n astronomiese R28 000 geword. Elke keer wat Alma die oproep wou beëindig, het die man haar die versekering gegee dat hy self die skuld sal betaal. Die bedrieër het ook vir Alma gesê hy weet dat die Fresh Stop winkel binne-kort ‘n openingspromosiedag beplan en dat hy as haar verkoopsverteenwoordiger sal sorg dat GloCell pryse borg vir die dag. “Dit is ontstellend; hy het alles geweet van die winkel, en hoe die GloCell stelsel werk,” het Almal gesê. “Hy het tot geweet dat die GloCell terminaal probleme gee en vertel hy is op pad van die Kaap en dit gaan kom reg maak! Hoe het hy geweet?!”

Alma het onraad vermoed en moes ‘n wit leuentjie vertel en vir die man sê dat die terminaal se transaksielimiet bereik is, net om die oproep te kon beëindig. Sy het dadelik die regte GloCell verteenwoordiger se nommer gaan opsoek en hom gebel. Dié was nog in die Kaap en ontken dat dit hy was wat gebel het.

Met dié inligting het Alma die saak by GloCell aangemeld, wat die saak verder ondersoek het en van die lugtydkodes kon kanselleer. Sy het ook probeer om die saak by die plaaslike polisie aan te meld, sodat hulle die boewe se selfoonnommer kon naspoor. “Maar hulle het net vir my gelag en gesê daar is niks wat gedoen kan word nie,” het Alma gesê.

Sy het die selfoonnommer ook aan die Zoutpansberger bekend gemaak. Die nommer het egter onbeantwoord gebly by verskeie pogings. ‘n SMS, wat as lokaas gestuur is aan die nommer, om te vra of hulle nog lugtydnommers soek, het resultate opgelewer.

Binne minute het die koerant ‘n SMS terug ontvang wat gelees het: “Yes please.” Die SMS is vinnig deur ‘n oproep opgevolg. ‘n Vrouestem het op die lyn gekom wat, sonder om doekies om te draai, gevra het vir die kodes. Sy het haarself as kaptein Gabriel voorgestel en bly vra vir die kodes. Sy het bevestigend geantwoord toe die koerant vir haar vra of sy van die Makhado polisiestasie is, maar vinnig die foon doodgedruk toe sy gevra is vir haar rangnommer.

Dié nommer het sedert die koerant se navraag onaktief geword en lui nie meer as dit geskakel word nie.

Alma het intussen al die motorhawe se selfone en landlynnommers laat nagaan vir afluisterapparate. Niks kon gekry word nie, en die swendelaar het nog nie weer teruggebel nie. Sy het bevestig dat GloCell darem al van die verlore lugtyd kon terugkry, en ‘n beroep gedoen op inwoners om lig te loop vir hierdie swendelaars. “Dit is duidelik dat hulle die dorp en omgewing ken,” het sy gesê.

Sover die koerant kon vasstel, is hierdie voorvalle een van die heel jongste maniere om mense om die bos te lei. Ander swendelaars sal ‘n SMS stuur wat sê ‘n selfoongebruiker het gratis lugtyd gewen, en hulle vra om ‘n sekere kode te bel en so hulle lugtyd steel. In beide gevalle geld dieselfde voorsorgmaatreëls, waarvan die belangrikste is: As dit te goed klink om waar te wees, dan is dit waarskynlik nie waar nie.

 
 
 

Viewed: 348

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT