ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die wenners van die 70km-resies. Van links af staan Elanie Havenga (organiseerder), Gerhart Meyer (3de), Fanus Eksteen (2de), Mario Ferreira (1ste) en Michael Maynier van Werda Toyota (borg).

Fietsryers moes hard werk vir podiumplek

Date: 04 November 2016 By: Anton van Zyl

Die hitte het Saterdag sy tol geëis tydens die Levubu Mountainbike Classic en die fietsryers moes behoorlik sweet om hul medaljes te verdien.

In die 70-km resies het die drama reeds vroeg die oggend begin toe die gunsteling, Kombo Bere, moes onttrek. Kombo het ‘n sny op die sywand van sy band gekry en kon dit nie herstel nie. Dit het die deur oopgelaat vir ryers soos Mario Ferreira om ongehinderd die roete aan te durf. Mario was eerste oor die wenstreep in 03:12:51. Fanus Eksteen was tweede in 03:21:18, gevolg deur Gerhart Meyer in die derde plek in 03:26:01.

Daar was geen dames wat die 70-km roete aangedurf het nie.

In die 35-km resies het Marno van Zyl geen kompetisie gehad nie. Hy het in 01:27:00 klaargemaak, amper tien minute voor Rohan Cronjé, wat tweede geëindig het in 01:36:16. De Wet du Toit was derde in 01:36:38.

Die dameskampioen in die 35-km resies was Simoné Oberholzer. Sy het die roete voltooi in 02:11:28. Ruda Schoeman was tweede in 02:18:11 en Lizelle Schoerie derde in 02:22:55.

Die 10-km resies het vir baie opwinding onder die jongklomp gesorg en kinders so jonk as 6 jaar het deelgeneem. Die eerste seun oor die wenstreep was Shaun de Beer, in 0:35:29. Trevor de Beer het enkele sekondes ná hom geëindig (0:35:50), met Brendan Bruce in die derde plek in 0:44:03.

Anesca de Jongh het die afdeling vir meisies gewen in 0:58:04. Johensia Meiring was tweede in 01:00:12 en Michelle Steyn was derde in 01:06:45.

Die organiseerders het die fietsryers bedank wat die hitte trotseer het en die wedren ondersteun het. Een van die organiseerders, Elanie Havenga, het die volgende bedanking deurgestuur:

“Levubu CVO en Zoutpansberg CVO wil asseblief die volgende borge bedank wat die dag moontlik gemaak het:

Werda Toyota; Tru Tombstones; Levubu Slaghuis; Levubu Droëvrugte; Nel, Havinga & Corbett; Ocean Basket; Eden Oil; Roman’s Pizza; Du Toit’s Bande; TMS Security; Tri-Quip; Spar; Pie City; Maud Noodhulp; Wolkbergplase; Dorinkop Boerdery; Danny vir die klank en musiek.

Baie dankie vir elke ouer van Levubu CVO en Zoutpansberg CVO wat so lekker saamgewerk het om van die dag so ’n groot sukses te maak. Ons hoop dat ons almal weer volgende jaar sien met die 2017 Levubu M.T.B. Classic.”

 
 
 

Viewed: 1223

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

Die 6-jarige Cara Bruce is 'n meisie wat nie terugstaan vir 'n uitdaging nie. Sy het die strawwe 10 kilometer voltooi en haar afdeling gewen.

Die wenners in die mansafdeling van die 35km-resies. Van links af staan Elanie Havenga (organiseerder), De Wet du Toit (3de), Marno van Zyl (1ste), Rohan Cronjé (2de) en Michael Maynier van Werda Toyota (borg).

Die wenners van die dames-afdeling in die 35 kilometer resies. Voor staan Lizelle Schoerie (3de), Simoné Oberholzer (1ste), Ruda Schoeman (2de) en Michael Maynier van Werda Toyota (borg). Agter staan Elanie Havenga (organiseerder).

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT