ADVERTISEMENT:

 

 
 

Op sy agterpote stap hy rond, met regop oortjies en groot wakker ogies… dis Willehond, wat met net twee bene gebore is. Inlas: “Ma” Leonie Oberholzer en Willehond.

Willehond stap net soos ´n mens

Date: 09 September 2011 By: Linda van der Westhuizen

Op sy agterpote stap hy rond, met regop oortjies en groot wakker ogies … dis Willehond, wat met net twee bene gebore is en onlangs sy tweede verjaarsdag gevier het.

Met die Sokker Wêreldbeker het die Australianers gedink hy is ‘n kangaroe-hondjie, vertel Willehond se “ma”.

Me. Leonie Oberholzer van Louis Trichardt onthou die dag toe hulle die hondjie vir dood opgetel het op ‘n plaas sowat 25 km noord van Louis Trichardt.

“Dit was net ‘n vel en geraamte wat daar in ‘n beeskrip gelê het. Waar sy voorpote moes wees, was daar twee stompies. Hy was klein en kon op my twee hande lê. Sy stompies was rou soos hy probeer beweeg het. Ek weet nie hoe hy oorleef het nie. Ons het daaraan gedink om hom te skiet, omdat hy gely het,” sê Leonie.

Met stompies en al het hy egter in die Oberholzers se lewe en harte ingeklim. Op hulle bed kon hy beweeg sonder om seer te kry. Iemand het gehelp deur hom op ‘n webwerf te plaas en mense het geld oorbetaal sodat hy veearts toe geneem kon word vir sy inspuitings.

“Daar gekom, het hulle sommer aanvaar dat ons die misvormde hondjie gebring het om hom te laat uitsit, maar ons het hulle gou laat verstaan dat hy gaan lewe. Hy het so ‘n wil om te lewe. Hy het die hart van ‘n leeu. Daarom het ons hom ‘n sterk naam gegee … Willehond,” sê Leonie.

Willehond se lyding is verby en liefde kry hy nou in oorvloed. Sy gunsteling is om tee uit sy eie blou beker te drink. Hy staan op die agterpootjies en druk dan sy snoet in die beker in, terwyl Leonie nog besig is om dit koud te blaas. Hy is baie spelerig en geniet kinders. Vir Leonie, van wie hy heeltemal afhanklik is, is hy baie lief en as sy met hom raas, sak sy spits ore plat teen sy kop. Sy enigste gesondheidsprobleem is dat hy ‘n tipe ligte epileptiese aanval kry.

“Willehond is ‘n inspirasie vir my. Hy het wonderlik aangepas, ten spyte van sy probleem. Hy is ons eie Suid-Afrikaanse Faith,” sê Leonie. Sy verwys na Faith, die hondjie van me. Jude Stringfellow van Amerika, wat net twee agterpote het en saam met sy ounooi gaan as sy motiveringspraatjies lewer.

“Willehond is al genooi na ‘n kleuterskool en ‘n privaatskool. Die kinders is mal oor hom,” sê Leonie. Die tema by die kleuterskool het daaroor gegaan om kinders met gebreke mooi te behandel.

“Party mense dink ‘n mens kan so ‘n hondjie vir tentoonstelling aanhou en het my al gevra of ek met hulle teel! Ek raai dit vir niemand aan om so ‘n hondjie te versorg nie, net as jy die hart het daarvoor. Dit is ‘n konstante verantwoordelikheid, maar Willehond het baie vreugde in ons lewens gebring. Mense kan my maar kontak as hulle Willehond vir inspirasie wil gebruik,” sê Leonie. Sy kan geskakel word by 076 395 0112.

 
 
 

Viewed: 272

 

 
 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT