ADVERTISEMENT:

 

 
 

Makhado Munisipaliteit

Weg met klappers!

Date: 16 January 2017 By: Anton van Zyl

‘n Groepie plaaslike diereliefhebbers is in die proses om ‘n petisie op te stel en sodoende die Makhado Munisipaliteit te versoek om die verkoop en afvuur van klappers en vuurwerke in die munisipale gebied geheel en al te verbied. Dit is in reaksie op die afvuur van vuurwerke oor die feestydperk en die gepaardgaande traumatisering van diere.

Een van die persone wat baie sterk voel oor die verbod op die afvuur van klappers, is plaaslike veearts Nada de Villiers. Sy het op haar Facebook-blad te velde getrek teen die onverantwoordelike gebruik van vuurwerke. Nada wil nie net die afvuur van vuurwerke laat verbied nie, maar ook die verkoop daarvan. Haar veldtog het vinnig reaksie ontlok, met inwoners wat hul eie ervarings gedeel het. ‘n Plaaslike inwoner het vertel hoe sy oujaarsaand nog tot in die vroeë oggendure die dorp se strate deurkruis het, op soek na haar honde.

Nada se veldtog word sterk gesteun deur die plaaslike tak van die Dierebeskermingsvereniging. Die tak se woordvoerder, Alicia Thomas, het gesê dat die vuurwerke Oujaarsaand besonder erg in die dorp was. Heelwat van die vuurwerke is afgevuur by oop areas soos die rugbyveld, die park by die inligtingsentrum en parke in die dorp. Die parke is egter naby aan plekke waar troeteldiere is en die rugbyvelde is langs die dorp se perdestalle.

“Hierdie jaar se vuurwerke was aansienlik erger as laas jaar s’n,” sê Alicia. Die DBV het in die eerste paar dae van die nuwe jaar 10 diere ingeneem wat duidelik verlore geraak het nadat hulle verskrik by huise weggehardloop het. ‘n Verdere 10 diere is deur inwoners gevind en by die DBV besorg. Die DBV kon met behulp van sosiale media die diere terug by hul eienaars kry.

Beide Nada en Alicia was egter bekommerd oor die hoeveelheid dooie diere in die strate. “Wat vir my opvallend was, was die dooie katte wat in die strate gelê het wat deur motors raakgery is,” sê Alicia. “Die diere moes verskrik rondgehol het en is toe raakgery,” sê sy.

Die blatante minagting van wetgewing blyk ook ‘n ernstige probleem te wees. Alicia vertel dat ‘n geval aangemeld was waar ‘n opvallend dronk man met sy wit dubbelkajuitbakkie in Songozwistraat verby Ocean Basket gery het en ‘n klapper by die venster uit gegooi het. “Arme Johan (die motorwag) se babahondjie was so getraumatiseerd dat hy hom veearts toe moes vat,” sê Alicia.

Die afvuur van klappers in die Makhado Munisipaliteit word deur die nodige bywette gereguleer. Die regulasies bepaal onder meer dat dit net met die nodige toestemming in vasgestelde areas afgevuur word. Dit is egter duidelik dat inwoners hulle min steur aan die wetgewing en dat die polisiëring daarvan glad nie effektief is nie. Alicia vertel dat ‘n geval by hulle aangemeld is waar die polisie geskakel is om op te tree teen persone wat vuurwerke afskiet. “Toe hulle (die polisie) by die plek aankom waar die vuurwerke geskiet word, het hulle sommer self die vuurwerk aangesteek en saamgekuier,” sê Alicia.

Die leier van die Demokratiese Alliansie in die provinsie en lid van die Provinsiale Wetgewer, Jacques Smalle, het op Nada de Villiers se veldtog gereageer en voorgestel dat ‘n petisie opgestel word waarin versoek word dat die beleid rondom die afvuur van vuurwerke hersien word. Hy het gesê dat, indien meer as 1 000 persone die aksie steun, die provinsiale regering gedwing kan word om die saak te debatteer en veranderinge aan te beveel.

Dit blyk dat dit die roete vorentoe gaan wees vir Nada en die DBV. ‘n Konsep-petisie getiteld “Ban the Bang” is reeds opgestel en word regstegnies versorg. Dit behoort binne die volgende paar dae gefinaliseer te wees en versprei te word.

In die petisie word die gevare van vuurwerke beklemtoon, nie net vir diere nie, maar ook vir mense wat permanente gehoorskade of ander beserings kan opdoen.

Die petisie vra onder meer vir die volgende:

* Die verbod op die afvuur van klappers in die dorp
* Die verbod op die verkoop van vuurwerke in die dorp
* Dat ‘n taakspan saamgestel word wat die wetstoepassers bystaan om doeltreffend op te tree teen diegene wat die wet verbreek.
* Dat die stelsel van hondelisensies weer ingestel word om fondse te genereer om sulke operasies te finansier en om verantwoordelike eienaarskap van troeteldiere aan te moedig.

“Dis nou tyd vir die mense in ons dorp wat so sterk hieroor voel om saam te staan en hierdie deur te sien, sodat ons ‘n verskil kan maak, die stem kan wees vir dié wat nie vir hulleself kan praat nie!” sê Alicia.

 
 
 

Viewed: 783

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT