ADVERTISEMENT:

 

 
 

Inwoners se sambrele werk die afgelope tyd behoorlik oortyd en die verwagting is dat die huidige nat toestande vir ‘n geruime tyd nog sal voortduur.

Streek lekker nat, maar droogte nog nie gebreek

Date: 18 December 2016 By: Andries van Zyl

Terwyl groot dele van die land nog in die wurggreep van ‘n knellende droogte is, kon die goeie reën neerslae oor die Soutpansberg die laaste paar weke nie op ‘n beter tyd gekom het nie.

Inwoners se sambrele werk die afgelope tyd behoorlik oortyd en die verwagting is dat die huidige nat toestande vir ‘n geruime tyd nog sal voortduur. Einde November het die voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, mnr. Fanie Havinga, opgemerk: “Ek glo dit gaan goed reën. Die Hemelse Vader sal nie vir altyd die reën vashou nie.” Dit blyk dat gebede nou verhoor word.

Die hemelse sluise het behoorlik die afgelope naweek oopgemaak met besonderse goeie reën wat Saterdagaand tot Sondagoggend wyd oor die streek uitgesak het. Daar is vanaf ‘n boer in die Alldays-omgewing berig ontvang dat hy gedurende die aand 107 mm gemeet het. In Levubu, op die plaas Laastgevonden, is 50 mm gemeet – ‘n vroeë Kersgeskenk vir die boer. Nie ver daarvan af nie, is daar op die plaas Beaufort 63 mm gemeet. Vivo-dorp het ook goeie reën (50 mm) gekry, alhoewel dit met hael gepaard gegaan het. By Bandelierkop is berig dat dit op een boer se plaas 17 mm gereën het. Louis Trichardt self was lekker nat, met inwoners wat tot 50 mm gemeet het.

Wat verblydend is, is dat die naweek se goeie neerslae goed opgevolg is met nog deurdringende reën oor die hele streek. Vanaf Levubu is Woensdagoggend gerapporteer dat hulle deur die aand sowat 30 mm gemeet het. By Bandelierkop is 5 mm gerapporteer, maar elke druppel help. Vivo het tussen 10 mm en 20 mm ontvang en vanaf Waterpoort is laat weet dat boere tussen 20 mm en 30 mm ontvang het. As boere in die Alldays-omgewing nie pasop nie, lyk dit of hulle gaan wegspoel. Volgens inligting het van die boere in hierdie omgewing reeds die afgelope maand tot 160 mm ontvang. Saam met die naweek se goeie reën staan Louis Trichardt se totaal vir die afgelope week op sowat 90 mm.

“Dit was goeie opvolgreën, nie net ‘n bietjie nie. Teen die tempo wat dit nou reën, lyk dinge baie goed. Die voorspellings vorentoe lyk ook goed. Vir ‘n beter verjaarsdaggeskenk kon ek nie vra nie,” het Havinga Woensdagoggend, op sy verjaarsdag, gesê.

Die goeie reën van die afgelope paar weke kon vir wild- en veeboere noord van die Soutpansberg nie op ‘n beter tyd gekom het nie. Tot voor die reën was daar feitlik geen weiding meer oor nie en het die koedoes begin vrek. “El glo die weiding sal vinnig herstel. Selfs Musina het die naweek 20 mm gehad en vir daardie area is dit baie reën. Alldays spoel weg,” het Havinga gesê.

Vir neutboere het die goeie reën egter te laat gekom. “Die skade is klaar gedoen en boere sal maar die jaar moet deurtrek. Die reën wat ons nou kry, bepaal die oes vir 2018. Tog lyk verkope nog goed en sal neutboere goeie pryse kry. Meeste boere diversifiseer egter, want jy kan nie al jou eiers in een mandjie sit nie. So lyk die koejaweloes weer aan die ander kant goed hierdie jaar,” het Havinga gesê.

Of die goeie reën van die afgelope paar weke die droogte in die Soutpansberg gebreek het, het Havinga gesê dit is voortydig om so ‘n voorspelling te maak. “Die Levuburivier hier by ons staan nog. Die riviere en ondergrondse water is nog nie aangevul nie. As ons nie genoeg reën kry nie, gaan ons volgende jaar ‘n droë winter hê,” het Havinga gesê.

Maar Havinga, soos talle ander boere, bly optimisties. “El Nino het omgeswaai na La Nina en ons sal moet sien wat gebeur. Ons het reeds goeie reën gekry en ons glo dit gaan aanhou reën. Ons hou die heeltyd net vas in ons geloof,” het Havinga gesê.

 
 
 

Viewed: 789

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT