ADVERTISEMENT:

 

 
 

Oupa in hof oor “lollery”

Date: 05 December 2016 By: Isabel Venter

‘n Oupa wat na bewering sy eie kleindogter gemolesteer het, se verhoor sal binnekort in die Louis Trichardt Streekshof begin.

Dié 76-jarige man woon in Pretoria, maar sal hier verskyn omdat sy kleindogter van die streek is en die beweerde misdrywe hier gepleeg is.

Die man het Maandag vlugtig in die plaaslike hof hier verskyn, sodat daar ‘n verhoordatum vasgestel kon word. Sy identiteit kan nie bekend gemaak word nie om die identiteit van sy kleindogter te beskerm.

Volgens die man se klagstaat word hy daarvan beskuldig dat hy sy kleindogter vir ‘n geruime tyd onsedelik betas het toe sy 13 jaar oud was. Sy het glo teenoor haar ma gebieg wat met haar gebeur het, omdat haar oupa nie wou staak met sy gedrag nie en sy bang geword het om by hom en haar ouma te gaan kuier.

Die man staar verskeie klagte wat verband hou met die seksuele aanranding van ‘n minderjarige in die gesig. Hy sou glo teenoor die dogtertjie se ouers erken het dat hy haar gemolesteer het, maar het onskuld erken op die aanklagte wat voor hom gehou is in die hof. Die man se saak is daarom uitgestel tot en met Mei volgende jaar, waarna sy verhoor na verwagting sal begin.

Hierdie is die tweede soortgelyke saak wat die streekshof in 2016 moes aanhoor.

Twee jaar gelede is nog ‘n oupa van Louis Trichardt deur die polisie se plaaslike Kinderbeskermingseenheid aangekeer, nadat hy glo sy eie kleindogter- en seun gemolesteer het.

Dié 57-jarige man is in September 2014 aangekeer en vrygelaat op R2 000 borg. Sy verhoor het hierdie jaar begin, nadat hy skuld ontken het op die aanklagte teen hom. Hy is ook aangekla op klagte wat verband hou met die seksuele aanranding van minderjariges. Die man is die twee kinders se biologiese oupa en het hulle glo seksueel gemolesteer terwyl hy by die kinders se ouerhuis tuisgegaan het. Hy het intussen verhuis na Kempton Park, maar staan ook hier tereg omdat die beweerde oortredings hier gepleeg is. Sy verhoor sal in April volgende jaar hervat.

 
 
 

Viewed: 1936

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT