ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die Houtrivier by Mara het verlede Saterdag afgekom, nadat tot 55 mm sedert die vorige dag oor die streek uitgesak het. Foto verskaf.

Naweek se reën ‘n goeie “ysbreker” vir seisoen

Date: 04 December 2016 By: Andries van Zyl

Die goeie reën van die afgelope naweek is hartlik verwelkom, veral deur boere noord van die Soutpansberg.

“As boer bly mens maar altyd optimisties. Die reën het nou wel laat gekom, maar dit het wyd geval,” het mnr. Fanie Havinga, voorsitter van die Soutpansberg Distriks Landbou-unie, Woensdag gesê.

Ten spyte van die goeie reën van die afgelope naweek bly Havinga steeds bekommerd. “Maar die reën was nie genoeg nie. Levubu het maar nog net ‘n fraksie van die normale reënval gekry en ons moet nog kry. Die Levuburivier is nog kurkdroog,” het Havinga gesê.

Wat Havinga die meeste bekommer, is dat boere, soos verlede jaar, weer hierdie jaar ‘n “groen droogte” kan ervaar. Dit is wanneer dit net genoeg reën vir die plante en bome om groen te word, maar daar eintlik nog ‘n droogte heers met te min grondvog en geen aanvulling tot die ondergrondse watertafels nie. “In hierdie stadium lyk die neutoeste nog swak, met verwagte oesopbrengs wat maar laag is. Ons verwag nie vuurwerke vir volgende jaar se oeste nie, baie af van normaal,” het Havinga gesê.

Daar is egter groot dankbaarheid vir elke druppel wat geval het. “Boere in die Vivo- en Dendron-omgewing is baie bly oor die naweek se goeie reën. Daardie ouens is dankbaar, want hul koedoes het begin vrek omdat daar nie meer blare aan die bome was nie. Dit het selfs deurgereën tot in Musina,” het Havinga gesê.

Havinga het gesê die reën van die afgelope week was ‘n “ysbreker” en hy glo die reën gaan kom. Die goeie reën oor dele van Gauteng en die Vrystaat lyk ook vir hom heel belowend. “Dit is vog wat uit die trope kom wat ons reën bring. Koue fronte bring nie reën nie. Volgende week Vrydag, Saterdag en Sondag wys ook reën. Daar is die heeltyd goeie voorspellings vorentoe,” het Havinga gesê.

Reënvalsyfers van tussen 30 mm en 90 mm is verlede Saterdagoggend vanaf Vivo gerapporteer. Omstreeks 07:00 Saterdagoggend is vanaf Alldays laat weet dat hulle 14 mm ontvang het en “dit reën nog lekker sag.” Deur die nag het die Mara-omgewing rondom 55 mm gehad, met die Houtrivier wat begin afkom het.

Waterpoort se boere het Saterdagoggend neerslae van tussen 25 mm en 50 mm gerapporteer. Nader aan die huis is reënvalsyfer van tot 30 mm vir Louis Trichardt deurgegee. Bandelierkop het sowat 20 mm gehad en Levubu tot 45 mm.

“Ek glo dit gaan goed reën. Die Hemelse Vader sal nie vir altyd die reën vashou nie,” het Havinga gesê.

 
 
 

Viewed: 897

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Lekker nat plaaspaaie het boere verlede Saterdagoggend in die Waterpoort-omgewing begroet, na goeie, wydverspreide neerslae oor die hele Soutpansberg sedert die vorige dag. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT