ADVERTISEMENT:

 

 
 

Dave van Graan (regs) saam met Karen en Michael Kuhne, wat hom sal vergesel tot in Namibië. By hulle is Dave se staatmaker waentjie, die Bart Mobile, waarop Dave al sy voorraad pak. Foto verskaf.

Avonturier Dave se stapstewels reg vir Namibiese woestyn

Date: 27 November 2016 By: Isabel Venter

Avonturier Dave van Graan van Louis Trichardt se stapstewels en Bart Mobile  staan reg vir ‘n volgende avontuur.

Dave sal aan die einde van November Namibië van suid na noord te voet aandurf. Hierdie sal Dave se derde ernstige langafstand staptoer wees. Hy het in 2014 sy eerste staptoer na Musina aangedurf, as ‘n proeflopie. Daarna het hy van Louis Trichardt tot op Kerkplein in Pretoria gestap, en toe van Louis Trichardt af, al die pad tot in die Kaap. Dit was gedurende 2014 en 2015.

Sy motivering was aanvanklik ‘n persoonlike uitdaging wat Dave aan homself gestel het. Dave het vir jare aan ‘n baie pynlike siekte gelyk wat sy rug aangetas het. Dit was so erg dat hy baie sterk pynstillers moes drink om net deur die dag te kom.  

Nou is die stap vir Dave beide ‘n persoonlike uitdaging en ook ‘n manier om geld in te samel vir iets baie na aan sy hart – die bewaring van die land se renosterbevolking as deel van die Save the Rhino projek. Hy het jare gelede vir homself belowe dat as hy sou herstel, hy graag deur Suid-Afrika sou wou stap om ‘n pynvrye lewe te vier.

En dit is juis wat Dave nou doen, nadat ‘n spesialis hom in 2013 behandel het en hy sedertdien gesond is.

Dave sien veral daarna uit om Namibië te voet te ervaar. In al die jare wat hy ‘n toergids is, het hy al baie plekke op die Afrika kontinent besoek. “Maar ‘n mens ry of vlieg gewoonlik na die plekke en ervaar nie die omgewing in die ware sin van die woord nie ... met die stap sal ek op my eie wees en sal dit net ek en die natuur wees, of dit nou reën of sonskyn is,” het Dave gesê.

Die Zoutpansberger het verlede Vrydag telefonies by hom “ingeloer” en met hom gesels terwyl hy besig was om sy finale pak klaar te pak.  

Dave sal darem nie heeltemal alleen wees nie. Hy sal vergesel word tot in Namibië deur Karen en Michael Kuhne. Hulle sal Dave aflaai naby die Oranjerivier, vanwaar hy 1 870km sal aflê tot by die Kunenerivier teen Angola se grens. As alles goed verloop, verwag Dave om tussen 10 tot 12 weke te stap.

Behalwe vir al die leeus en hiënas wat hy verseker gaan teëkom, gaan Dave se ander groot uitdaging wees om die woestynhitte te oorleef en om water in die hande te kry.

Vir diegene wat graag Dave se vordering wil volg, kan hulle gerus sy Facebook-blad besoek.

 

 
 
 

Viewed: 745

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT