ADVERTISEMENT:

 

 
 

Jacques Els.

Els spandeer so amper-amper hierdie Kersfees agter tralies

Date: 27 November 2016 By: Isabel Venter

Jacques Els was so amper-amper hierdie Kersfees weer agter tralies. Dit volg nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) ‘n aansoek gebring het wat Els beveel het om die res van sy gevangenisstraf te begin uitdien.

Els is in Maart 2012, in gevolge ‘n pleitooreenkoms met die Staat, skuldig bevind op aanklagte wat verband hou met die onwettige handel en besit van renosterhorings sonder die nodige permitte. Hy is toe gevonnis tot agt jaar direkte gevangenisstraf plus ‘n verdere vier jaar, wat in geheel opgeskort is. Els moes ook R1 miljoen aan die Groen Skerpioene oorbetaal as deel van sy straf.  

Els het vyf maande van sy agt jaar vonnis al uitgedien.

Aanvanklik het die klagte teen Els betrekking gehad op 38 renosterhorings, maar die getal is later aangepas tot 30. Hy het in sy pleitooreenkoms verduidelik dat hy die renosterhorings aangekoop het met die oog om dit later te verkoop as die verbod op die handel in renosterhorings gelig sou word. Els het die horings aangekoop van sy medebeskuldigde, wyle mnr. Tom Fourie (51), wat in 2010 se eie lewe geneem het. Die renosters is verdoof en hulle horings is geoes. Nie een is gedood nie. Dié renosters leef nog vandag, en Els glo sy optrede het verseker dat hulle nie deur stropers geteiken word nie. Hy sou later vir bergingspermitte aansoek doen, maar voordat hy dit kon doen, is die horings vanuit Els se woning in Thabazimbi gesteel. 

Els is vrygelaat op borg hangende sy Appèlhof-aansoek. Die Hooggeregshof het sy boetevonnis ter syde gestel, maar nie sy tronkstraf nie. Els se R4 miljoen borg is verleng, sodat hy hofstukke by die Appèlhof kon indien om ook sy vonnis ter syde te stel. Sy grootste beswaar was dat direkte gevangenisstraf ‘n te swaar straf was vir sy oortredings.

Els het egter nog nie sy hofstukke by die Appèlhof ingedien nie. Dit is juis om hierdie rede dat hy die afgelope Maandag weer in die Louis Trichardt Streekhof moes verskyn. Ingevolge die hofbevel wat die NVG bekom het, het die Direkteur van Openbare Vervolging gelas dat Els se borg teruggetrek moet word en hy moet terugkeer tronk toe.

Els se verdedigingsspan het egter ‘n teenaansoek gebring en gevra dat die Staat se aansoek afgekeur moet word. Hulle het aangedui dat die appèlaansoek nog afgehandel moet word, en dat hulle kans gegee is tot 17 Maart 2017 om die nodige dokumente in te handig by die hof.

Landdros PV Mudau het die span se aansoek toegestaan en gesê dat ‘n laerhof nie nou inbreuk kan maak in ‘n saak wat deur ‘n hoërhof beslis moet word nie. Dit is om daardie rede dat Mudau ook nie Els se borg teruggetrek het nie.

Els is buite die hof genader vir kommentaar. Hy wou egter nie te veel uitbrei oor sy komende saak in die Appèlhof nie. Els het egter wel aan die Zoutpansberger gesê dat hy baie verlig was om nie weer dadelik tronk toe te gaan nie.

 

 
 
 

Viewed: 765

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT