ADVERTISEMENT:

 

 
 

Leo Botha (2) afgeneem saam een van sy verpleegsters, Emmari Swanepoel, op sy verjaarsdag. Foto verskaf.

Leo veg dapper

Date: 21 November 2016 By: Isabel Venter

Leo het oor die maande diep in die harte gekruip van Louis Trichardt se inwoners.

Sy stryd met kanker het nie net talle fondsinsamelingsprojekte geïnspireer nie, maar ook ongekende steun en bewusmaking vir ander kinders wat veg teen kanker.

Klein Leo Botha was 14 maande oud toe hy op 13 April vanjaar met akute limfoblastiese leukemie gediagnoseer is. Nou, meer as ses maande later, is Leo se ouers, Cherise en Jaydee, stomgeslaan met die oorweldigende ondersteuning wat hulle steeds ontvang. Dit is afgesien van die verskillende fondsinsamelingsprojekte wat ten bate van Leo gereël is.

Die ondersteuning, boodskappe en besoeke het nog nie vir ‘n oomblik opgehou instroom nie. Dit het veral in die laaste paar weke baie beteken vir die gesin nadat klein Leo ‘n massiewe terugslag beleef het. Hy is in Oktober in die Unitas Hospitaal in Pretoria in isolasie geplaas, nadat hy twee virusse en longontsteking opgedoen het. Dit beteken dat sy chemoterapie vir eers gestaak moes word, om sy klein lyfie kans te gee om die virus te beveg. Ongelukkig is dit makliker gesê as gedaan, omdat sy immuniteitstelsel amper heeltemal afgebreek is deur die chemoterapie. ‘n Gewone verkoue kan dodelik wees vir Leo. 

Dit was ‘n hartverskeurende dag toe Leo op Vrydag, 4 November, sy tweede verjaarsdag in die isolasie-eenheid moes vier. “Dit is ‘n dag wat ek nooit sal vergeet nie. Ten spyte daarvan dat Leo ‘n baie moeilike dag gehad het, was daar baie mense wat sy dag spesiaal gemaak het,” het ma Cherise gesê.

Leo het die dag vantevore gesukkel om asem te haal en het in ‘n stadium heeltemal opgehou asemhaal. Sy gesondheid het intussen nog nie verbeter nie, en Cherise waak pal by hom in die hospitaal. “Ons gesin is positief dat hy sal gesond word, sodat hy sy chemobehandeling kan hervat,” het Cherise gesê.

Voor Leo siek geword het, was hy besig met ‘n nege-maande-lange chemoterapie kursus. Hy het nog vier weke oorgehad van dié kursus, voordat hy vir ‘n maand lank by die huis kon wees.

As Leo gesond is, kan hierdie vier weke afgehandel word. Dan sal daar ‘n ekstra 24 maande wees waarin hy opvolg chemobehandeling moet ontvang. Volgens Cherise sal dit ‘n kombinasie van chemobehandelings wees wat hy by die huis en hospitaal sal ontvang. Vir eers sal Leo dan net weekliks hospitaal toe moet gaan vir sy behandeling, totdat dit afgeskaal sal word na een keer per maand.  

Cherise en Jaydee is nog steeds gedetermineerd dat Leo se kanker nie hulle gesin sal onderkry nie. Die heen-en-weer ryery en lang hospitaalblyery maak dit moeilik vir hulle as gesin om saam te wees. “Ek kan nie wag vir die dag wat ons huis toe kan gaan en net as gesin saam kan wees nie,” het Cherise gesê.

Sy het spesiaal met die Zoutpansberger gesels hierdie week om hulle gesin se dankbaarheid te betuig met die mees onlangse fondsinsameling wat gereël is vir Leo. Tans word Leo se mediese onkostes en behandelings grootliks gedek deur ‘n mediese fonds, maar nie al die daaglikse lewenskostes nie. Dit is vir hierdie rede dat Kleuter Kampus die Love for Leo konsert gereël het. Dit is die kleuterskool waar Leo se ouboet, Alexander, skoolgaan. “Ons is opreg dankbaar vir elke persoon, ons liefdevolle familie, vriende en die ouers van Kleuter Kampus en die hele gemeenskap,” het Cherise gesê. “Weet net dat julle boodskappe en gebede vir ons die wêreld beteken.”

Cherise het ook ‘n spesiale woord van dank gehad vir Kleuter Kampus: “Uit die diepte van ons harte, baie dankie aan al die mammas wat die pragtige fondsinsamelingsprojek gereël het met groot liefde en harde werk. Dankie ook vir elke persoon wat die konsert bygewoon en ondersteun het. Dit het vir ons as ouers baie beteken ... ‘n mens kan net nooit genoeg dankie sê nie ... almal van julle het ‘n swaar las van ons skouers gelig.”

 
 
 

Viewed: 914

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Klein Leo Botha (2). Foto verskaf.

Klein Leo Botha (2). Foto verskaf.

Klein Leo Botha (2). Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT