ADVERTISEMENT:

 

 
 

Boere van die gemeenskap by die hof die afgelope Maandag om hul ondersteuning te wys aan die Bonnema-familie. Foto: SDLU.

Verdagtes in Bonnema-moord borgtog geweier

Date: 07 November 2016 By: Isabel Venter

Die drie mans wat daarvan verdink word dat hulle mnr. Hennie Bonnema (62) wreedaardig vermoor het, het Maandag vlugtig in die Vuwani Landdroshof verskyn.

‘n Groot groep boere van die omgewing het opgedaag om hul solidariteit met die Bonnema-familie te wys. Die boere was ook by die hof om ‘n beroep te doen op die Nasionale Vervolgingsgesag om nie borg aan die drie mans toe te staan nie. Hul boodskap was duidelik: “Ons soek nie misdadigers in ons gemeenskap nie.”

Walter Maringa (24), Mudau Sylvester Takalani (31) en Khodani Tshishonga (33) is Vrydag deur die Levubu-polisie aangekeer. Volgens dié polisiestasie se woordvoerder, A/O Solly Mokola, is al drie mans naby Mashau gearresteer. Die woongebied is nie ver van Bonnema se plaas, Beaufort F 10, in Levubu nie.

Bonnema se bebloede lyk is twee weke gelede deur sy seun, Hendrik, buite sy plaashuis gevind. Hennie het vroeër die aand by sy swaer Piet en sussie Marina besoek afgelê. Met sy terugkeer is hy vermoedelik voorgelê en doodgesteek. Sy aanvallers het Hennie klaarblyklik by sy hek ingewag, sy bakkie se sleutels gegryp en weggegooi en hom daarna vermoedelik van die hek af huis toe gesleep.

Hendrik het Woensdag hierdie week gesê dat dit met hulle familie goed gaan onder omstandighede, en dat hulle bly is daar is arrestasies gemaak. “Dit is nou nog te vroeg om te sê of die ouens skuldig is, maar ons sal die hofsaak volg,” het Hendrik gesê.

Hendrik en sy broer, Pieter, was albei Maandag by die hof gewees vir Maringa en sy twee medebeskuldigdes se eerste verskyning. Hendrik het bevestig dat een van die verdagtes voorheen in sy pa se diens was. “Soos ek gesê het, dit is te vroeg om met sekerheid te sê dat hy verbind word en die polisie moet nog eers hulle ondersoek afhandel,” het Hendrik gesê.

Hendrik het verder ook bevestig dat die polisie nog steeds geen duidelikheid het oor die motief vir sy pa se moord nie. Daar is kort ná die voorval bevestig dat niks gesteel is uit Hennie se huis nie.  

Die nuus dat die drie mans deur die polisie aangekeer is, is vanuit al die uithoeke van Suid-Afrika verwelkom. Plaaslik het die Soutpansberg Distrikslandbou-unie (SDLU) ook hul verheug oor die arrestasie. Dit het egter nie die hartseer en verlies minder gemaak nie.

“Sy [Hennie se] lewe is geneem op ‘n koelbloedige wyse deur gewetenlose kriminele wat wou kom vat wat nie aan hulle behoort nie. Hulle het ‘n familie van ‘n pa beroof en ‘n groot span werkers ‘n werkgewer ontneem wat vir baie jare net goed was vir hulle,” het mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van die SDLU, gesê.

Die voorsitter van die Levubu Boerevereniging, mnr. Fanie Havinga, het hierdie woorde beaam. “Ons [het] ‘n leierboer verloor. Hennie was saggeaard en ‘n persoon op wie se ondersteuning daar te alle tye gereken kon word. Hy was geliefd in sy gemeenskap,” het Fanie gesê.

Borg is al drie mans geweier en hulle sal in aanhouding bly tot Woensdag, 9 November, wanneer hulle weer in die Levubu Landdroshof moet verskyn.

 

 
 
 

Viewed: 2183

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Boere van die gemeenskap by die hof die afgelope Maandag om hul ondersteuning te wys aan die Bonnema-familie. Foto: SDLU.

Boere van die gemeenskap by die hof die afgelope Maandag om hul ondersteuning te wys aan die Bonnema-familie. Foto: SDLU.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT