ADVERTISEMENT:

 

 
 

Brandweermanne hardloop verby die grasdakhuis van die Naudé's wat verlede Vrydag in puin gelê is ná 'n verwoestende brand daar uitgebreek het.

Familie verloor alles tydens brand

Date: 16 October 2016 By: Isabel Venter

Vir die Naudé- en Venter-gesin van Louis Trichardt is die woord "dankie" te klein om hulle diepe dankbaarheid te verwoord en ‘n gemeenskap te bedank wat hulle in woord en daad ondersteun in hulle tyd van nood.

Sakkie en Cornette Naudé en hulle twee dogtertjies se huis, op die hoek van die Elim-verkeersirkel en die Ledig-afdraaipad, is in puin gelê tydens ‘n brand. Ten spyte van die hulp wat van orals opgedaag het om die vernietigende vlamme te probeer blus, kon daar amper niks van die jong gesin se huisraad gered word nie. Cornette, wat voor Sakkie op die toneel opgedaag het, moes hulpeloos toekyk hoe al hulle besittings uitbrand.

Cornette en Sakkie het ‘n rukkie gelede in dié grasdakhuis ingetrek, terwyl Cornette se ouers, Hendrik en Martie Venter, hulle bure geword het in die huis skuins agter hulle op die eiendom.

Cornette was Maandag nog merkbaar ontsteld tydens die koerant se besoek. “Soveel mense het ons al kom vertroos ... baie van hulle sê dit is net aardse goed ... maar tog is daar sekere dinge wat mens net nie kan vervang nie,” het Cornette gesê.

Sy was nog verlede Vrydag – toe die brand uitgebreek het – by die werk. Die oproep wat sy ontvang het, was dat sy gou moes kom help want haar ma-hulle se huis was besig om af te brand. “Ek het nog huis toe gejaag en mense saamgevat om te gaan help ... min het ek geweet dat ek hulp bring om my eie huis te help red,” het Cornette gesê.

Die oorsaak van die brand is nog nie duidelik nie. Cornette vertel pa Hendrik was by sy huis toe haar bediende benoud daar opgedaag het. Die bediende was histeries en het gegil dat daar rook uit die dak trek.

Hendrik het als gelos en oorgehardloop om te gaan ondersoek instel. Dit was teen ongeveer 13:00. In hierdie kort tydjie het die dak van die huis reeds in ligte laaie gestaan. Hendrik, wat alleen was, het probeer om die vlamme te blus met water wat hy uit die visdam geskep het, terwyl hy terselfdertyd probeer het om hulp te ontbied.

Cornette sê hulle was ontsteld toe die plaaslike brandweer eers heelwat later daar opgedaag het, en toe ook nie water gehad het nie. Teen dié tyd het die hele huis aan die brand gestaan, en het die vlamme versprei na die aangrensende geboue van die kwekery langsaan.

Gelukkig, sê Cornette, was die plaas- en dorpswag vinnig op die toneel en het hulle daadwerklik ingespring om te help die brand onder beheer te kry.

Johan Rootman en sy vrou, Miemie, was van die eerste mense wat opgedaag en dadelik probeer het om die vlamme te blus. Miemie het kopgehou en Cornette-hulle se hondjies gered van 'n gewisse vlammedood. Ongelukkig kon daar nie veel van die huisraad gered word nie.

'n Sterk oostelike wind het die vlamme opgeskep en versprei na die aangrensende huis van Cornette-hulle se swaer, Martin Naudé. Hulle het ook 'n paar benoude oomblikke beleef toe die veld agter hulle huis aan die brand geraak het en die vlamme so versprei het na hulle tuin en palmbome, en hulle huis se dak amper ook aan die brand geraak het.

Teen hierdie tyd het versterkings van orals gekom, en het almal wat 'n waterkarretjie gehad het kom help om die vlamme onder beheer te kry.

Dit is hierdie oorweldigende bystand, sê Cornette, wat hulle gesin steeds deur dié krisis dra. Die gemeenskap se harte het vir die gesin oopgegaan. Daar was mense wat kos, klere en huisraad aangedra het en ander wat kontantbydraes gemaak het. "Daar is nie genoeg woorde om dankie te sê vir almal nie ... dankie is net 'n te klein woord," het Cornette gesê, terwyl sy beduie na 'n kartonboksie waarin sy die lysies van almal se name veilig bewaar. Tussen die lysies lê die verbrande doopbandjie van haar meisiekind wat Cornette in die as opgetel het in die huis.

Intussen woon Cornette, Sakkie en hulle dogters by Martie en Hendrik, tot tyd en wyl hulle weer op hulle eie bene kan staan.  “Ons gesin is opreg dankbaar vir al die hulp wat ons ontvang het en nog steeds ontvang. Daar was my pa, Johan en Miemie Rootman, die engel-tannie wat donasies op Facebook ingesamel het ... daar is net te veel mense om almal by die naam te noem ... ons kan nie genoeg dankie sê nie,” het Cornette gesê.

Die Makhado Brandweer het ook bevestig dat hulle Vrydag hulle hande vol gehad het. Vrydag se buitengewone hoë brandgevaarindeks oor die streek het gesorg dat daar altesaam 10 gevalle was waaraan die stasie moes aandag gee.

Buiten vir die Naudé's se nood was daar ook ‘n brand wat ontstaan het by die munisipale stortingsterrein wat versprei het tot agter die Kuthama-Sinthumule Gevangenis. Die ander groot brand wat Vrydag ontstaan het, was in die Roodewalplantasie, oos van Louis Trichardt. Hierdie brand het net so vinnig versprei, verby die kruis tot in die plantasie langs die N1-noord.

 
 
 

Viewed: 904

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Lede van die Soutpansberg Dorpswag het hand bygesit verlede Vrydag om die vlamme onder beheer te kry by die huis waarin die Naudé-gesin gebly het. Van hulle huis af het die brand versprei na die aangrensende kwekery.

Louis Trichardt was verlede Vrydag oortrek van die rook, nadat daar 10 brandgevalle aangemeld is. Hierdie foto is uitgeneem van die kruis se uitkykpunt oor die dorp.

Plaaslike kinders het die brand in die Roodewalplantasie van nader gaan kyk.

Plaaslike kinders het die brand in die Roodewalplantasie van nader gaan kyk.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT