ADVERTISEMENT:

 

 
 

Liné en Erhard Senekal sterk tans tuis aan naby die Unitas Hospitaal, terwyl medici wag vir die swelling van Erhard se brein om te sak voordat hulle kan opereer. Foto verskaf.  

Dubbele tragedie

Date: 10 October 2016 By: Andries van Zyl

Te midde van die hartseer daarvan om die dood van haar eie ma te verwerk, moes ‘n ma ook nog hoor dat beide haar jong kinders in ‘n ernstige motorongeluk betrokke was.

Dit is die nuus wat Lilani Senekal Sondagmiddag ontvang het terwyl sy besig was met die finale reëlings ten opsigte van haar ma, me. Hester Agnus de Meyer van Louis Trichardt, se roudiens. Meeste inwoners sal egter Lilani se ma beter ken op haar bynaam, Dimpels.

Die 65-jarige Dimpels het sowat twee weke gelede begin sleg voel en Lilani en haar kinders, Liné (17) en Erhard (13), het teruggery na Louis Trichardt om haar by te staan. Lilani het in Oktober verlede jaar vanaf Louis Trichardt na Gauteng verhuis, terwyl Liné en Erhard eers onderskeidelik hul Graad 10 en Graad 6 skooljaar hier voltooi het. Lilani-hulle het egter deurlopend kontak met hul vriende en familie hier gehou. Hul wortels is steeds stewig gevestig in Louis Trichardt. Dimpels self is ‘n oud-leerling van Hoërskool Louis Trichardt, met haar pa wat werksaam was by die destydse Louis Trichardt Munisipaliteit. Sy was vir dekades verbonde aan die plaaslike munisipaliteit waar sy sedert die middel 80’s werksaam was by die ingenieurs- en elektrisiteitsafdeling.

Met Lilani-hulle se aankoms in Louis Trichardt het sy besef daar is groot fout met haar ma. Sy het haar ma verlede Maandag na die Zoutpansberg Privaathospitaal geneem vir ‘n ondersoek. Die nuus was nie goed nie en Dimpels is dadelik oorgeplaas na die Steve Biko Hospitaal. Hier is maagkanker by haar gediagnoseer. Die kanker het egter reeds so ver versprei dat daar niks meer vir haar gedoen kon word nie en Dimpels sterf op Woensdag, 28 September. “Dit was duidelik dat my ma alreeds vir ‘n paar jaar die kanker gehad het, sonder dat sy iets agtergekom het,” het Lilani gesê.

Ná haar ma se afsterwe het Lilani begin met die nodige begrafnisreëlings en is Dimpels se roudiens geskeduleer vir Maandag, 3 Oktober, vanuit die NG Kerk Garstfontein.

Sondagoggend, 2 Oktober, het Lilani se niggie, Waldeen Fouché, besluit om bietjie vir Liné en Erhard uit die huis te kry en hulle uit te neem vir ‘n fliek. Dit was juis onderweg terug huis toe van die fliek af wat die noodlot die familie ‘n tweede keer binne ‘n paar dae getref het.

‘n Motoris het ‘n rooi verkeerslig verontagsaam en sy voertuig het Waldeen se motor op die regterkant getref. Erhard, wat agter Waldeen gesit het, het meeste van die impak geabsorbeer en ernstige kopbeserings opgedoen nadat sy kop die voorste sitplek en venster getref het. Liné het ook kopbeserings opgedoen. Waldeen was die gelukkigste van die drie en het net kneusplekke en ligte snywonde opgedoen. Die ongeluk het omstreeks 12:00 plaasgevind.

Lilani sê sy kan vir niemand verduidelik, veral nie vir ‘n ouer nie, wat mens ervaar as jy hoor jou kinders was in ‘n ernstige ongeluk nie. Beide Liné en Erhard is per ambulans deurgejaag na die Pretoria-Oos Hospitaal, waar hul toestand gestabiliseer is. Alhoewel albei bloeding op die brein opgedoen het, was Erhard se toestand meer kritiek. Hy het verskeie breuke aan sy skedel opgedoen, insluitend frakture van die kakebeen, wangbeen en neus.

Weens die ernstige graad van Erhard en Liné se beserings moes beide later dieselfde dag oorgeplaas word na die hoësorgeenheid van die Unitas Hospitaal. “My tweede grootste krisis daardie dag was toe die hospitaal daardie aand om 21:00 ‘n deposito van R120 000 by my wou het,” sê Lilani. Sy het nie ‘n mediese fonds nie.

Om kostes te help bespaar, het die hospitaal besluit om eerder die kinders na ‘n gewone saal oor te plaas. Daarvoor wou die hospitaal egter steeds R70 000 hê. “Dit is nag. Al die afdelings en eenhede funksioneer afsonderlik en stuur ‘n afsonderlike rekening. Ek het soos ‘n afkop hoender met ‘n koevert kwitansies en rekeninge rondgehardloop,” sê Lilani.

Intussen het Lilani-hulle se vriende in Louis Trichardt bewus geword van haar lot en dadelik ingespring om te help. Onder hulle was die manne van die plaaslike Tafelronde Zoutpansberg 66. Hulle kon darem uit hul hospitaalfonds help om 'n bietjie van die mediese kostes te dek.

Met begrip vir Lilani se finansiële situasie het die medici besluit dat Erhard en Liné, te midde van hul beserings, Maandagaand ontslaan kon word. “Wat vir my die ergste daardie dag was, was om alleen op die kerkbank te sit tydens my ma se roudiens. Ek was die heeltyd bekommerd oor my kinders se toestand. Tog dink ek my ma sou verstaan het waarom die kinders nie daar kon wees nie,” sê Lilani.

Lilani het Woensdagoggend gesê dit gaan redelik met Liné, alhoewel sy steeds erge pyn weens ‘n fraktuur in haar regterskouer en -arm en matige bloeding op die brein gehad het. “Sy is verskriklik. Sy los haar boetie nie vir ‘n minuut alleen nie,” sê Lilani. Erhard se toestand was steeds sleg. Weens die erge swelling van sy brein kan die medici nie waag om te opereer nie, totdat die swelling sak. Juis hierom woon Lilani tans naby die hospitaal, sodat sy dadelik vir Erhard kan laat opneem as iets verkeerd gaan of sy toestand so verbeter dat hy geopereer kan word. “Ek laat hulle nie vir ‘n oomblik uit my sig nie en moet hom elke twee/drie dae terugvat, sodat die spesialis die swelling van Erhard se brein kan monitor,” sê Lilani.

Teen Woensdag het die hospitaalkostes reeds sowat R185 000 beloop. Te midde van die kopseer om vir alles te betaal, is Lilani egter dankbaar haar kinders is vir haar gespaar. “Daar gaan nie ‘n minuut verby dat ek nie vir hulle kyk nie. Jy weet nie hoe dankbaar is ek hulle is nog by my nie. Die dokters was almal verbaas oor hulle veggees en het vir my gesê my kinders is regte troopers,” sê Lilani.

Intussen kan persone wat hul weg oopsien om Lilani by te staan met die betaal van die twee kinders se mediese kostes, vir Dirk Meissenheimer van die plaaslike Tafelronde in Louis Trichardt skakel vir meer inligting en besonderhede. Hy kan geskakel word by tel. 082 897 8807.

 
 
 

Viewed: 1648

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

‘n Veel jonger foto van die 65-jarige “Dimpels” de Meyer, Lilani se ma, wat verlede Woensdag skielik oorlede is weens maagkanker. Foto verskaf.

Liné en Erhard Senekal, kort nadat hulle in die hospitaal opgeneem is met kopbeserings vanweë ‘n motorongeluk. Erhard se toestand was veral kritiek. Buiten vir bloeding op die brein, het hy ook frakture van die skedel, wang, kakebeen en neus opgedoen. Foto’s verskaf.

Shared caption

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT