ADVERTISEMENT:

 

 
 

Op die beeldmateriaal kan mens duidelik sien dat die polisie nié die eerstes op die toneel was nie, maar wel Heleen Yzel (in pienk). 

Twee vas ná vrou eie kar terugkry

Date: 03 October 2016 By: Andries van Zyl

‘n Vrou van Louis Trichardt se vasberadenheid om self haar gesteelde voertuig terug te kry, het kort daarna gelei tot die arrestasie van twee verdagtes.

Me. Heleen Yzel se Honda Jazz is die aand van 10 Augustus by die Rugbylapa in die dorp gesteel terwyl sy besig was om vetkoek in die kroeg te verkoop. Sy verkoop gereeld vetkoek by die Rugbylapa om haar inkomste aan te vul.

Tot haar ontsteltenis is sy in die dae ná die diefstal van haar voertuig deur talle mense geskakel wat haar meegedeel het dat hulle haar voertuig, sonder nommerplate, in die dorp sien rondry. Sy het nooit ‘n oproep van die polisie ontvang nie.

Op 20 Augustus het sy weer ‘n oproep van ‘n inwoner ontvang dat haar voertuig in die omgewing van die White Horse gastehuis in Douthwaitstraat opgemerk is. Sy het haar dadelik daarheen gehaas, maar die voertuig was reeds weg. Later dieselfde aand het sy weer ‘n kans gevat om vir haar voertuig te gaan soek. Wonder bo wonder het sy ‘n voertuig opgemerk wat net soos haar voertuig lyk en besluit om die voertuig te agtervolg, tot waar dit by die Safari Caltex vulstasie gestop het om brandstof in te gooi.

Yzel het parkering gesoek en teen die tyd wat sy by die voertuig gekom het, het sy besef dit is haar voertuig. Die twee manlike insittendes was intussen by die kiosk doenig by die vulstasie. Met hul terugkeer na die voertuig het Yzel hulle gekonfronteer en beide mans het weggehardloop.

Die Zoutpansberger het in die uitgawe van 2 September geskryf oor Yzel se ervaring. Die verslag het egter meer gekonsentreer op die manier hoe die polisie haar saak hanteer het. Die hele affêre het ‘n wrang smaak in Yzel se mond gelos. Toe sy haar voertuig as gesteel aangemeld het, is sy deur die polisie meegedeel dat “You would be lucky if you can find your car.” Soos omstandighede dit wou hê, het dieselfde polisiekonstabel by wie sy haar voertuig as gesteel aangemeld het, die aand van 20 Augustus opgedaag nadat sy haar voertuig teruggevind het. Yzel was ontsteld oor hoe sy behandel is en het gesê die polisie het haar soos ‘n krimineel laat voel. Volgens Yzel het die einste konstabel haar meegedeel dat hy vroeër daardie week dieselfde voertuig afgetrek het omdat dit sonder nommerplate rondgery het. Hy het egter die insittendes weer laat gaan. Daar is nie sekerheid oor waarom hy hulle laat gaan het nie.

‘n Lid van die publiek het die Zoutpansberger die afgelope week ingelig dat twee verdagtes in verband met die diefstal van Yzel se voertuig gearresteer is. Dit sou later blyk dat hulle reeds op 31 Augustus gearresteer is, kort voordat die artikel in die koerant verskyn het. Na wat verneem word is die arrestasies en ondersoek uitgevoer deur lede van die voertuigdiefstaltak in Thohoyandou.

Die twee verdagtes, die 25-jarige Clement Symons van Louis Trichardt en 26-jarige Kineas Chimbwana van Zimbabwe, het op 23 Augustus weer in die hof hier verskyn op klagte van voertuigdiefstal. Hulle het nie gepleit nie. Dit was toe alreeds hul tweede verskyning ná hul arrestasie. Hulle het op 1 September die eerste keer verskyn.

Beide Symons en Chimbwana is sedert hulle arrestasie in aanhouding. Beide is Vrydag borg geweier en hul saak is uitgestel tot 24 Oktober vir verdere ondersoek. Hulle sal tot dan in aanhouding bly.

Wat die plaaslike polisie se aanvanklike hantering van Yzel se saak betref, het die nuutaangestelde stasiebevelvoerder van die Makhado SAPD, lt-kol Merilyn Mabatha, vroeër aangedui dat hulle Yzel se aantygings van polisie “laksheid” in ‘n baie ernstige lig sien en dat hulle reeds 'n interne ondersoek na die voorval geloods het.   

 

 
 
 

Viewed: 507

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT