ADVERTISEMENT:

 

 
 

Schultz is warm onder die kraag vir die VDM. Dié munisipaliteit het R12 miljoen in die water gegooi, nadat hulle toegelaat het dat Louis Trichardt se 12 nuwe boorgate almal van hul toerusting geplunder word. Foto verskaf.

Woede ná dorp se “nuwe” boorgate geplunder word

Date: 18 September 2016 By: Isabel Venter

Is die Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM) besig om Louis Trichardt se inwoners willens en wetens sonder water te los?

Dit is die mening van AfriForum se Louis Trichardt-tak. Hulle is witwarm onder die kraag vir die VDM en eis dat dié munisipaliteit se topbestuur se koppe moet rol. Die woede volg nadat plaaslike forumvoorsitter mnr. Wally Schultz uitgevind het dat die VDM toegelaat het dat 12 van die dorp se “nuwe” munisipale boorgate geplunder word.

Schultz en sy span het in Desember verlede jaar besluit om een van die VDM se boorgate te “annekseer”. Hierdié boorgat, geleë in President Steynstraat, is sowat drie weke gelede in gebruik geneem deur AfriForum. Die boorgat is deur AfriForum toegerus met ‘n waterpomp, omhein en met ‘n veiligheidshek en slot toegesluit wat AfriForum toegang daartoe gegee het. Die tak het verder, op eie onkoste, ook ‘n 5 000l tenk geïnstalleer, waarby inwoners kan gaan water skep as daar 'n watertekort in die dorp is.

Terwyl die tak besig was met die installasie van die watertenk in President Steynstraat, het hulle weer besoek gebring aan die oorblywende 12 pompstasies. Wat hulle ontdek het, het hulle tot in hulle diepste wese geskok.

Behalwe dat al die pompstasies van alle toerusting gestroop is, het die strukture waarin die pompstasie gehuisves word bouvallig geraak. Schultz was erg ontsteld hieroor, want die 12 boorgate is net twee jaar gelede ten volle toegerus met pompe. “Dit was ‘n projek wat die munisipaliteit bykans R12 miljoen uit die sak gejaag het, en toe net weer so laat staan is,” het Schultz gesê.

Schultz se waarskuwing aan die VDM se topbestuur en munisipale bestuurder, dat hulle die pompstasies voortdurend moet oppas, het klaarblyklik op dowe ore geval. Een vir een is die pompstasies besteel. “Die munisipaliteit het nie eens ‘n saak geopen by die polisie vir verdere ondersoek nie,” het Schultz gesê.

Behalwe vir die waterpompe wat gesteel is, is al die stasies se sekuriteitskameras weggedra. Die leë pomphuisies het ook ‘n uithangplekke geword vir kabeldiewe. Daar is in meeste van die pomphuisies tekens gekry dat kabeldiewe die huisies as skuiling gebruik om koperkabels skoon te brand. Die kragbokse by elk van die stasies is ook skoonveld.

Schultz het die situasie as uiters skokkend beskryf. Hy het Maandag aangekondig dat hy AfriForum se hoofkantoor genader het vir regshulp, en het die hoop uitgespreek dat daar binne-kort drastiese aksie geneem sal word.

 

 
 
 

Viewed: 853

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Kabeldiewe gebruik die pomphuisies om gesteelde koperkabels skoon te brand. Foto verskaf. 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT