ADVERTISEMENT:

 

 
 

Juné, Vicky en Shani Potgieter afgeneem tydens die "koekedoortjie"-kompetisie. Foto: Jo-anne Beukes.

La’t Wiel was voorwaar ‘n uitsonderlike poging

Date: 11 September 2016 By: Wikus Lee

“Dopperfees 2016 was waarlik ‘n fees! ‘n Dankbaarheidsfees. ‘n Fees vir ons gemeente en ons gemeenskap. Wonderlik om te sien hoe almal hande vat, saamstaan en kuier-kuier saamwerk.”

Dit is die opmerking van die leraar van die Gereformeerde Kerk Louis Trichardt, ds. Innes Nagel, na afloop van verlede Saterdag se suksesvolle fees op die kerkterrein. Hy was veral beïndruk met die gesellige en vrolike gees wat deurgaans geheers het.

Een van die jaar se hoogtepunte was seker die “koekedoortjie”-kompetisie, wat aan almal groot opgewondenheid besorg het. Die kompetisie is deur Jessica Taylor gewen, Lizemè Pretorius en haar oupa, Lourens Botha, was tweede en Lee-Ann en Fanie Bothma derde. Die besgeklede kokke was Christiaan Pretorius saam met oupa Hannes Benade.

Die spookhuis, verfbalbaan, treintjie, skyfskiet, ballonne pyl en kindertafel het baie kinderharte bly gemaak, terwyl die losgoed- en gaweveiling vir ‘n aksiebelaaide uur gesorg het. ‘n Beroepsjagterkursus, seevakansies in Mosambiek en St Lucia, fotosessies deur topfotograwe, ‘n wynversameling, haarsny en motordienste, is enkele van die gawes wat onder die hamer gekom het.

Al die tafels het gekreun van topgehalte eetgoed. Die gemeente se gewilde Dopperkuierkafee, wat elke Vrydag wegneemetes teen sakpaspryse bedien, was op sy pos en kort voor lank was die voorrade uitverkoop. Daar is 1 000 pannekoeke deur honger feesgangers verorber, 17 kg porsies pap en kaiings is verkoop, 600 stokworse en 650 sosaties. Kerrie-en-rys, hamburgers, skyfies en baie ander lekkernye is ook verkoop. Die pap-en-tik tafel kon nie voorbly nie.

Op die vooraand van die fees het baie gewonder of daar nie heeltemal te veel vleis te koop aangebied word nie. Voor 09:00 Saterdagoggend was die biltong verkoop. Al wat oorgebly het, was ‘n paar pakkies wors, salami’s en ‘n bietjie skaap- en kookvleis. Die koektafel en groentestalletjie het uit hul nate gebars.

Die handwerktafel en kwekery het die kroon gespan. Daar is van ‘n windpomp tot houtgeweertjies, skinkborde tot fyn hekelwerk, ontwerpersrokke tot voorskote      teen weggeepryse verkoop.

Ds. Nagel het bygevoeg dat hy in die 14 jaar van sy bediening nog nie so iets beleef nie. “Dit was ‘n fees! Baie dankie aan almal wat hard gewerk het. Dankie aan die gemeenskap wat ons getrou en lojaal ondersteun het. Ons Laat Wiel weer in 2017,” het hy belowe.

 
 
 

Viewed: 745

 

 
 

Wikus Lee

 
 

More photos... 

Jessica Taylor het die "koekedoortjie"-kompetisie by die La't Wiel Weer-fees gewen. Met haar bakvernuf het sy R1 000 en 'n trofee verower. Foto: Jo-anne Beukes.

Veteraan Bybelvertaler, emiritus professor Koos van Rooy, geniet 'n lafenis tydens die La't Wiel Weer-fees. Foto: Jo-anne Beukes.

Die voorsitter van die projektekomitee van die Gereformeerde Kerk en "baas" van die La't Wiel Weer-fees, Mr Neels Kruger, in 'n veelkleurige haardos ten bate van die plaaslike Cansatak. Foto: Jo-anne Beukes.

Mev. Annetjie en adv. Neil Duvenhage afgeneem tydens die La't Wiel Weer-fees van die Gereformeerde Kerk. Foto: Jo-anne Beukes.

Maans Claassens en Petru Erasmus, afgeneem by die plantstalletjie tydens die La't Wiel Weer-fees . Foto: Jo-anne Beukes.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT