ADVERTISEMENT:

 

 
 

Miljoene verlore

Date: 05 September 2016 By: Andries van Zyl

Dinsdag se onderbreking in Telkom-dienste aan dele van die land noord van Pretoria het besighede lamgelê.

Die onderbreking kon nie op ‘n slegter tyd gekom het nie. Dit het op maandeinde plaasgevind – ‘n tyd wanneer besighede hulle rekeninge konsolideer en uitstuur.

Wat mense egter woedend gelaat het, was die rede waarom die diens ten opsigte van Internet-toegang en landlyndienste onderbreek is. Volgens berigte is ‘n kern-veselkabel van Telkom wat die noordelike dele van die land bedien, opsetlik gesaboteer. Dit kom te midde van die landswye Telkom-staking, met stakende werkers wat ‘n 11% verhoging van Telkom as hul werkgewer eis. Die doelbewuste sabotasie van die kabel word in ‘n baie ernstige lig deur Telkom beskou, wat reeds ‘n R1 miljoen beloning uitgeloof het aan enige iemand wat kan help om die saboteurs op te spoor en suksesvol te laat vervolg.

“Dit is baie moeilik om presies te bepaal wat die verlies aan inkomste vanweë Dinsdag se onderbreking is. Al wat ek kan sê is dat dit Louis Trichardt se ekonomie miljoene gekos het,” het mnr. Jaco Voigt, waarnemende voorsitter van die Soutpansberg Sakekamer, Woensdag gesê. Hy is ook die finansiële direkteur by Limpopo Melkery. “Limpopo Melkery is op verskeie maniere geaffekteer deur Telkom se ‘outage’ Dinsdag. Sekere kliënte met landlyne kon nie gekontak word om bestellings te neem nie. ‘Inter-branch stock transfer’ tussen depots kon ook nie plaasvind nie, dus kon sekere depots nie verkoop nie. Sekere banktakke kon ook nie deposito’s aanvaar nie,” het Voigt gesê.

“Sonder Telkom-dienste is my besigheid lamgelê.  Hoewel ons in die ‘people’s industry’ is, is ons ook maar baie op tegnologie aangewese. Ons het ‘n baie groot verhuringsafdeling en geen van die eienaars se huurgeld kon in hulle rekeninge oorbetaal word nie. Ons was ook besig met die registrasie van ‘n transportakte en ek  kon nie vir die bank vra om die belegging te sluit, sodat ek oor ‘n miljoen rand se koopdeposito aan die prokureurs kon oorbetaal nie. Ek kon nie die huur wat ons in kontant ontvang het, bank nie, aangesien die bank ook van lyn af was. Daarmee het ek die EAAB (Estate Agency Affairs Board) se regulasies oortree, aangesien kontant daagliks gebank moet word,” het me. Jana Smith van Harcourts gesê.

Plaaslike makelaar ZC Pretorius sê hy was gelukkig dat sy besigheid gebruik maak van ‘n Internet-stelsel wat nie van Telkom afkanklik is nie. Tog was sy ervaring tydens besoeke aan kliënte minder positief. “Maandeinde is ‘n belangrike tyd vir almal, so ook die motorhandelaars. Ek was by twee aan. Ai, die geskarrel om net sein te kry en die verkope deur te kry,” het Pretorius gesê. Sy raad was om te kyk na alternatiewe en nie net staat te maak op Staatsinstansies nie.

“In ons besigheid is ons totaal afhanklik van kommunikasie. Die onderbreking het ons erg geraak. Dit is maandeinde en ons het nie kontak met ons hoofkantoor of kliënte gehad nie. Kliënte kon jou ook nie skakel nie en, was hulle nie bewus van die probleem nie, dink hulle nou jy wil nie met hulle besigheid doen nie. Ek kan nie sê hoeveel ons verloor het nie, maar ons het definitief ‘n finansiële verlies gelei,” het mnr. Eddie Schlesinger van Werda Motors gesê. Hy het bygevoeg dat die onderbreking ook ‘n veiligheidsrisiko ingehou het. “Ons almal weet misdaad in die streek eskaleer. Gisteraand het ons plaaswag ‘n dringende vergadering gehad. Baie mense het nie opgedaag nie, want ons kon nie met hulle kommunikeer nie,” het Schlesinger gesê.

“Die implikasie van die onderbreking was dat geen oproepe na of vanaf die hospitaal en laboratorium gemaak kon word nie. Dokters kon nie gekontak word nie, en dokters kon ook nie die hospitaal of laboratorium skakel nie. Mediese verslae kon nie betyds bekom word nie en personeel se privaatfone moes gebruik word vir amptelike doeleindes. Pasiënte moes ook self hulle mediese fondse kontak om magtiging te bekom,” het mnr. Fanie van Zyl, fasiliteitsbestuurder by die Zoutpansberg Privaathospitaal, gesê.

Van Zyl het bygevoeg dat die onderbreking veel verder uitgekring het as net die onmiddellike gebrek aan kommunikasie. Hy sê pasiënte wat kaartbetalings wou doen, moes later weer terugkom om transaksies te finaliseer. “Ons personeel moes ook oortyd werk om ‘agterstallige’ werk op datum te bring,” het Van Zyl gesê.

Genadiglik het Telkom se landlyn- en Internetdienste teen laat Dinsdagmiddag weer gedeeltelik gefunksioneer. Die ervaring het as realiteitskok vir baie gekom. “Dit is skrikwekkend om dit dink dat een of twee mense ‘n hele land se ekonomie op sy knieë kan dwing,” het menige inwoner opgemerk. In dié verband het Smith ‘n ernstige waarskuwing aan stakende Telkom-werkers gerig: “Hulle moet besef daar is alternatiewe daar buite. As hulle so aangaan, ontvang hulle dalk een van die dae geen geld nie, in die plaas van meer geld,” het Smith gesê.

 

 

 
 
 

Viewed: 988

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT