ADVERTISEMENT:

 

 
 

In die eerste sirkel kan Yzel gesien word waar sy een van die mans nader om hulle uit te vra oor haar motor. Regs van hulle (in die tweede sirkel) is die tweede man. Dié twee mans word nou deur die polisie gesoek in verband met die saak vir ondervraging. Lesers kan op www.zoutpansberger.co.za gaan kyk na die beeldmateriaal. Foto's verskaf.

Polisieman se optrede laat wrang smaak in haar mond

Date: 04 September 2016 By: Isabel Venter

Is die polisie besig om die inwoners van Louis Trichardt in die steek te laat?

Dit is die vraag wat in baie se gemoed ontstaan, nadat hulle gehoor het van mev. Heleen Yzel se ervaring met die Makhado Polisie. Sy is wreed ontnugter deur die plaaslike polisie se hantering van haar saak, en het haar griewe met die Zoutpansberger gedeel.

Yzel se voertuig, haar enigste bron van vervoer, is Woensdagaand, 10 Augustus, gesteel by die Rugbylapa (Yzel verkoop elke aand vetkoek by die kroeg van die lapa om haar inkomste aan te vul).

Amper ‘n week later het Yzel op eie houtjie haar voertuig teruggekry, maar die wyse waarop die polisie die saak hanteer het, het ‘n wrang smaak in haar mond gelaat. Boonop het die polisiebeampte, by wie sy die saak aangemeld het, haar heel onseremonieel meegedeel dat “you would be lucky if you can find your car”.

In die dae wat haar voertuig vermis was, vertel Yzel, het baie mense haar motor opgemerk in die dorp, sonder nommerplate, en haar gebel. Sy het nooit ‘n oproep van die polisie ontvang in dié tyd nie.

Voorverlede Saterdag (20 Augustus) het mnr. Franco Venter vir Yzel geskakel met die nuus dat hy ook haar voertuig opgemerk het in die omgewing van die White Horse Gastehuis in Douthwaitstraat. Yzel het ‘n kans gevat en ondersoek ingestel, maar nie haar voertuig opgemerk nie. Later die aand het sy weer gaan kyk, en wonder bo wonder ‘n voertuig opgemerk wat om die hoek verdwyn wat net soos háár gesteelde voertuig lyk.

Sonder om te skroom sit sy toe dié voertuig agterna, tot waar die verdagtes gestop het by die Safari Caltex vulstasie om brandstof in te gooi. Terwyl Yzel ‘n parkeerplek gesoek het, het die verdagtes aankope gemaak in die winkel. Sy het toe intussen die voertuig wel as haar gesteelde voertuig uitgeken. Die verdagtes – twee mans – was in die kafee gewees teen die tyd wat Yzel kon parkering kry. Hulle het weggehardloop toe Yzel hulle konfronteer, waar sy hulle ingewag het langs haar motor.

Die polisie is in kennis gestel, maar volgens Yzel het die behandeling wat sy ontvang het, háár soos die krimineel laat voel. Asof dit nie erg genoeg was nie het dieselfde polisiekonstabel, by wie sy die voertuig as gesteel aangemeld het, by die toneel opgedaag en haar meegedeel dat hy vroeër die week die motor opgemerk het.

Volgens Yzel het die konstabel vir haar gesê dat hy dieselfde voertuig afgetrek het, omdat dit sonder nommerplate was, maar dit weer laat gaan het. Dit is nie seker of die konstabel hulle net laat gaan het met ‘n waarskuwing nie. Sy kollegas het egter glo vir Yzel gesê dat die konstabel bekend is met die twee verdagtes en dit die rede is hoekom hy hulle weer vrygelaat het.

Buiten vir dit het die betrokke konstabel vir Yzel toestemming gegee om ‘n insleepdiens te reël om haar voertuig te kom haal, omdat die diewe weg is met die sleutels. ‘n Ander bevelvoerder het dié opdrag teruggetrek en beveel dat Yzel se motor na die polisiekantoor gesleep moet word. Albei het glo net hulle skouers opgetrek oor die R1 500 uitroepfooi wat Yzel nou moet betaal vir die diens. Om sake te vererger het die polisie die daaropvolgende Maandag vir Yzel gevra om vir ‘n foto te poseer saam met haar motor sodat hulle die goeie nuus van hulle [die polisie] se sukses kan versprei.

Dit was die spreekwoordelike strooihalm wat die kameel se rug gebreek het, en Yzel het by die koerant aangeklop om te kla oor die polisie se “laksheid en nalatigheid.”

By navraag het die polisie se inligting nie gestrook met Yzel se weergawe nie.

Die aanvanklike inligting wat deurgegee is deur polisiewoordvoerder, AO. Irene Radzilane was dat twee polisielede, besig met parolering, by die vulstasie gestop het om brandstof in te gooi en toe die vermoedelik gesteelde voertuig opgemerk het. Die lede sou toe glo ondersoek ingestel het, en die verdagtes het op die vlug geslaan.

Die sekuriteitskameras by die vulstasie se beeldmateriaal, wat die Zoutpansberger bekom het, het egter die polisie se weergawe weerlê - nogal in volkleur. Met die opvolgnavrae het die koerant versoek dat die stasie se bevelvoerder lt-kol. Merilyn Mabatha by moet wees om te verduidelik.

Sy het bevestig dat die polisie Yzel se aantygings in ‘n baie ernstige lig beskou en dat haar kantoor reeds ‘n interne ondersoek van stapel gestuur het. “Ons is meer as bereid om hand-in-hand saam met mev. Yzel te werk om hierdie saak af te handel, en as die lid skuldig bevind word sal daar ‘n toepaslike straf aan hom uitgedeel word,” het Mabatha en Radzilane gesê. “Ten spyte daarvan dat die voertuig teruggekry is, beskou ons nie die saak as suksesvol nie. Die saak sal eers suksesvol afgehandel wees as die verdagtes aangekeer word,” het hulle verder bygevoeg.

Mabatha was egter ontsteld omdat die polisie nie eerste gekontak is, toe sy haar voertuig opgemerk is. “Die persoon wat vir Yzel gekontak het met die inligting oor haar voertuig moes die polisie geskakel het. Ons is nie onwillig om te help nie en sou vinnig gereageer het,” het Mabatha gesê.

Die beweringe dat die betrokke konstabel Yzel se voertuig laat gaan het sonder om behoorlik ondersoek in te stel, kan moontlik toegeskryf word aan gebrekkige kommunikasie. Die beskrywing van die voertuig is glo nie deur die betrokke ondersoekbeampte gedeel met die res van die patrollielede nie. Dit sal saam deel vorm van die ondersoek teen die konstabel. Hy kan nog nie geïdentifiseer word, totdat die ondersoek teen hom afgehandel is nie.

Intussen het Yzel haar voertuig teruggekry, maar het dit haar heelwat geld gekos om die sleutels te vervang. Sy is ook reeds deur die plaaslike stasie en die Onafhanklike Polisie Ondersoekdirektoraat genader vir haar verklaring.

 
 
 

Viewed: 863

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Die Makhado Polisie het vandeesweek aangedui dat hulle op soek is na hierdie twee mans vir ondervraging in verband met die ondersoek na mev. Heleen Yzel se voertuig. Foto verskaf.

Die Makhado Polisie het vandeesweek aangedui dat hulle op soek is na hierdie twee mans vir ondervraging in verband met die ondersoek na mev. Heleen Yzel se voertuig. Foto verskaf.

Op die beeldmateriaal kan mens duidelik sien dat die polisie nié die eerstes op die toneel was nie, maar wel Heleen Yzel (in pienk). 

Op die beeldmateriaal kan mens duidelik sien dat die polisie nié die eerstes op die toneel was nie, maar wel Heleen Yzel (in pienk). 

Op die omkringde beeldmateriaal kan mens duidelik sien dat die polisie nié die eerstes op die toneel was nie, maar wel Heleen Yzel (in pienk). 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT