ADVERTISEMENT:

 

 
 

‘n Baie gelukkiger Leandrie de Jager (middel) Dinsdag afgeneem saam met pa Heine en ma Leonie.

Net die krag van mense se gebed het haar gered

Date: 03 September 2016 By: Andries van Zyl

Die afgelope maand was ‘n emosionele roller coaster vir die De Jager-familie van Louis Trichardt – ‘n tyd waar hulle baie gebid het dat die Here hul lieflingdogter Leandrie (14) sal spaar.

Daar is ernstig gevrees vir Leandrie se lewe, nadat haar blindederm gebars het en die wond ernstige infeksie in haar buik veroorsaak het wat medici gesukkel het om gesond te kry. Buiten vir haar prestasies in netbal, fietsry en atletiek, is sy ook tydens haar afwesigheid by Hoërskool Louis Trichardt die afgelope maand aangewys as een van die top 10 beste akademiese presteerders in Graad 11 ná afloop van die tweede skoolkwartaal.

Die Zoutpansberger het Dinsdag by die De Jagers gaan inloer waar Leandrie tans besig om tuis is aan te sterk.

Die familie se nagmerrie-ondervinding het op 28 Julie begin. “Sy het begin kla van ‘n pyn in haar linkersy, maar sy het nog gaan fietsry daardie Donderdagmiddag,” sê ma Leonie.

Die Vrydag is Leandrie skool toe. Met haar terugkoms die middag het sy egter steeds gekla van pyn in haar sy, maar nie ernstig nie. Saterdagoggend is die familie dorp toe en Leandrie het nog agter op die bakkie oor die reëling op en af geklim. “Saterdagnag het sy egter skielik baie siek geword. Sy het begin opgooi en ‘n hoë koors gehad,” sê Leonie.

Sondagoggend is Leandrie na die dokter op roep gevat vir ‘n ondersoek. “Hy het vir my gesê sy moet onmiddellik, nie vanaand of môre nie, geopereer word om te sien wat verkeerd is met haar blindederm. Ons het in daardie stadium nie geweet wat presies fout is nie en aanvanklik gedink die blindederm is net erg ontsteek,” sê Leonie.

Twee-uur daardie middag het jong Leandrie ‘n noodoperasie by die Zoutpansberg Privaathospitaal ondergaan. “Toe hulle oopmaak, het hulle [dokters] eers gesien die blindederm het klaar gebars en septiese gemors het in die buik in gelek,” sê Leonie.

Almal was in daardie stadium verstom dat Leandrie nie inmekaar getrek van pyn die oggend by die dokter se spreekkamer ingestap het nie. “Tot hulle haar oopgemaak het, het niemand gedink dit is so ernstig nie,” sê Leonie. Dit sou kort daarna bevind word dat Leandrie ‘n baie hoë pyndrumpel het; daarom het sy nie soveel pyn gewys het nie.

Plaaslik het die dokters die gebarste blindederm skoongemaak soos hulle kon, waarna hulle Leandrie op antibiotika gesit tot die Vrydag [5 Augustus] in die hospitaal hier. Vrydagmiddag is sy ontslaan en met mondelingse antibiotika huis toe. Die Saterdag het Leandrie nog goed gelyk, maar Sondag het haar toestand weer skielik verswak.

Die De Jagers is Maandagoggend weer dokter toe vir Leandrie se opvolgbesoek. Daar is toe gevind dat die wond septies geraak het, waarna daar onmiddellik bloed getrek is. 'n Uur later het die dokter vir pa Heine gesê om onmiddellik sy dogter by die MediKliniek in Tzaneen te kry. Leandrie se infeksietelling, wat vyf moet wees, was in daardie stadium reeds meer as 500. Haar toestand was in daardie stadium so ernstig dat die dokter gesê het dat slegs ‘n chirurg haar verder sou kon help.

Leandrie is dadelik deurgejaag na Tzaneen. Daar aangekom is Leandrie weer teater toe. “Ná bykans twee ure het die chirurg uitgekom en gesê hy kon nie deur die eerste sny regkom nie, en dat hy ‘n tweede sny moes maak,” sê Leonie.

Ná die operasie was Leandrie bitter siek. Haar polsslag was 200 en dit wou nie afkom nie. “Die chirurg het die hele nag by die hospitaal gebly net vir haar,” sê Leonie.

Weens haar toestand is Leandrie op ‘n uiters sterk antibiotika geplaas. “Ons huisdokter het gevra of ons besef dat dit die sterk antibiotika is wat in daardie stadium Leandrie se lewe red. Van dit [die antibiotika] het sy vier keer per dag vir die eerste twee dae gekry,” sê Leonie. Heine voeg by dat hy ná die tyd verneem het dat baie siek pasiënte normaalweg slegs een dosis van hierdie sterk antibiotika per week kry.

Op 10 Augustus is die dosis antibiotika verlaag na twee toedienings ‘n dag en daagliks is daar bloed getrek om te bepaal of Leandrie se infeksietelling afneem. Genadiglik het die infeksietelling begin daal. Sou dit nie gebeur nie, was die groot vrees dat Leandrie vir ‘n derde operasie sou moes gaan.

Teen Sondag, 14 Augustus, het Leandrie se toestand tot so ‘n mate verbeter dat sy ontslaan kon word. Sy moes egter steeds twee keer per dag by die Zoutpansberg Privaathospitaal aanmeld vir die toediening van binneaarse antibiotika en om die wond skoon te maak. Dit het aangehou tot 18 Augustus.

Die aanvanklike operasie sny was intussen steeds oop en dié sny kon eers op 23 Augustus toegewerk word, nadat medici tevrede was dat die infeksie gekeer kon word. Weens die morfien wat Leandrie moes kry vir die pyn in Tzaneen, het die blasies op haar longe ook begin platval, omdat sy weens die verdowing nie diep genoeg kon asemhaal nie. Daarvoor moes sy intensiewe fisioterapie ontvang.

“Ek het baie gehuil. Ek het permanent by haar bed in Tzaneen gesit. Dit is erg om jou kind so te sien. Haar drip het soos ‘n Kersfeesboom gelyk met al die pype in haar,” sê Leonie. Heine het daagliks heen en weer tussen Louis Trichardt en Tzaneen gery.

Leandrie loop tans steeds met ‘n dreineringspyp in haar buik. Dié sal hopelik op 6 September uitgehaal word, tydens haar volgende opvolgbesoek. “Sy word nog baie moeg en het nog baie pyn,” sê Leonie.

As alles goed gaan, meen dokters dat Leandrie teen 12 September kan terugkeer skool toe – iets waaroor Leandrie baie opgewonde is. “Ek mis skool baie en wil graag teruggaan,” sê sy. “Die ergste is dat, tot nou toe, Leandrie nie een dag sedert sy laerskool begin het, afwesig was nie. As sy iets doen, doen sy dit ordentlik,” voeg pa Heine met ‘n glimlag by.

Die hele ervaring het egter die familie op hul knieë gehou. “Die dag toe hulle vir my sê Leandrie sal dalk vir ‘n derde keer geopereer moet word, het ek besef: Gebed in ‘n gemeenskap wat almal vir haar gebid het, dit werk!” sê Heine. “Ek kon net nie myself sover kry om te dink dat sy vir ‘n derde keer weer oopgemaak moet word nie,” voeg Leonie by.  

Die familie het almal bedank vir hulle ondersteuning en gebede die afgelope tyd. “Ek kan nie almal se name onthou nie, maar ons is baie dankbaar. Mens besef nie hoeveel jou gemeenskap nog regtig vir jou omgee nie, as jy nie deur so ‘n beproewing gaan nie,” sê Leonie. Hulle het ook hoë lof gehad vir die dokters en hospitale. “Ons moet sê ons het ongelooflike diens by altwee hospitale ontvang. Hulle het regtig uit hul pad uitgegaan om ons te help en Leandrie te akkommodeer. Ons kan nie kla oor enige iets nie,” sê Leonie.

 
 
 

Viewed: 2541

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

'n Baie, baie siek Leandrie kort ná haar operasie in Tzaneen. Foto verskaf.

Medici moes ‘n tweede snit (regs) maak om te help om by die infeksie in Leandrie se buik uit te kom. Links is die aanvanklike snit, nadat dit suksesvol toegewerk kon word op 23 Augustus. Foto verskaf.

Die aanvanklike snit (links) wat ontsteek het en byna-byna Leandrie se lewe gekos het. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT