ADVERTISEMENT:

 

 
 

'n Bromvoël, afgeneem in die Kruger Nasionale Park.

Publiek gevra om skaars bromvoël te help bewaar

Date: 26 August 2016 By: Anton van Zyl

Die Mabula Bromvoëlprojek het ‘n beroep gedoen op inwoners van die Soutpansberg om te help om dié skaars voëlspesie te bewaar en ook om aan te meld waar en wanneer van die voëls opgemerk is.

Volgens Natasha Nel, assistent-projekbestuurder van Mabula, is die getal bromvoëls wat in die natuur voorkom steeds aan die daal. Die voëlspesie, wat ook as die “reënvoël” beskryf word, is as ‘n bedreigde spesie geklassifiseer en as iets nie vinnig gedoen word nie, kan die bromvoël uitsterf. Natasha sê dat die voëls steeds vergiftig word en dikwels doodgeskok word wanneer hulle op kragkabels gaan sit. Bromvoëls is ook geneig om vensters te breek wanneer hulle hulself in die weerkaatsing sien en teen die “indringer” begin baklei. Vir hierdie rede maak mense hulle dood. “Hulle kan eenvoudig net nie vinnig genoeg broei om te oorleef met die magdom bedreigings wat hulle in die gesig staar nie,” sê Natasha.

Die Mabula Bromvoёlprojek poog om samewerking te bewerkstellig tussen medewerkers en ondersteuners om sodoende die afname in bromvoёlgetalle te stuit en die getalle weer te laat toeneem, veral in gebiede waar die voëls histories voorgekom het. Verskeie bewaringstrategieë is in plek om die doelwit te probeer bereik. “Een daarvan is die oes van die tweede kuiken uit hulle natuurlike neste. Die kuikens vorm dan deel van ‘n broeiprogram en hulle word later vrygelaat in die natuur. Die jong voëls word geplaas in ‘n wilde groep wat gemonitor word. Die groep funksioneer soos ‘n 'bosskool’ waar die jong voëls leer hoe om in die natuur te kan oorleef om eendag self ‘n mentor te kan word,” sê Natasha.

‘n Belangrike faset van die Bromvoëlprojek is die monitering van die wilde voëls en die publiek se insette is belangrik. ‘n Beroep word dus gedoen op lede van die publiek om hier behulpsaam te wees. Inwoners van die Soutpansberg kan help deur die volgende te doen: 

Stel die Bromvoëlprojek in kennis wanneer dié voёls in ‘n area gewaar word. Stuur asseblief die volgende inligting aan hulle: Datum, plek (GPS koördinaat of ‘n goeie beskrywing) en hoeveelheid voëls.

Intussen kan mense ook help deur:

* Slegs gifstowwe te gebruik volgens die vervaardiger se aanwysings en slegs as ‘n laaste opsie.  Die bromvoёl sal ook aas vreet en daarom hou gif wat vir “probleemdiere” uitgesit word ‘n groot bedreiging in vir die voёls.

* Moenie van karkaste of afval ontslae raak in die veld as loodkoeёls gebruik was om die dier te skiet nie. Bromvoёls is baie vatbaar vir loodvergiftiging.

* As u transformatorkas op u plaas het wat nie geïsoleer is nie, skakel asseblief die Eskom of stadsraad verteenwoordiger in u area.

* Help om die woord te versprei oor die lot van dié wonderlike voёls.

Vir meer inligting kan die organisasie se webtuiste besoek word by www.ground-hornbill.org.za. Inligting is ook beskikbaar op hul Facebook-blad, of stuur ‘n e-pos aan [email protected].

 
 
 

Viewed: 719

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT