ADVERTISEMENT:

 

 
 

Pakkies word aan die TLC-eenheid van die Pietersburg Provinsiale Hospitaal oorhandig deur mnr. Dirk Meisseinheimer (Kansa-voorsitter, Louis Trichardt) en word deur mnr. Bobby Were (regs) in ontvangs geneem. Foto verskaf.

Eerste besending omgeepakkies bereik kankerlyertjies

Date: 25 August 2016 By: Isabel Venter

Louis Trichardt se Kansa-tak het voorverlede week die eerste besending omgeepakkies aan jong kankerlyertjies begin uitdeel.

Nadat die plaaslike Kansa-tak ‘n beroep gedoen het op inwoners om hulle omgeepakkie-projek te ondersteun, het dié pakkies letterlik ingestroom. Die tak het beoog om ten minste 50 van hierdie pakkies in te samel vir jong kankerlyertjies, maar het vinnig-vinnig die mylpaal verbygesteek. Hulle het al meer as 500 pakkies ingesamel.

Dié uitsonderlike projek is geïnspireer deur klein Leo Botha (18 maande) van Louis Trichardt wat vroeër in die jaar gediagnoseer is met akute limfoblastiese leukemie. Sedertdien ontvang Leo behandeling in die Unitas Hospitaal, waar ma Cheresé amper op ‘n daaglikse basis te doen kry met ander kankerlyertjies.

Die pakkies is so verdeel dat ‘n gedeelte vir pasiëntjies by die Unitas Hospitaal uitgedeel sal word, en die oorblywende gedeelte vir die spesiale kanker-afdeling by die Pietersburg provinsiale hospitaal.

Dit was juis die Pietersburg hospitaal wat eerste besoek is. Voorsitter van die plaaslike Kansa-tak mnr. Dirk Meissenheimer het vertel dat die nood daar groot is. “Dit is hartverskeurend om die klein lyfies te sien wat so vreeslik siek is ... mense wat nog nie daar was nie, besef nie hoe dit is nie,” het Meissenheimer gesê. Die Tender Love Care eenheid (TLC) is spesifiek by die hospitaal op die been gebring met die doel om kinders te behandel wat kanker het. Volgens Meissenheimer is daar ‘n lang waglys, want die eenheid is gewoonlik altyd vol pasiëntjies – daar is ongelukkig net ‘n beperktheid hoeveelheid beddens beskikbaar.

Die persoon wat die pakkies namens die eenheid in besit geneem het, was mnr. Bobby Were. Hy was aangedaan met die mooi gebaar en die versekering gegee dat die pakkies hulle hande sal sterk om ‘n ware nood te vul. “Daar is dikwels ouers wat nie eens kans gehad het om behoorlik te pak, voor hulle by die hospitaal moet wees nie, en dié pakkies sal juis dan baie handig wees,” het  Meissenheimer verduidelik.

Die res van die oorblywende pakkies sal na verwagting hierdie naweek by Unitas afgelewer word. Dit hang natuurlik af van hoe die vervoerreëlings getref word. In hierdie stadium probeer Dirk en Cherese dit inpas in beide van hul bedrywige skedules, en kom baie van die vervoer onkostes uit hulle of privaat donateurs se sakke.

Vir meer inligting, of om die aflewering van pakkies te reël, kan Dirk geskakel word by tel. 082 789 3927. Daar is intussen ook 'n Facebook-groep gestig vir Leo, waar sy vordering en foto's gedeel word. Lesers kan die Love for Leo blad gaan soek en like om sy vordering te volg.

 

 
 
 

Viewed: 1170

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT