ADVERTISEMENT:

 

 
 

Ds. Innes Nagel van die Gereformeerde Kerk in Louis Trichardt het nie net ‘n passie vir die bediening nie, maar ook vir jag. Hierdie liefde vir jag en die natuur het onlangs daartoe gelei dat hy sy professionele jagterslisensie verwerf het. Foto verskaf.

Dominee Innes nou ook ‘n professionele jagter

Date: 14 August 2016 By: Andries van Zyl

Dominee Innes Nagel van die Gereformeerde Kerk Louis Trichardt is ‘n man van vele passies. Nie net koester hy ‘n uitsonderlike passie vir die bediening nie, maar ook vir die natuur.

Dit was juis sy liefde vir die natuur wat vriende van Innes in Maart vanjaar laat besluit het om vir hom ‘n besonderse verjaardaggeskenk te gee – die kans om sy professionele jagterslisensie te bekom.

Van kleins af het Innes in die natuur grootgeword, hoofsaaklik te danke aan sy pa, ds. Cornel Nagel van die Gereformeerde Kerk Messina, se liefde vir die natuur. Hy vertel hoe sy pa in 1986 ‘n jaggeweer as afskeidsgeskenk ontvang het van die Eikenhof-gemeente in Johannesburg, nadat sy pa ‘n beroep van die Dendron/Magalakwin-gemeente aanvaar het. “Dit is hier waar my liefde vir jag ontstaan het,” sê Innes.

Innes se liefde vir die natuur strek egter baie verder terug. “In my 39 jaar van lewe was ons elke jaar behalwe een jaar nie in die wildtuin gewees nie. Dan is die karavaan gepak en het ons vir twee weke in die natuur gaan afsaal. Dit is hier in die wildtuin waar ons as kinders ons eerste treë gegee het,” sê Innes. Hy vertel van sy pa se uiteenlopende belangstelling en kennis van die veld en diere. “Ons het daarmee grootgeword,” sê Innes.

Maar terug na Innes se liefde vir jag…

Sy eerste “geweer” sê hy, was ‘n windbuks wat hy op sesjarige ouderdom gekry het. “Vandaar het ek en my broer twee windbukse opgeskiet soos wat ons leer skiet het,” lag hy.

Innes se passie was egter altyd om in die bediening in te gaan. “My ma wou egter gehad het ek moet in ‘n BCom-rigting studeer. Sy het nog gedink ek swot BCom, toe het ek klaar met die professore by die teologiese skool gereël om my studierigting na teologie te verander,” sê Innes. Sy ouers was rustig met sy besluit gewees. “Hulle het besef dit is wat ek wou doen en dit is my roeping,” sê Innes.

In 2002 het Innes sy studies voltooi. Sy eerste beroep was na die Magol-gemeente op Lephalale vanaf 2003 tot 2005. Vandaar is hy na Phalaborwa (2005 tot 2009), toe na Modimole (2009 tot 2013) en daarna het hy ‘n beroep na Louis Trichardt aanvaar. “Die heeltyd het ek maar verkies om in die Bosveld te bly. Dit sê vir jou iets – ek is tussen my mense,” sê Innes.

In Innes se agterkop was daar egter altyd die begeerte om ‘n professionele jagter te word. “Nie vir ‘n ander inkomste of om in ‘n professionele beroep daarvan te maak nie, net om my jag- en veldkennis te verbeter,” sê Innes. Hy vertel van sy tyd by sy eerste gemeente op Lephalale. “In die gemeente was 12 grootwildjagters en het ek die geleentheid gekry om saam met al 12 van hulle te jag. Dit is hier wat my passie vir jag werklik ontstaan het. Ek het by almal van hulle iets geleer,” sê Innes.

Innes is dankbaar vir die kanse wat hy as dominee gekry het om te jag. “Meeste van die wild wat ek geskiet het, was vir die kerk. So mense het my gevra om te kom skiet, want hulle het geweet ek hou daarvan,” sê Innes.

Dit sou egter eers vroeër hierdie jaar wees wat daar ‘n deur oopgegaan het vir Innes om sy droom te bewaarheid om ‘n professionele jagter te word. Tydens ‘n huisbesoek aan Craig en Zeriah Wessels van Limpopo Wildlife Training het hy en die egpaar begin gesels oor Innes se liefde vir die veld en jag. Dit was juis na aanleiding van hierdie gesprek wat die Wessels-egpaar besluit het om Innes ‘n volledige jagkursus as professionele jagter as verjaardaggeskenk te gee.

Maklik was die kursus egter nie. Van die sewe jong manne wat saam met Innes die 10-dae kursus begin het, het net drie (waaronder hy) die Departement van Natuurbewaring se eksamen geslaag. Die maklikste deel van die kursus was die algemene kennis vraestel waar daar gekyk is na diere- en veldkennis. Moeiliker was die ordonnans-vraestel wat gehandel het oor wetgewing rondom die jagbedryf. “Dit was ‘n bulletjie!” sê Innes. Praktiese kennis het ook ‘n groot deel van die kursus uitgemaak wat onder meer ingesluit het skiet, skootplasing, wapenveiligheid, herlaaitegniek, horingskatting, spoorsny, hantering van velle en slagkuns. “Ons moes tot ‘n drie-gang maaltyd voorberei vir ‘n kliënt,” sê Innes.

Vir Innes is die kry van sy professionele jagterslisensie ‘n persoonlike mylpaal. “Dit was vir my net so goed soos toe ek ‘n sportskut geword het. Dit maak my gelukkig en ek het die kursus gedoen omdat dit vir my lekker is. Dit is nog iets wat ek agter my naam kan skryf,” sê Innes.

Innes het weer sy gemeente gerusgestel dat hy nie planne het om ‘n ander rigting in te slaan nie. “My eerste passie bly my gesin en familie, wat die gemeente as breër familie insluit. Ek is gebore om ‘n predikant te wees wat ‘n besonderse liefde vir die natuur koester. Ek is lief vir jag, want ek is lief vir die natuur. Daar is geen beter plek waar ek met die Here kan praat en tyd spandeer nie. Om die kampvuur is ook die plek waar ek my hartsvriende ontmoet,” sê Innes.

Limpopo Wildlife Training bied hierdie maand weer 'n kursus aan. Vir meer inligting kan Innes geskakel word by tel. 082 701 5602.

 
 
 

Viewed: 897

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Ds. Innes Nagel saam met een van sy gemeentelede, me. Ansu van Staden, by 'n blouwildebees wat hy onlangs saam met haar geskiet het. Foto verskaf. 

As deel van die intensiewe 10-dae jagkursus moes Innes selfs leer om kos te maak en ‘n driegang maaltyd voor te berei vir ‘n kliënt. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT