ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle me. Marisa Gerber (42). Foto verskaf.

Nuus van Marisa (42) se skielike dood kom as skok

Date: 13 August 2016 By: Andries van Zyl

Nuus van die skielike dood van ‘n bekende in die plaaslike skoonheidsbedryf, Marisa Gerber (42), het vir inwoners van Louis Trichardt as groot skok gekom.

Marisa, eienaar van ‘n plaaslike naelsalon wat in 2015 sy deure gesluit het, is Saterdagoggend in haar slaap oorlede weens hartversaking. Sy is oorspronklik van Balfour, Mpumalanga, en was vir die laaste dekade ‘n inwoner van Louis Trichardt.

Marisa het net meer as ‘n jaar gelede  na Mokopane verhuis waar sy haar naelbesigheid voortgesit het. Dis hier waar sy siek geword het en uiteindelik in Mei 2015 met hartversaking gediagnoseer is. Marisa en haar lewensmaat, John Worrall, was besig om na Kaapstad te verhuis waar sy Maandag, 15 Augustus, voorlopige toetse sou ondergaan het om te bepaal of sy ‘n geskikte kandidaat vir ‘n hartoorplanting sou wees.

Marisa en ‘n vriendin van haar, Irma Maree, het verlede week die lang pad Kaap toe aangedurf. John sou Woensdag hierdie week volg met die trek. Die twee vriendinne het tot in Bloemfontein gery waar hulle die aand oornag het. Dit was egter vir almal ‘n groot skok dat Marisa daardie aand in haar slaap oorlede is.

“My ma was nog baie jonk van gees en vol energie. Sy was ‘n baie liefdevolle mens en het omgegee vir almal. Sy was baie avontuurlustig, het gehou van reis en om nuwe vriende te maak. Sy was ‘n sterk mens en het almal om haar geïnspireer,” het haar dogter Almoné gesê. Almoné se eggenoot, Benjamin (Benjie) Scott, voeg by: “'n Paar uur voordat sy oorlede is, was sy baie gelukkig en opgewonde om ‘n nuwe lewe te begin.”

Marisa sal onthou word as ‘n sterk mens. Die nuus dat sy aan hartversaking lei het haar geensins onder gekry nie en haar oorreed om self ook ‘n orgaanskenker te word. Sy het ook passievol mense oorreed om orgaanskenkers te word. So het sy as orgaanskenker met haar dood ook ander kon help. In lewe was sy ‘n saggeaarde en opgewekte vrou wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie. Sy het altyd met deernis, empatie en medemenslikheid met ander omgegaan en het ‘n ruggraat van staal gehad.

‘n Roudiens vir wyle Marisa vind Saterdag, 13 Augustus, om 11:00 vanuit die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente plaas. Sy word oorleef deur haar ma, Almarie van Heerden (ook ‘n inwoner van Louis Trichardt), lewensmaat John, dogter Almoné, skoonseun Benjie, en seuns Marcel en Chris. Die familie het hul opregte dank uitgespreek teenoor almal se woorde van vertroosting, bystand en ondersteuning in hierdie moeilike tyd. Marisa sou op 21 September vanjaar haar 43ste verjaardag gevier het.

 

 
 
 

Viewed: 4617

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT