ADVERTISEMENT:

 

 
 

Beeldmateriaal van die inbraak by Lalapanzi Hotel.

Inbrekers slaan toe by hotelle

Date: 01 August 2016 By: Isabel Venter

Is Louis Trichardt besig om te verander in ‘n Mekka vir misdadigers en skurke?

Hierdie vraag word nie soseer gevra omdat misdaadvlakke weer ongekende vlakke bereik in die dorp nie, maar eerder omdat daar soveel onopgeloste sake is. Vrae is hierdie week gevra oor waarom daar nooit gehoor word van enige arrestasies in verband met die misdade nie. Die koerant het navrae gedoen, spesifiek rondom onopgeloste moorde, maar dit blyk by nadere ondersoek dat dit nie die enigste onopgeloste sake is waarmee die polisie sukkel nie.

Terwyl die koerant besig was met die navrae, het dit aan die lig gekom dat hotel- en gastehuiseienaars ook onopgeloste sake het wat by die Makhado Polisiestasie geregistreer is. ‘n Groep van dié eienaars het Maandag ‘n dringende vergadering gehad met die plaaslike stasie se top bestuurslede om oplossings te help soek. Die koerant het betroubaar verneem dat die waarnemende bevelvoerder van die Makhado SAPD, lt-kol. Tshililo, en twee senior bestuurslede van die speurafdeling die vergadering bygewoon het.

Die eienaars het by die polisie gepleit vir antwoorde. “Ons het vir hulle gevra dat dinge moet verander, en dat dit nie kan aangaan soos dit nou aangaan nie,” het mev. Mona Coetzee van die Ultimate Guesthouse Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê. Daar is Sondagaand vir die soveelste keer by die gastehuis, geleë langs die Bluegumspoortpad, ingebreek. Met die koerant se aankoms by Coetzee het sy ook pas die berig ontvang dat daar by Harnam House ingebreek is, ‘n entjie verder af met die pad.

Hierdie twee gastehuise is nie die enigstes wat deurgeloop het onder die booswigte nie. Kennington Lodge (8 km suid van Louis Trichardt, langs die N1) is oor die naweek weer beroof - vir die tweede keer in een maand.

“Hulle [die inbrekers] het ons rot en kaal besteel aan die begin van Julie,” het Zena Kotze namens Kennington Lodge gesê. Die rowers het vleis, drank, sigarette en die kasregister se kontant gesteel. Sedertdien is die sekuriteit opgeskerp; soveel so, sê Kotze, dat dit voel of hulle nou in ‘n tronk leef. Helaas het die inbrekers Sondagaand die kroegdeur probeer afbrand. Die nuwe alarmstelsel het hulle onderbreek en het die booswigte genoop om te vlug voor hulle iets kon steel.  

Nog hoteleienaars wat radeloos is, is Marius en Inga Gilfillan van die Lalapanzi Hotel (25 km suid van Louis Trichardt). Daar is al twee keer by die hotel ingebreek, waarvan die mees onlangse geval aangemeld is op 14 Julie. Die inbrekers het weggekom met platskerm televisieskerms en drank.

Coetzee, Kotze en die Gilfillans was van die persone wat Maandag se vergadering met die polisie bygewoon het. Ander hotelle of gastehuise wie verteenwoordigers gestuur het, het ingesluit Cloud’s End, Northgate Lodge, Mountain Inn, en Adam’s Apple Hotel. “Ons almal [die hotelle] het elk meer as twee sake aangemeld in die jaar,” het Inga Woensdag telefonies aan die Zoutpansberger bevestig.

Sy het verder gesê dat die eienaars en verteenwoordigers spesifieke vrae gehad het vir die polisie (daar was saam met Tshililo agt topbestuurslede en speurders). Onder andere het hulle navraag gedoen oor die vordering van inbrake wat in Meimaand reeds aangemeld is, en of die polisie enige verdagtes geïdentifiseer het in die nuutste sake.

Volgens Inga en Mona het Tshililo gesê dat hulle wel poog om die sake op te los, maar dat daar gewag word op vingerafdrukke en dat dit ‘n groot struikelblok is. “Ek vind dit snaaks, want op ons sekuriteitsbeeldmateriaal kan mens duidelik sien die inbrekers dra handskoene ... watse vingerafdrukke dink hulle gaan hulle kry?” was Mona se vraag.

Hierdie beeldmateriaal, asook soortgelyke beeldmateriaal van Lalapanzi se inbrake, is aan die polisie oorhandig om hulle by te staan in hulle ondersoek. Daar word vermoed dat dit dieselfde groep inbrekers is wat by die verskillende hotelle inbreek. Hierdie beeldmateriaal is ook beskikbaar gestel aan die Zoutpansberger vir publikasie.

“Die polisie plaas dan nie eens die foto’s op hulle interne bord nie, so hoe moet die speurders weet na wie hulle soek? Daarom wil ons hê die verdagtes se gesigte moet so wyd as moontlik versprei word, sodat hulle geïdentifiseer kan word.” het Inga gesê. “Ons het al baie CDs vir die polisie, met die videos op, vir hulle gesny en gaan aflaai by hulle,” het Inga verder gesê.

Daar is egter vanuit polisie- en plaaswaggeledere ‘n versoek gerig aan die koerant om nié die beeldmateriaal te publiseer nie “omdat dit die polisie se ondersoek, wat in ‘n sensitiewe stadium is, kan benadeel.”

Die koerant het by plaaslike wetsgeleerdes raad gevra oor die versoek, en op grond van hulle aanbeveling besluit om die beeldmateriaal in ‘n mate te sensor. Die rede is omdat daar in van die sake ooggetuies is wat dalk later verdagtes moet uitwys in ‘n uitkenningsparade. Dit is die kenners se mening dat, waar die beeldmateriaal die enigste bewys van die inbraak is en geen ooggetuies betrokke was nie, dié video’s gepubliseer kan word sonder om dit te sensor. (Lesers kan na dié video’s gaan kyk op ons webblad by www.zoutpansberger.co.za).

 
 
 

Viewed: 1463

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT