ADVERTISEMENT:

 

 
 

Johan Kirsten (agter, tweede van links) en sy personeel van Ocean Basket in Louis Trichardt het Maandag reeds vroegoggend 67 pakkies vis met slaptjips gepak en by Bergcare afgelaai vir verdere verspreiding. Regs staan Andries Smal van Bergcare. Foto verskaf.

Gemeenskap gee glimlag vir talle op Mandeladag

Date: 22 July 2016 By: Andries van Zyl

Bergcare in Louis Trichardt het op 18 Julie heelwat ekstra harte blygemaak as deel van Mandeladag se 67 minute van diens en uitreik aan die gemeenskap.

Talle instansies het hulle gewig ingegooi agter Bergcare om vanjaar Mandeladag bietjie meer spesiaal te maak vir die dorp se bejaardes en minderbevoorregtes.

Een so ‘n besigheid was Ocean Basket in Louis Trichardt. Johan Kirsten en sy personeel het reeds vroegoggend 67 pakkies vis met slaptjips gepak en by Bergcare afgelaai vir verdere verspreiding. Bergcare het op hulle beurt weer die kospakkies gaan uitdeel aan die inwoners van Laat Lente, Herfsakker en 17 ander behoeftige bejaardes in Louis Trichardt.

Vir jare staan Bergcare ook in beheer van die Tshitandani Kinderhuis in Tshikota. Danksy ‘n groot skenking van houtwerktoerusting van die nie-winsgewende organisasie Save the Children is daar met ‘n projek by die kinderhuis begin waartydens die weeskinders houtwerkvaardighede geleer word. Die probleem was egter dat die kinders nie werksbanke gehad het om op te werk nie. “Lugmagbasis Makhado het ons geskakel en gevra hoe hulle kan betrokke raak by ons Mandeladag-projek. Hulle het toe aangebied om werksbanke te bou en dié is Maandag by die kinderhuis afgelaai,” het Andries Smal van Bergcare gesê.

Buiten vir Save the Children, Ocean Basket en LMB Makhado wat betrokke geraak het by Bergcare se Mandeladag-projek, het die IOM (International Organisation for Migration), Lawyers for Human Rights, Future Families en die Department van Maatskaplikke Ontwikkeling ook die projek ondersteun.

By Tshitandani is die seuns ook ‘n film, God grew tired of us, gewys oor drie Sudanese mans wat uit Sudan gevlug het weens die oorlog. Die drie mans het uiteindelik in Kenia geland, waar hulle deur die Verenigte Nasies gehelp is om na Amerika te gaan. Die film handel oor hul aanpassing in Amerika in ‘n Westerse samelewing, hoe hulle hul tradisies handhaaf en hoe hulle hul families opsoek. Dit het ook gefokus op die konflik wat die mans met die gereg gehad terwyl hulle besig was om te vlug. “Die film het aangepas by die kinders se eie situasie, aangesien baie van hulle vlugtelinge uit Zimbabwe is,” het Andries gesê.

Ná aanleiding van die film het Lawyers for Human Rights met die seuns gepraat oor konfrontasie met die gereg en die kinders se verantwoordelikheid om wetsgehoorsame burgers te wees. “Future Families het op hulle beurt die seuns toegespreek oor dwelmhandel en -misbruik. Elke kind het daarna ‘n skenking van ‘n volledige skooluniform van Save the Children ontvang. IOM het op hulle beurt vir elke kind ‘n geskenkpakkie van onder meer snuisterye, sanitêre ware en ‘n kombers gegee, terwyl die kinderhuis skoonmaakmiddels en kos van die organisasie ontvang het,” het Andries gesê. 

Die kinders is ook die dag met speletjies vermaak, waarna die dag op gepaste wyse afgesluit is met die loslaat van ballone ter nagedagtenis aan Nelson Mandela. “Die kinders was vreeslik dankbaar. Dit was hartroerend om te sien hoe opgewonde hulle was oor klein dingetjies, soos byvoorbeeld toe hulle komberse gekry het. Hulle het almal gejuig daaroor,” het Nadine Smal van Bergcare gesê.

Die besoek aan Tsitandani Kinderhuis was egter nie net ‘n eenmalige 67 minute van diens op Mandeladag nie. Dit was die geboorte van ‘n deurlopende projek. So sal Lawyers for Human Rights deurlopend betrokke wees by die kinders met regshulp ten opsigte van onder meer hul dokumentasie. Future Families begin op hulle beurt met ‘n program oor dwelmgebruik en -misbruik. IOM is ook al vir etlike jare betrokke by die kinderhuis, net soos Save the Children. “Mense moenie elke jaar tot 18 Julie wag om hul 67 minute af te staan om ander mense te help nie. Dit moet iets wees wat mens 365 dae van die jaar leef. Dan eers sal gewone mense daadwerlik ‘n verskil kan maak in die gemeenskap,” het Andries gesê.

Wat betref bogenoemde het Andries mense wat graag wil betrokke raak by die goeie werk wat Bergcare in die gemeenskap doen, uitgenooi om met hom te skakel by tel. 082 899 9543. “So kan hulle deurlopend hulle 67 minute vir die gemeenskap gee,” het hy gesê.

 
 
 

Viewed: 853

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Die weeskinders van die Tshitandani Kinderhuis in Tshikota maak geen geheim van hul absolute blydskap oor die geskenkpakkies en goedere wat hulle en die tehuis ontvang het nie. Die skenkings is moontlik gemaak deur Bergcare se 67 minute vir Mandela-projek Maandag. Foto verskaf.

Hierdie manne van Lugmagbasis Makhado het ook hul gewig ingegooi by Bergcare se Mandeladag-projek deur werksbanke te bou en af te lewer by die Tshitandani Kinderhuis in Tshikota op Mandeladag. Die span van LMB Makhado het bestaan uit lt. kol. Craig Leeson, majoor Jacques Greyling, AO Jan Kunneke, AO Gideon Smit en AO Marius Smit. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT