ADVERTISEMENT:

 

 
 

Tony Strydom (45) van Louis Trichardt is die verlede naweek dood aangetref in die veld, nie ver van sy huis af nie. Foto verskaf.

Dood bly steeds 'n raaisel

Date: 18 July 2016 By: Isabel Venter

Tony Strydom se vrou en kinders is, soos die res van Louis Trichardt, steeds in die duister oor die omstandighede wat gelei het tot sy dood.

Die 45-jarige Strydom se liggaam is Saterdag, 2 Julie, in die veld ‘n ent van sy huis af op die Ridgeway-plotte (aangrensend tot Leeustraat) gevind. Sy twee seuns, Hendrik (23) en Pieter (21), het die betrokke dag op hul pa se liggaam afgekom.

Die Zoutpansberger het hierdie week by die seuns en hul stiefma, mev. Rieta Strydom, ingeloer om uit te vind hoe dit gaan.

Rieta was veral ontsteld oor stories wat regoor die dorp – en selfs so ver as die Vrystaat – die rondte doen dat sy een van die polisie se hoofverdagtes is in hul ondersoek na Tony se moord. “Daar word vir my vertel dat ek hom sou doodgeskiet het vir sy geld ... ek is moeg vir dié stories,” het Rieta gesê. “Nog iemand het uit die Vrystaat gebel en gesê hulle het gehoor dat sy seuns hom doodgeskiet het en wou weet of dit waar is,” het Rieta bygevoeg.

Volgens Rieta het die polisie haar hierdie week ingelig dat die oorsaak van Tony se dood 'n skietwond was. Verlede week was die polisie onseker oor die oorsaak en huiwerig om enige gerugte of inligting rondom die saak aan die media te bevestig. 

Volgens Rieta het die polisie ‘n koeël in Tony gekry, maar dit het glo te veel versplinter om weg te stuur vir enige ballistiese toetse.

Dit wil egter voorkom of die Makhado Polisie op hulle hande sit wat die ondersoek na Tony se dood betref. Volgens Rieta is sy en beide die seuns verlede week elkeen individueel ondervra deur die polisie. Sy het die polisie in kennis gestel dat Tony glo moeilikheid sou gehad het met van die plaaswerkers op die plot. “Tot nou toe is nie een van die werkers ondervra soos ons nie,” het Rieta gesê.

Sedert die nuus van Tony se dood gebreek het, is dit omhul met kontroversie. Strydom het op die dag van sy dood glo gaan teikenskiet met sy vuurwapen op die plot se skietbaan. Pieter het die week aan die koerant bevestig dat die baan deur die omliggende inwoners ook gebruik word. Hy en Hennie het na hul pa gaan soek toe dit begin donker word, en toe op sy lyk afgekom. “Dit was erg,” het Hennie gesê terwyl hy met ‘n ril die herinnering oproep.

Tony het op sy maag in die grond gelê, nie ver van sy bakkie af nie. Hennie sê dit is moeilik om met sekerheid te sê of daar iets waardevols vermis word uit die bakkie. “Ons het net ‘n R100 by my pa gekry. Ons weet hy het vroeër die dag gaan geld trek, maar is nie seker van die bedrag, wat hy daarmee gemaak het en of hy dalk aangeval en dit by hom gesteel is nie,” het Hennie gesê.

Tony se vuurwapen wat hy by hom gehad het, word steeds vermis. Plaaslike polisiewoordvoerder A/O Kedibone Mbatha het Maandag bevestig dat daar wel 'n luggeweer agterin Tony se bakkie gevind is. Mbatha was onwillig om verder uit te brei oor die saak, buiten om te bevestig dat die ondersoek voortduur. 

 

 
 
 

Viewed: 1585

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT