ADVERTISEMENT:

 

 
 

SAPS

Zimbabwiërs steek selle aan die brand uit protes

Date: 18 July 2016 By: Isabel Venter

Die Makhado Polisiestasie moes verlede week inderhaas plan maak met ‘n groep oproerige Zimbabwiërs wat so amper die stasie se aanhoudingselle afgebrand het.

‘n Groep van 40 Zimbabwiërs het verlede Donderdag uit protes besluit om vure aan te steek in die selle. Hulle was die josie in omdat hulle weke moes wag voor hulle terug gedeporteer kan word na Zimbabwe. Die tydperk wat die verdagtes in aanhouding was, het gewissel van tussen een en drie weke.

Die hele groep sou verlede Dinsdag teruggevat word na hul tuisland. Kort voordat hulle sou vertrek, het die koerant verneem, het die plaaslike Departement van Binnelandse Sake (DvB) die deportasiebevel tydelik teruggetrek. Die departement was bekommerd oor die veiligheid by die Beitbrug grenspos, nadat daar die afgelope twee weke hewige protesoptogte daar was.

Die groep was nie hiervoor te vinde nie. Hulle het eers begin met ‘n eetstaking en het toe Donderdag besluit om verdere stappe te neem. Toiletpapier en komberse is gebruik om ‘n vuur binne-in die selle te maak, en die slotte is ook toegeforseer sodat dit nie van die buitekant kon oopsluit nie.

Die Zimbabwiërs se dreunsang kon ver gehoor word, maar dit was nie lank voordat die plaaslike polisie se onluste-eenheid op die toneel was nie. Hulle het die seldeure oopgeforseer, maar nog voor hulle nodig gehad het om verder op te tree, het die groep die aftog geblaas.

Met die ondersoek het die skuldige vinnig na vore gekom. Die man sal nou nog langer in aanhouding moet bly. Hy het Vrydag vlugtig in die Louis Trichardt Distrikshof verskyn op ‘n klag van opsetlike saakbeskadiging. Hy is nie gevra om te pleit nie en sy saak is uitgestel tot 10 Augustus.

Die koerant het verdere navraag gedoen by die DvB en uitgevind dat die plaaslike selle magtiging het om Zimbabwiërs wat wag op deportasie aan te hou. Volgens wet (Suid-Afrikaanse Wet op Immigrasie 13 van 2002) mag buitelanders wat nie die nodige dokumentasie het nie, 30 dae lank aangehou word sonder ‘n lasbrief. Hierna kan die aanhoudingstydperk verleng word tot 90 dae, mits daar goeie en redelike gronde gegee kan word, soos byvoorbeeld in die geval waar die persoon ‘n verdagte of getuie in ‘n misdryf was.

Plaaslike polisiewoordvoerder A/O Kedibone Mbatha het by navraag Maandag die voorval bevestig en bygevoeg dat die selle nie beskadig is nie. Hy het ook bevestig dat die res van die Zimbabwiërs, buiten vir die aangeklaagde, almal Vrydag terug Zimbabwe toe gestuur is.

 

 
 
 

Viewed: 682

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT