ADVERTISEMENT:

 

 
 

Jacques Mouton in aksie tydens die bekenstelling van sy debuut album - Balans - verlede week in Louis Trichardt.

Plaaslike sangtalent Jacques stel sy debuutalbum bekend

Date: 15 July 2016 By: Isabel Venter

Een van Louis Trichardt se eie opkomende sangers, Jacques Mouton, het verlede week sy debuut album bekendgestel met die hou van ‘n spesiale konsert.

Die konsert is aangebied by die Gereformeerde Kerk se Fransie Vermaak Saal, waartydens Jacques liedjies uit sy eie pen gesing het.

Dié album, getiteld Balans, getuig nie net van Jacques se sang- en liedjieskryftalent nie, maar ook van ander versteekte talente in Louis Trichardt. Hennie Prinsloo, ook van die dorp, het Vrydagaand die tromme geslaan, terwyl Waldo Mocke, ‘n ou klasmaat van Jacques en oorspronklik van Pretoria, die baskitaar se snare getokkel het.  

Ander talent van Louis Trichardt wat ‘n bydrae gemaak het tot Jacques se album, was Alicia Prinsloo wat die fotografie hanteer het, Tebogo Moutlana (saksofoon en perkussie) en Petro van Rooyen wat Jacques se agent en bestuurder is, van Stage Redd Productions.

Die liedjies op Balans is almal deur Jacques geskryf en gekomponeer en sluit in Wynandus, Staan in die Land, Hoekom Ek Sal Uithou en Mystery. “Vir meeste van my liedjies delf ek uit my persoonlike ervarings, soos ‘n liefdesteleurstelling of so,” het Jacques verduidelik.

Tydens die konsert het Jacques ook bekendgemaak dat hy in die proses is om ‘n liedjie oor Louis Trichardt te komponeer. Hy het eksklusief, na die konsert, ‘n stukkie van dié nuwe liedjie vir die koerant gesing. 

Die fondse wat Jacques en sy orkes bymekaar gemaak het uit kaartjie en CD-verkope sal hulle gebruik vir hul toer. Hulle het Saterdag twee keer opgetree – eers  in Levubu en toe weer in Louis Trichardt – voordat hulle vertrek het na Polokwane waar hulle by Ballantino’s sou optree. Daarna was dit The Pot and Plow in Haenertsburg, die Bosveld Pub & Grill in Naboomspruit, I-Bar in Pertoria en Cafe Barcelona, ook in Pretoria. (Jacques en die orkes se toer kan gevolg word op hulle amptelike Facebook-blad, getiteld Jacques Mouton Offical).

Vir meer inligting kan Petro ook gekontak word by 079 570 2854.

 

 
 
 

Viewed: 944

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Jacques Mouton met sy orkes tydens die bekenstelling van sy nuwe album, Balans. Agter die tromme is Hennie Prinsloo en op die baskitaar is Waldo Mocke. 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT