ADVERTISEMENT:

 

 
 

Tony Strydom (45) van Louis Trichardt is die naweek dood aangetref in die veld, nie ver van sy huis af nie. Foto verskaf.

Vrae rondom man se dood by skietbaan

Date: 11 July 2016 By: Isabel Venter

Die omstandighede rondom die dood van die 45-jarige mnr. Tony Strydom bly raaiselagtig. Sy liggaam is Saterdagaand in die veld ‘n ent van sy huis af op die Ridgeway-plotte (aangrensend tot Leeustraat) ontdek.

Strydom en sy gesin woon in ‘n huurhuis wat geleë is op die eiendom van Strydom se werkgewer, mnr. Johan Moolman van Louis Trichardt. Strydom se twee seuns, Hendrik (23) en Pieter (21), het Saterdag glo na hulle pa gaan soek toe dit begin donker word en toe op sy lyk afgekom. Strydom sou glo gaan teikenskiet met sy vuurwapen op die plot se skietbaan. Die twee jong mans het Strydom omgedraai op sy rug, en gesien dat hy dood is. Strydom se liggaam was glo nie ver van sy bakkie af nie.

Die oorsaak van Strydom se dood is egter nog ‘n raaisel. Volgens gerugte is Strydom in die rug geskiet, en sy wapen word vermis. Daar was ook hierdie week ander gerugte dat hy moontlik selfmoord kon gepleeg het of dat sy dood ‘n skietongeluk was. Die koerant het betroubaar verneem dat sy vuurwapen vermis word, maar niks van sy persoonlike besittings uit sy bakkie nie.

Hieroor, en oor die presiese oorsaak van Strydom se dood, kon die Makhado Polisie by navraag nie kommentaar lewer nie. Plaaslike polisiewoordvoerder adjudant-offisier Kedibone Mbatha het gesê dit wil voorkom of Strydom deur ‘n onbekende persoon voorgelê is in die bos, en toe oorrompel is. Hy het verder gesê dat Strydom nie enige skietwonde aan sy liggaam gehad het nie, maar wel twee merke – een op sy voorkop en een op sy bors. Daar was blykbaar nog nie sekerheid oor die tipe voorwerp waarmee dit aangerig is nie.

Mbatha was nie bewus van enige vuurwapen wat vermis word en of dit wel deel vorm van die polisie se ondersoek nie.

Die polisie se provinsiale kommunikasiekantoor is ook genader om meer duidelikheid oor die saak te kry. Provinsiale woordvoerder lt-kol. Ronel Otto het bevestig dat die polisie wel ‘n saak van moord ondersoek.

Volgens Otto is daar wel ‘n klein merkie gekry op Strydom se rug, maar dat dit verder ondersoek moet word. Sy het verder bevestig dat die plaaslike ondersoekspan tans wag vir ‘n nadoodse ondersoek om afgehandel te word, wat dan ook meer antwoorde sal gee.

Otto kon nie met sekerheid bevestig of Strydom se wapen vermis word en of daar enige van sy persoonlike besittings is wat van hom of uit sy bakkie vermis word nie.

Strydom was, voor sy afsterwe, werksaam vir Moolman. Volgens Strydom se eggenote, Rieta, is hy sedert 1983 al woonagtig op Louis Trichardt. Strydom is op 1 Desember 1970 in Bethleheum gebore, voor hy later jare saam met sy pa na Louis Trichardt verhuis het en hulle saam vir jare ‘n saagmeule bestuur het. Hy en Rieta is getroud in 2005.

Strydom word oorleef deur Rieta en sy seuns, Hendrik en Pieter. ‘n Roudiens is Donderdag vanuit die Veritas Kerk in Louis Trichardt gehou vir Strydom.

Teen druktyd het die polisie nog gewag op die uitslag van die nadoodse ondersoek en het die ondersoek voortgeduur.

 
 
 

Viewed: 11698

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT